Friday, May 16, 2014

Lefkas. Skuilplek.

15 & 16 Mei 2014. Woensdag & Donderdag.

Die wind waai sonder ophou. Soms sterker, soms sterkste. Dis koud en onplesierig. Die vier vriendelike Skotse Britte langs ons (dis nou die wat
aan die ander bote vasgesit het) gee darem bietjie warmte aan die plek met hulle vrolike lag en gesels, met ons en ook onder mekaar.

Toe ons die moed kry om ons neuse buite Maja uit te steek, gaan ons Lidl toe. Dis 'n supermark wat baie ingevoerde goedere verkoop. En winskopies! Die gemors is net dat dit gewoonlik ver uit die dorp is. Met die rugsakke op ons rugge, sit ons toe af soontoe. Dis 2 km se stap. Maar dit is deur en deur die moeite werd. Ons koop Taramasalata teen 'n goeie prys. Dis 'n pienk slaaismeer wat met viseiers gemaak word. Maggies, dis lekker. Ek dink toe aan ons vriende, Christa en Nick, wat vreeslik daarvan hou. Ons stap die pad terug met ietwat swaarder rugsakke!

"Nee Archie, los!"

Met al die winskopies veilig in die kaste, durf ons die dorp aan. Die hele dorp is ook in die 1953 aardbewing vernietig en is herbou. Om elke hoek en draai loop ons in ons Britte vas. Dan is dit lag en skerts.

Archie en Lefkas Harley!
Straatkafee
Groentewinkel
Grieks-Ortodokse Kerk

Archie loop nooit by 'n bootwinkel verby sonder om in te gaan nie. Die skroewe en goetertjies trek hom soos 'n magneet. Dan koop hy silwer
goedjies met rooi steeltjies, en ander met blou agterkante, swart rubberige goedjies en áltyd skroewe. Hy kyk en snuffel en vroetel met alles in die winkel. Hy wys ewe opgewonde vir my ook van die goed en dan sê ek: "Ja, dit is mooi" of "Wat is dit?"

Ek hou van die toue wat hulle in die bootwinkels verkoop. Dikkes en dunnes en dit kom in allerande mooi kleure. Ek wil altyd net toue koop.
Archie hou ook van die toue, so dit kos selfbeheersing om mekaar nie op te sweep om te koop nie.

Ons dwaal af van die geroesmoes van die hoofstraat en loop in die stegies rond waar die gewone Lefkassers bly.

Wasdag
Huis in 'n stegie

Dit word koud en ons gaan terug Maja toe. Dan begin Archie om alles wat hy gekoop het, te installeer. Dis tools en bore en hy krap die hele boot om. As die ding dan in is, maak hy die huis weer netjies.

Die weer raak beter, maar Gus waai maar een stryk deur. Daar is geen seilbote wat in en uit die marina gaan nie. Almal is in hulle bote en wag op beter dae. Ek weet nou presies waar kom die gesegte, "Ek wag op beter dae" vandaan. Dit kom van seiljagte wat wag dat Gus moet gaan lê, sodat hulle weer op die see kan uitgaan.

Sunny Sailing se charter bote
Lefkas Marina

Gus waai die hele nag en vroegoggend (Donderdag) val daar 'n hengse bui reën.  Dinge lyk darem nou baie beter, veral as jy suid wil vaar, maar ons wil noord vaar. Daar is weer beweging op die water en sommige jagte pak die pad weer aan.

Ek is bly ons vaar nie vandag nie, want ek skuil te lekker!




Wednesday, May 14, 2014

Lefkas. Waai Westewinde waai.

14 Mei 2014. Woensdag.

Tranquil Bay tot Levkas

Die nag waai die wind nie. Ek slaap die hele nag deur. Hy verras ons deur eers die volgende oggend met oorgawe te waai. Oral staan jagte op
anker. Almal draai rondomtalie. Ons kom taamlik naby ons buurboot, maar alles is veilig. Ons anker hou en syne hou.

Ons hoor iemand skree. Agie wat ek is, storm ek dadelik boontoe om te sien wat besig is om te gebeur. Dis twee bote wat teen mekaar skuur. 'n
Man op 'n dingy jaag soontoe uit 'n ander riging en skree: "Wake up, Wake up!" Die kleiner jag se brandwag is dadelik op die dek en probeer die saak red. Die kaptein van die groter jag word eers na 'n ruk wakker van die geskree en hy en sy vrou begin dadelik met regstellende aksie. Anker word opgetrek en die groter jag gee pad en gooi sy anker op 'n ander plek. Sy anker moes gesleep het. Almal is toe éérs op hul hoede.

Skuur teen mekaar

Die groot winde kom eers vanaand en teen 10:45 bedaar Gus se neef bietjie en ons vertrek na Lefkas (38° 49.900 N, 20° 42.748 O), 8.3 myl,
twee ure verder. Die eerste ruk is dit net 'n ligte wind van agter, maar ons en Gus kom toe saam by die Lefkaskanaal aan. Gus kom natuurlik op
sy ou Noord-Weste pad en waai reg in ons gesigte. Dis koud en onplesierig. Ons vaar stadig, met 'n sterk wind van voor,  in die nou kanaal na die marina.

Roeiers in die kanaal

Die vasmeerman wys die plek aan en genadiglik gee Gus ons 'n blaaskans en met net bietjie moeite meer ons vas.

Die Britte kom 'n kwartuur na ons hier aan. Gus is uit sy nate. Hy waai die arme mense teen die bote aan die oorkant vas toe hulle probeer intru
en hulle sit toe vas aan die vasmeertoue. Die hele bemanning stoot en trek, maar verniet. Hulle kom nie los nie. Die vasmeerman spring in sy
rubberbootjie en na 'n gesukkel het hy hulle met sy tou losgetrek. (Michelle, onthou by Murter in Kroasië?). Hulle probeer weer inkom en met hulp van alle kante is hulle uitasem, vas en baie verlig. Hulle kom van Paxos, omtrent 39 myl van hier, om teen die wind te skuil. Sê hulle het gisteraand nie 'n oog toegemaak nie, nagwaak gehou.

Trek los!

Die seiljagorkes tree vanaand in Lefkas Marina op. Vlae wapper, toue klapper, maste roer en raas, windopwekkers draai, jagte skommel en wieg, water klots en Gus huil. Geluide vul die hele marina.

Archie steek sy kop by die deur uit en sy opmerking vat alles saam:" But it is miserable outside!"

Die weer is dik

Tuesday, May 13, 2014

Tranquil Baai. Lefkas Eiland.

13 Mei 2014. Dinsdag.

Kioni tot Tranquil Baai

Die winde van verandering kom môre.

Hier in die Ioniese See, is Gus 'n Noord-Westewind. Hy waai meeste van die tyd uit dié rigting. Die afgelope tyd waai sy neef, die Suidewind, hier.

Môre-aand gaan die winde draai en dan daan Gus sy geregmatige plek weer inneem en hy gaan stormsterk aan die oop see se kant waai. Ons
moet nou koers kies na 'n beskutte plek tussen die eilande waar ons weg is van sy woedende gewaai. Dis waarom ons na Lefkas Marina oppad is, maar vanaand slaap ons in Tranquil Baai oor (38° 42.194 N, 20° 42.758 O). Die naam sê alles.

Ons vertrek 08:30 en die Suidewind waai lekker van skuins agter. Ons span albei seile, en ja Michelle, ons seil toe rêrig. Net met die seile en
nogal vinnig ook, 5.5 tot 6 knope! Dis te heerlik.

"Ja Michelle, ons seil!"

Oral is jagte besig om iewers heen te seil. Almal (die wat weet) met die wete dat hul bestemming genoeg skuiling sal gee, Woensdagnag en veral Donderdag.

Ons seil die grootste deel van die 16.8 myl. Almal seil, dis net wit wapperende seile wat bol in die wind.

Bedrywige besigheid
Kanaal tussen Meganisi- en Lefkas Eilande
Die seile bol
Lefkas Eiland

Ons baai is by die dorpie, Nydri. Dis pragtig hier en wemel van seiljagte wat kom en gaan.

Nydri aan die voet van die berge

Kioni. Ithaki Eiland.

12 Mei 2014. Maandag.

Poros tot Kioni

Ons vertrek uit Poros en vind ons pad na Kioni (38° 26.973 N, 20° 41.468 O) op Ithaki Eiland.

Poros se poort

Daar's geen wind. Dis onheilspellend stil. Gus (die wind) is nêrens te sien nie. Lê seker êrens en onheil uitdink. Daar is hoeka gerugte van winde wat aan die kom is.

Ons prrr-prrr die hele pad. Die sussende geteem van Maja se motor maak ons lomerig en lui. Myl vir myl, knoop vir knoop lê ons die 20 myl af. Die pad voel vreemd eensaam. Ons albei staar oor die waters, ver in die verskiet, besig om gedagteloos te dink, oor iets. Oor niks.

Kioni se kaai kom in sig, en ruk ons terug na die hede.

Kioni 

'n Man staan slaggereed om ons te help en ons meer vas.  Ons gaan stap in die dorpie, as jy dit so kan noem. Dis een van daai plekke wat eintlik nie 'n plek is nie. Daar is meer huise as mense hier, want baie inwoners het na Australië en VSA geimmigreer. Dit het die 1953 aardbewing oorleef en is nou 'n bewaringsgebied.

Ons eie bankie
Kattekaai
'n Egte dokkafee

Die man langs ons praat net wind. Ons moet ons seilprogram aanpas om 'n plek te soek waar ons veilig teen Gus is.

Dis amper volmaan en die maan versamel 'n kring vog om hom. Ons gaan slaap en dit is steeds windstil ...











...

Sunday, May 11, 2014

Poros. Kefallinia

11 Mei 2014. Sondag.

Zakynthos tot Poros

Gelukkige Moedersdag, Ma!

Blomme vir Ma

Ons vertrek 06:20, amper voor hanekraai uit Zakynthos, eers na die Blou Grotte, en daarna na Poros (38° 08.806 N, 20° 46.777 O), op Kefallinia Eiland. Dis 31.1 myl tot daar, sewe ure se vaar.

Stadig klim die son uit die see, glip agter die berg uit en speel wegkruipertjie met die wolke. Hy gooi sy glans oranje-skel oor die water en laat val vlamtonge in die rimpels van die dimpels.

Sonspel

Ons sien iets bruin in die water dryf. Ek sukkel nog om die slaap uit my oë te kry, druk die kersgeskenk-verkyker voor my oë, fokus met inspanning en daar sien ek dit. 'n Tamaai groot skilpad. Op sy eie, alleen. As nou die dag se skilpad Skillie heet, is díé een se naam verseker Skulla. Hy swem rustig, sonder om 'n oog te knip verder. Hy verwerdig hom nie eers om vir ons te skrik of uit te draai nie. Die wêreld en die volheid daarvan, behoort aan Skulla. Ek dink hy is seker nog ouer as my pa.


Skulla


Ek is toe wawyd-wakker en kyk grootoog vir nog skilpaaie, maar sien niks. Dis windstil en ons prrr verder. Die see is so glad soos 'n spieël.

Ons volgende mikpunt is die Blou Grotte. Ons kom daar en dis die mooiste Moedersdaggeskenk wat ek kan kry. Dis oorweldigend mooi. Die water blou, die rotsformasies, wel ek het nou nie eintlik mooi woordjies om dit te beskryf nie. Ek sien net, dis blêrrie mooi. Archie draai om en ons vaar weer verby, net om weer en weer te sien.

Blou Grotte
Blou Grotte

Ons skeur ons met moeite los van die mooi en vaar verder na Poros. Dis 'n lang, amper eensame pad en na 'n ewigheid, kom ons daar aan.

Kefallinia

Daar is reeds twee ander jagte vasgemeer, maar die dieptemeter skree sy hart uit oor die vlakte, eintlik die gebrek aan diepte, van die kaai. Dis egter veilig en ek gooi anker, Archie doen sy ding, die manne op die kaai sit handjie by en ons is vas. Waar's die gesukkel van die ander dag?

Poros
Oppad dorp toe

Daar's alweer gerugte van sterk winde en almal gaan na plekke vir skuiling teen die wind wat Woensdag kom. Kaptein Arch het ook al klaar vir ons 'n ontsnappingsroete uitgewerk en ons sal Dinsdagaand, of Woensdagoggend die skuilplek in Lefkas Marina bereik.




















Saturday, May 10, 2014

Zakynthos. Zante.

10 Mei 2014

Hier in Griekeland weet mens nooit wat die eiland of dorp se naam nou eintlik is nie. Daar is verskillende spellings vir alles. Nou kom ons agter
dat die inwoners eintlik vir Zakynthos, Zante noem. Dus - as ons spelling van 'n plek verskil van jou spelling, weet maar net - dis een van daai
dinge.

Kleurspel

Ons het besluit ons gaan vandag nêrens nie. Ons bly in Zante.

Ons besoek eers die Kasteel. Eintlik nie. Ons loop op boontoe, maar gaan nie in nie, ons loop verder in die bospaadjies langs die kasteel.

Oppad kasteel toe tussen eeu-oue olyfbome

Jy ruik bos en dennenaalde en daar is blommetjies en vlinders. Dis heerlik om daar te stap. Ons kry 'n mooi uitsig van bo af. Doer onder in die baai lê Maja.

Maja lê en wag
Zakynthos van bo

Ons loop terug dorp toe op 'n ander bospaadjie, pure stappers. Pluk sommer vinkel en roosmaryn langs die pad vir ons kruiekas.

Kerk van die Maagd Maria Chrisopygi

Terug by Maja wag daar baie e-pos op ons. Ons is soos opgewonde kinders om dit te lees. Dis lekker om van julle te hoor.

Klink my dit word regtig winter in Suid-Afrika. Ons weet nie eintlik meer wat winter is nie. Net somer al die tyd, of, op die ergste, koelerige lente.

Dis nie altyd maanskyn en rose nie hier by ons nie. Nee, dis strandings, ankers wat gegooi en opgetrek word, koue wind in jou gesig. Maar ek kla nie, ons sien die wonderlikste plekke. En gesels kortstondig met die interessanste mense. En sit sommer so en kyk hoe die lewe voor jou afspeel.

Ons het al klaar weer aangepas in ons boot-lewenswyse. Dis 'n ander lewe, "back to basics". Klere word met die hand gewas. Kos word in
bietjies gekoop. Ons leef in ons kleine Maja. Die eenvoud van ons bestaan is heerlik, anders en sonder luuksheid.

Nou ja, voor ek liries raak, moet ek nou my wasgoed van die draad gaan afhaal.

Friday, May 9, 2014

Zakynthos. Skillie..

9 Mei 2014. Vrydag.

Patra tot Zakynthos (Laaste vier dae)

Ek het heerlik rustig op anker geslaap.

Ons vertrek 07:30 na die dorp Zakynthos op Zakynthos Eiland (37° 47.086 N, 20° 54.087 O), 17 myl. Ons vaar eers rustig in die Skilpadbaai. Miskien is ons gelukkig en sien 'n skilpad. Ons vaar verby 'n snaakse eiland met wasgoed op die lyn?

Wasgoed op die lyn.

Dis nog nie broeiseisoen nie, en skilpad se kind is nêrens te sien nie. Ons verander rigting en die wind is in ons gesigte. Dit is koud en ons panser onsself met warm klere. Ons motor die hele pad teen die wind.

Ons kom nader aan Zakynthos.

Zakynthos

En jou waarlik, daar is Skillie, stoksielalleen in die water, ver van sy huis. Skillie is skaam, want toe ons nader vaar, verdwyn hy in die niet. Maar ons het darem een skilpad gesien.

Waar is die ingang van die hawe? Ons sien dit eers toe ons baie naby is. Ons kry 'n plek langs die kaai tussen twee ander jagte en Arch mik daarheen. Hy kry Maja in die regte posisie. Ek gooi anker. Oeps, die ketting raak op en ons moet optrek. Arch neem weer posisie in. Hy mik en ek druk en daar gaan die anker. Oeps, die ketting raak op en ons moet weer optrek. Ons doen die hele ritueel maar weer en Eureka!, dis suksesvol. My bene voel skoon bewerig. Ons drink toe maar "cold beverages".

Maja - Raai watter een

Zakynthos is in die aardbewing van 1953  totaal vernietig. Hulle het die dorp herbou, maar van die Venesiese geboue is daar min te sien. Dit bly egter 'n gesellige, lewendige dorp, wat veral in die hoog seilseisoen baie bedrywig word.

Ou kerktoring
Kerkmens en kerkklok
Vissersbootjie en nette

Ons sal nie omgee om nog 'n dag hier deur te bring nie.

Thursday, May 8, 2014

Zakynthos. Keri Baai. Dolfyn-Donderdag.

8 Mei 2014. Donderdag.

Ek het gisteraand vir Archie gesê dat ons vir lagterapie moet gaan, want ons lag is weg. Skoonveld.

Ons staan toe maar op en hoop op beter dae. Na 'n koppie boeretroos voel ons amper reg vir die dag. Ons vertrek 08:15, díé keer sonder om te strand, na Keri Baai, op die Zakynthos Eiland (37° 47.086 N, 20° 54.087 O). Dis 27 myl tot daar. Akkurate Archie sê dis eintlik 27.5 myl, 05h42min. Dis 'n broeiplek van waterskilpaaie.

Die see lyk goed, die wind lyk goed, en 'n glimlag pluk-pluk aan ons mondhoeke. Ons span die hoofseil en met 'n ligte wind van agter, motorseil ons die hele pad.

Toe gebeur dit. Ek sien water wat spat en 'n grys kol! Dis 'n dolfyn. Nee, 'n hele klomp. Ek het al gehoor die mense praat van dolfyne wat saam
met die boot swem, maar het gedink dis grootpraat, 'n wolhaarstorie. Glo vir my, dis waar. 'n Stuk of ses swem langs die boot, dan onder en
anderkant uit. Hulle speel met Maja. Links en regs en duik uit die water en dan sierlik terug in die water. 'n Skouspel beter as enige akwarium! Ek jil en gil van plesier. Archie lag. En daar kry ons die lagterapie, aangebied deur die dolfyne. Dis mooier as mooi vir my!


Dolfynduik
Speel met Maja
Kranse naby Porto Roma oppad na Keri Baai

Hulle swem vir lank saam met ons en verskaf die wonderlikste kykgenot. Toe swem hulle weg na êrens in die diepte, weg van ons en Maja. "Spectacular, spectacular."

Ons seil verder, na die baai waar ons moet anker. Dit is net anderkant Marathonisi Eiland met sy mooi kranse en grotte.

Interessante rotsformasies en grotte
Nuuskierige agies
Groot grotte

Daar is geen waterskilpadjies te sien nie, maar ons gee nie om nie. Ons is gelukkig en tevrede.

Keri Dorp

Dis nog nie somer in Griekeland nie. Nee, dis nog koud, maar Archie vang 'n vinnige swem.