Wednesday, July 29, 2015

Amorgos Eiland. Akrotiri.




28 Julie 2015. Dinsdag.

Katapola tot Akrotiri

Ons verken die Amorgos eiland nou behoorlik, want vandag gaan ons na ’n ankerplek net 4.3 myl vanaf Katapola, Akrotiri, 36°48.469 N, 25°47.109 O.

Ons moet 9 Augustus in Santorini wees om ons vriend, Chris Joubert en sy suster, Zane van Wyk daar te ontmoet. Hulle gaan vir twee weke saam met ons seil. Maja word weer by die eiland, Ios, agtergelaat, want dit is ’n veilige plek om ’n seiljag te los vir ’n paar dae. Ons gaan dan met die veerboot na Santorini, terwyl Chris en Zane soontoe vlieg. So, ons is nou besig om stadig in die rigting van Ios te beweeg.

Ons vaar rustig na Akrotiri, want ons het geen haas nie. Ons anker en is die enigste seiljag wat hier oornag. Dis warm en ons swem in die kristalhelder blou water. Ons is lui en lê en lees en doen eintlik niks nie. Ons is maar net.

Kerkie naby Katapola
Akrotiri Baai
 

Die geblêr van die bokke en die geklingel van hulle klokke is oral te hoor. Ek dink elke bok hier het sy eie klok en saam maak hulle die mooiste bok-klok musiek.

Amorgos Eiland. Busrit.

27 Julie 2015. Maandag.

Toe ons opstaan, is die fees verby. Ek weet nie hoe laat hulle opgehou fees het nie. Die hawe is verlate en net die jagte lê vreedsaam vasgemeer.

Vandag gaan ons bus ry na Langada. Dit is ’n klein dorpie naby Aigialis. Ons klim die bus 09:30 en daar trek ons. Amorgos is ’n ru, amper onherbergsame eiland. Mens kan sien dat die Meltemi die plek soms erg verniel. Sommige van die bome is windskeef gewaai. Die busrit gaan op met die bergpas en dan weer anderkant af. Ruwe kranse en rotse staan afgeëts teen die blou Aegean See. Dis prentjiemooi. 

Uitsig vanuit die bus


Ons klim af by Aigialis, waar ons nou die dag op anker was en wag vir die volgende bus na die dorpie bo teen die berg, Langada. Dis ’n tipiese Griekse chora. Atmosferies en karaktervol. Ons loop in die wit stegies met die helderkleurige vensters en deure. Oral is spierwit kerkies te sien

In hierdie dorpie het domkies nog n belangrike werk om te doen. Hulle is deel van die vervoerstelsel. Goedere word deur donkies op en af gedra. Ewe gedweë doen hulle dan hulle werk..

Langada
Stegie
Unieke skoorsteen
Donkie Sarel


Toe is dit die hoogtepunt, die klein kerkie in die rotse. Ons loop deur die kerkhof om daar te kom. Die mense van vergange se dae lê rustig in hulle grafte. Ons loop op die paadjie en ’n ’n ou dame versorg die kersies en blommetjie by die hek van die kerkie. 


Kerkhof
Kerkie teen die krans
Ou dame


Ons loop verder en maak nog ’n hekkie oop en pak die vertikale trappies na die kerk aan. Dit is spierwit geverf. Die kerkie is baie klein. Jy moet buk anders stamp jy jou kop. Kersies brand in die kerkies. In die Griekse kerkies brand daar altyd kersies.

Paadjie


Van hier bo af het ons ’n pragtige uitsig op die Aegean See. Ek drink dit in en pak die beelde weg in my geheue vir onthou. Aan die onderste punt van die kerkie eet ons ons appels om sterkte te kry vir die afstap na Aigialis. Ons gaan nie die bus klim daarheen nie. Ons stap heerlik op die paadjie en aan ons voete lê Aigialis. 

Aigialis Baai


Ons moet ’n uur wag voordat die bus kom en ons eet ’n gyro by ’n restaurant wat op Aigialis Baai uitkyk.

Die bus kom 14:00 en ons klim. Die pad terug na Katapola is net so mooi. Maja is gelukkig nog veilig, niemand het ons anker opgelig nie.

Katapola