Thursday, May 8, 2014

Zakynthos. Keri Baai. Dolfyn-Donderdag.

8 Mei 2014. Donderdag.

Ek het gisteraand vir Archie gesê dat ons vir lagterapie moet gaan, want ons lag is weg. Skoonveld.

Ons staan toe maar op en hoop op beter dae. Na 'n koppie boeretroos voel ons amper reg vir die dag. Ons vertrek 08:15, díé keer sonder om te strand, na Keri Baai, op die Zakynthos Eiland (37° 47.086 N, 20° 54.087 O). Dis 27 myl tot daar. Akkurate Archie sê dis eintlik 27.5 myl, 05h42min. Dis 'n broeiplek van waterskilpaaie.

Die see lyk goed, die wind lyk goed, en 'n glimlag pluk-pluk aan ons mondhoeke. Ons span die hoofseil en met 'n ligte wind van agter, motorseil ons die hele pad.

Toe gebeur dit. Ek sien water wat spat en 'n grys kol! Dis 'n dolfyn. Nee, 'n hele klomp. Ek het al gehoor die mense praat van dolfyne wat saam
met die boot swem, maar het gedink dis grootpraat, 'n wolhaarstorie. Glo vir my, dis waar. 'n Stuk of ses swem langs die boot, dan onder en
anderkant uit. Hulle speel met Maja. Links en regs en duik uit die water en dan sierlik terug in die water. 'n Skouspel beter as enige akwarium! Ek jil en gil van plesier. Archie lag. En daar kry ons die lagterapie, aangebied deur die dolfyne. Dis mooier as mooi vir my!


Dolfynduik
Speel met Maja
Kranse naby Porto Roma oppad na Keri Baai

Hulle swem vir lank saam met ons en verskaf die wonderlikste kykgenot. Toe swem hulle weg na êrens in die diepte, weg van ons en Maja. "Spectacular, spectacular."

Ons seil verder, na die baai waar ons moet anker. Dit is net anderkant Marathonisi Eiland met sy mooi kranse en grotte.

Interessante rotsformasies en grotte
Nuuskierige agies
Groot grotte

Daar is geen waterskilpadjies te sien nie, maar ons gee nie om nie. Ons is gelukkig en tevrede.

Keri Dorp

Dis nog nie somer in Griekeland nie. Nee, dis nog koud, maar Archie vang 'n vinnige swem.

8 comments:

  1. Hi Julle

    'n Op is opper as op as die af baie af was??!!? of eerder, die dolfyne is baie besonders en daardie rotse lyk darm ook nie te k@k nie...

    Lekker seil

    Gerrie

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi.
      Die op was baie opper as wat die af afste was.

      Delete
  2. Hallo!

    Is dit nou nie n wonderlike manier om mens se glimlag terug te kry nie! Wens ek kon die hele dolfyn storie meemaak. En die dolfynfotos is pragtig, sommer so by julle. Mens sukkel mos altyd om hulle afgeneem te kry, en kyk nou net! So ewe swem die tweetjies in gelid langs Maya. En nou weet julle die storie van d dolfyne wat saam met die boot swem en speel is waar. Dit was n groot, en gewaardeerde, geskenk om julle gemoedere weer op te lig.

    Die toeriste foto by die grotte laat my glimlag. n Tipiese ywerige toeris scenario: wen wen situasie - terwyl die boot ou al die pad bank toe lag, geniet elke toeris hom baie ywerig gate uit.

    Eks bly dit was n goeie dag vir julle. Mag die dae wat nou volg, almal goed en vol seen wees.

    Liefde
    Elize xxxx

    ReplyDelete
  3. Dit lyk of julle dag geseend was met mooi gebeure.Die dolfyne is regtig spesiaal en fotos so mooi.Geniet julle volgende spesiale oomblikke.Groete Estherxx

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi.
      Dit was 'n geseënde dag. Die dolfyne se lagterapie het gewerk!

      Delete
  4. Hi Archies, eks groen van jaloesie! Nie oor al julle gesukkel en die gestrandery en die hartkloppings nie, maar DOLFYNE! Ek hoop julle het dit tot in die diepste van julle siele beleef. Sterkte met alles vorentoe, maar dit lyk of julle alles kan hanteer. xxA

    ReplyDelete
  5. Miskien sien jy ook dolfyne. Wie sal weet!?

    ReplyDelete