Tuesday, May 13, 2014

Tranquil Baai. Lefkas Eiland.

13 Mei 2014. Dinsdag.

Kioni tot Tranquil Baai

Die winde van verandering kom môre.

Hier in die Ioniese See, is Gus 'n Noord-Westewind. Hy waai meeste van die tyd uit dié rigting. Die afgelope tyd waai sy neef, die Suidewind, hier.

Môre-aand gaan die winde draai en dan daan Gus sy geregmatige plek weer inneem en hy gaan stormsterk aan die oop see se kant waai. Ons
moet nou koers kies na 'n beskutte plek tussen die eilande waar ons weg is van sy woedende gewaai. Dis waarom ons na Lefkas Marina oppad is, maar vanaand slaap ons in Tranquil Baai oor (38° 42.194 N, 20° 42.758 O). Die naam sê alles.

Ons vertrek 08:30 en die Suidewind waai lekker van skuins agter. Ons span albei seile, en ja Michelle, ons seil toe rêrig. Net met die seile en
nogal vinnig ook, 5.5 tot 6 knope! Dis te heerlik.

"Ja Michelle, ons seil!"

Oral is jagte besig om iewers heen te seil. Almal (die wat weet) met die wete dat hul bestemming genoeg skuiling sal gee, Woensdagnag en veral Donderdag.

Ons seil die grootste deel van die 16.8 myl. Almal seil, dis net wit wapperende seile wat bol in die wind.

Bedrywige besigheid
Kanaal tussen Meganisi- en Lefkas Eilande
Die seile bol
Lefkas Eiland

Ons baai is by die dorpie, Nydri. Dis pragtig hier en wemel van seiljagte wat kom en gaan.

Nydri aan die voet van die berge

Kioni. Ithaki Eiland.

12 Mei 2014. Maandag.

Poros tot Kioni

Ons vertrek uit Poros en vind ons pad na Kioni (38° 26.973 N, 20° 41.468 O) op Ithaki Eiland.

Poros se poort

Daar's geen wind. Dis onheilspellend stil. Gus (die wind) is nêrens te sien nie. Lê seker êrens en onheil uitdink. Daar is hoeka gerugte van winde wat aan die kom is.

Ons prrr-prrr die hele pad. Die sussende geteem van Maja se motor maak ons lomerig en lui. Myl vir myl, knoop vir knoop lê ons die 20 myl af. Die pad voel vreemd eensaam. Ons albei staar oor die waters, ver in die verskiet, besig om gedagteloos te dink, oor iets. Oor niks.

Kioni se kaai kom in sig, en ruk ons terug na die hede.

Kioni 

'n Man staan slaggereed om ons te help en ons meer vas.  Ons gaan stap in die dorpie, as jy dit so kan noem. Dis een van daai plekke wat eintlik nie 'n plek is nie. Daar is meer huise as mense hier, want baie inwoners het na Australië en VSA geimmigreer. Dit het die 1953 aardbewing oorleef en is nou 'n bewaringsgebied.

Ons eie bankie
Kattekaai
'n Egte dokkafee

Die man langs ons praat net wind. Ons moet ons seilprogram aanpas om 'n plek te soek waar ons veilig teen Gus is.

Dis amper volmaan en die maan versamel 'n kring vog om hom. Ons gaan slaap en dit is steeds windstil ...











...

Sunday, May 11, 2014

Poros. Kefallinia

11 Mei 2014. Sondag.

Zakynthos tot Poros

Gelukkige Moedersdag, Ma!

Blomme vir Ma

Ons vertrek 06:20, amper voor hanekraai uit Zakynthos, eers na die Blou Grotte, en daarna na Poros (38° 08.806 N, 20° 46.777 O), op Kefallinia Eiland. Dis 31.1 myl tot daar, sewe ure se vaar.

Stadig klim die son uit die see, glip agter die berg uit en speel wegkruipertjie met die wolke. Hy gooi sy glans oranje-skel oor die water en laat val vlamtonge in die rimpels van die dimpels.

Sonspel

Ons sien iets bruin in die water dryf. Ek sukkel nog om die slaap uit my oë te kry, druk die kersgeskenk-verkyker voor my oë, fokus met inspanning en daar sien ek dit. 'n Tamaai groot skilpad. Op sy eie, alleen. As nou die dag se skilpad Skillie heet, is díé een se naam verseker Skulla. Hy swem rustig, sonder om 'n oog te knip verder. Hy verwerdig hom nie eers om vir ons te skrik of uit te draai nie. Die wêreld en die volheid daarvan, behoort aan Skulla. Ek dink hy is seker nog ouer as my pa.


Skulla


Ek is toe wawyd-wakker en kyk grootoog vir nog skilpaaie, maar sien niks. Dis windstil en ons prrr verder. Die see is so glad soos 'n spieël.

Ons volgende mikpunt is die Blou Grotte. Ons kom daar en dis die mooiste Moedersdaggeskenk wat ek kan kry. Dis oorweldigend mooi. Die water blou, die rotsformasies, wel ek het nou nie eintlik mooi woordjies om dit te beskryf nie. Ek sien net, dis blêrrie mooi. Archie draai om en ons vaar weer verby, net om weer en weer te sien.

Blou Grotte
Blou Grotte

Ons skeur ons met moeite los van die mooi en vaar verder na Poros. Dis 'n lang, amper eensame pad en na 'n ewigheid, kom ons daar aan.

Kefallinia

Daar is reeds twee ander jagte vasgemeer, maar die dieptemeter skree sy hart uit oor die vlakte, eintlik die gebrek aan diepte, van die kaai. Dis egter veilig en ek gooi anker, Archie doen sy ding, die manne op die kaai sit handjie by en ons is vas. Waar's die gesukkel van die ander dag?

Poros
Oppad dorp toe

Daar's alweer gerugte van sterk winde en almal gaan na plekke vir skuiling teen die wind wat Woensdag kom. Kaptein Arch het ook al klaar vir ons 'n ontsnappingsroete uitgewerk en ons sal Dinsdagaand, of Woensdagoggend die skuilplek in Lefkas Marina bereik.




















Saturday, May 10, 2014

Zakynthos. Zante.

10 Mei 2014

Hier in Griekeland weet mens nooit wat die eiland of dorp se naam nou eintlik is nie. Daar is verskillende spellings vir alles. Nou kom ons agter
dat die inwoners eintlik vir Zakynthos, Zante noem. Dus - as ons spelling van 'n plek verskil van jou spelling, weet maar net - dis een van daai
dinge.

Kleurspel

Ons het besluit ons gaan vandag nêrens nie. Ons bly in Zante.

Ons besoek eers die Kasteel. Eintlik nie. Ons loop op boontoe, maar gaan nie in nie, ons loop verder in die bospaadjies langs die kasteel.

Oppad kasteel toe tussen eeu-oue olyfbome

Jy ruik bos en dennenaalde en daar is blommetjies en vlinders. Dis heerlik om daar te stap. Ons kry 'n mooi uitsig van bo af. Doer onder in die baai lê Maja.

Maja lê en wag
Zakynthos van bo

Ons loop terug dorp toe op 'n ander bospaadjie, pure stappers. Pluk sommer vinkel en roosmaryn langs die pad vir ons kruiekas.

Kerk van die Maagd Maria Chrisopygi

Terug by Maja wag daar baie e-pos op ons. Ons is soos opgewonde kinders om dit te lees. Dis lekker om van julle te hoor.

Klink my dit word regtig winter in Suid-Afrika. Ons weet nie eintlik meer wat winter is nie. Net somer al die tyd, of, op die ergste, koelerige lente.

Dis nie altyd maanskyn en rose nie hier by ons nie. Nee, dis strandings, ankers wat gegooi en opgetrek word, koue wind in jou gesig. Maar ek kla nie, ons sien die wonderlikste plekke. En gesels kortstondig met die interessanste mense. En sit sommer so en kyk hoe die lewe voor jou afspeel.

Ons het al klaar weer aangepas in ons boot-lewenswyse. Dis 'n ander lewe, "back to basics". Klere word met die hand gewas. Kos word in
bietjies gekoop. Ons leef in ons kleine Maja. Die eenvoud van ons bestaan is heerlik, anders en sonder luuksheid.

Nou ja, voor ek liries raak, moet ek nou my wasgoed van die draad gaan afhaal.

Friday, May 9, 2014

Zakynthos. Skillie..

9 Mei 2014. Vrydag.

Patra tot Zakynthos (Laaste vier dae)

Ek het heerlik rustig op anker geslaap.

Ons vertrek 07:30 na die dorp Zakynthos op Zakynthos Eiland (37° 47.086 N, 20° 54.087 O), 17 myl. Ons vaar eers rustig in die Skilpadbaai. Miskien is ons gelukkig en sien 'n skilpad. Ons vaar verby 'n snaakse eiland met wasgoed op die lyn?

Wasgoed op die lyn.

Dis nog nie broeiseisoen nie, en skilpad se kind is nêrens te sien nie. Ons verander rigting en die wind is in ons gesigte. Dit is koud en ons panser onsself met warm klere. Ons motor die hele pad teen die wind.

Ons kom nader aan Zakynthos.

Zakynthos

En jou waarlik, daar is Skillie, stoksielalleen in die water, ver van sy huis. Skillie is skaam, want toe ons nader vaar, verdwyn hy in die niet. Maar ons het darem een skilpad gesien.

Waar is die ingang van die hawe? Ons sien dit eers toe ons baie naby is. Ons kry 'n plek langs die kaai tussen twee ander jagte en Arch mik daarheen. Hy kry Maja in die regte posisie. Ek gooi anker. Oeps, die ketting raak op en ons moet optrek. Arch neem weer posisie in. Hy mik en ek druk en daar gaan die anker. Oeps, die ketting raak op en ons moet weer optrek. Ons doen die hele ritueel maar weer en Eureka!, dis suksesvol. My bene voel skoon bewerig. Ons drink toe maar "cold beverages".

Maja - Raai watter een

Zakynthos is in die aardbewing van 1953  totaal vernietig. Hulle het die dorp herbou, maar van die Venesiese geboue is daar min te sien. Dit bly egter 'n gesellige, lewendige dorp, wat veral in die hoog seilseisoen baie bedrywig word.

Ou kerktoring
Kerkmens en kerkklok
Vissersbootjie en nette

Ons sal nie omgee om nog 'n dag hier deur te bring nie.

Thursday, May 8, 2014

Zakynthos. Keri Baai. Dolfyn-Donderdag.

8 Mei 2014. Donderdag.

Ek het gisteraand vir Archie gesê dat ons vir lagterapie moet gaan, want ons lag is weg. Skoonveld.

Ons staan toe maar op en hoop op beter dae. Na 'n koppie boeretroos voel ons amper reg vir die dag. Ons vertrek 08:15, díé keer sonder om te strand, na Keri Baai, op die Zakynthos Eiland (37° 47.086 N, 20° 54.087 O). Dis 27 myl tot daar. Akkurate Archie sê dis eintlik 27.5 myl, 05h42min. Dis 'n broeiplek van waterskilpaaie.

Die see lyk goed, die wind lyk goed, en 'n glimlag pluk-pluk aan ons mondhoeke. Ons span die hoofseil en met 'n ligte wind van agter, motorseil ons die hele pad.

Toe gebeur dit. Ek sien water wat spat en 'n grys kol! Dis 'n dolfyn. Nee, 'n hele klomp. Ek het al gehoor die mense praat van dolfyne wat saam
met die boot swem, maar het gedink dis grootpraat, 'n wolhaarstorie. Glo vir my, dis waar. 'n Stuk of ses swem langs die boot, dan onder en
anderkant uit. Hulle speel met Maja. Links en regs en duik uit die water en dan sierlik terug in die water. 'n Skouspel beter as enige akwarium! Ek jil en gil van plesier. Archie lag. En daar kry ons die lagterapie, aangebied deur die dolfyne. Dis mooier as mooi vir my!


Dolfynduik
Speel met Maja
Kranse naby Porto Roma oppad na Keri Baai

Hulle swem vir lank saam met ons en verskaf die wonderlikste kykgenot. Toe swem hulle weg na êrens in die diepte, weg van ons en Maja. "Spectacular, spectacular."

Ons seil verder, na die baai waar ons moet anker. Dit is net anderkant Marathonisi Eiland met sy mooi kranse en grotte.

Interessante rotsformasies en grotte
Nuuskierige agies
Groot grotte

Daar is geen waterskilpadjies te sien nie, maar ons gee nie om nie. Ons is gelukkig en tevrede.

Keri Dorp

Dis nog nie somer in Griekeland nie. Nee, dis nog koud, maar Archie vang 'n vinnige swem.

Wednesday, May 7, 2014

Kyllini. Springhase.

7 Mei 2014. Woensdag.

Vandag is dit stemdag in Suid-Afrika. Lekker stem!

"Ons vir jou, Suid-Afrika"

Ons staan op. Vandag is dit hoe ek nié daarvan hou nie, die wind waai en die see is rof. Ons foon is stukkend en ons gaan vir 'n paar dae anker. Dis belangrik om die weer- en windvoorspellings op internet te kry, ons móét 'n foon koop.

Daar is geen selfoonwinkel in Kyllini nie en ons moet 'n bus neem na Lehema. Ons mis die 09:30 met sekondes, ons sien hoe hy wegry. Ons wag vir die volgende bus wat 12:15 vertrek. Intussen stem almal wat mag in Suid-Afrika laat dit bars.

Die busrit duur omtrent twintig minute, toe is ons daar, voor die Vodafone winkel. Daar is 'n foon soos Archie s'n, maar dit moet bestel word. Dit sal drie dae neem. Ons loop na die volgende selfoonwinkel, "Wind". Geen foon wat ons wil hê nie. Gaan na die derde winkel toe, Germanos. Daar is toe jou waarlik 'n foon. Ons huiwer nie, ons koop.

Ons gaan vinnig terug Vodafone winkel toe, want hy maak 14:00 toe en die vrou moet ons help om ons Vodafone databondel te installeer. Dit gaan sukkel-sukkel en sy roep klientedienste se hulp in. Hulle sal terugskakel. Dis later al 14:00, sy moet toemaak en bank toe, maar ons wag vir klientedienste se oproep. Sy los ons in die winkel en hardloop gou bank toe. Ons is nou wel Suid-Afrikaners, maar ons is nie lus om iets te steel nie. Sy is sommer gou terug. Die dienste mense bel en na vreemde tale, die gedruk van talle knoppies en baie vrae en antwoorde is ons geholpe en kom op die 15:20 bus terug huis toe, gewapen met nuwe foon en internet.

Ons voel deesdae soos hekkiesatlete op 'n hindernisbaan. Ons moet soos springhase oor al die hindernisse spring. Ons is moeg gespring.

Maja by Kyllini se kaai

Kyllini. Gestrand.

 Mei 2014. Dinsdag.

Ons het skaars begin seil, en ons is al klaar deurmekaar met die dae. Maandag voel soos Sondag, Dinsdag is Maandag. Wel, vandag is toe Dinsdag en ons vertrek lekker vroeg, 06:15 na Kyllini (37° 56.134 N, 21° 08.196 O). Dis ver soontoe, 38 myl. Maja is nog vas met al Benito se ekstra toue, en dis omtrent 'n storie en 'n half om alles los te kry en netjies op die kaai vir hom te los. Hier in Griekeland sal hulle dit nie sommer steel nie.

Grasieuse Kaptein

Die kaptein seil met grasie uit die marina, oppad na die 2014 se avontuur. Dis windstil en die see is lekker plat, net soos ek daarvan hou. Maja prrr ritmies voort. Kort voor lank is Patra, ons huis vir'n hele week, net 'n mistige berg met 'n hoed op.

Totsiens Patra
Roetebeplanning

Ons gaan om die draai (as mens dit so kan noem, want dit neem ure om om die draai te kom) en daar is 'n ligte windjie van skuins agter en Archie is lus vir seil span en ons span die hoofseil. Toe motorseil ons verder vir 'n lang tyd. Dis nie eintlik mooi hier nie, dit is net ons stopplek vir die nag en die roete om ons by die eiland Zakynthos te bring.

Kaptein en sy seil

Stadig maar seker nader ons die kaai van Kyllini. Ons maak gereed. Die seil word ingetrek, fenders word uitgehang, die anker word gereed gekry. Ons is senuweeagtig, want ons het lank gelede op die Griekse manier vasgemeer. Dit werk mos nou weer so - jy kry die boot in posisie, gooi anker en tru na die kaai. Die anker moet byt en Maja moet na genoeg aan die kaai wees vir Archie om soos 'n springbok af te spring, ek vat helm (stuurwiel) oor en Arch maak vas. Ek voel nou lighooftig.

(As ek praat van " die boek", praat ek van die "Greek Waters Pilot" waarsonder jy nie kan seil nie. Dit gee jou die dieptes en rotse en gevare en alles wat jy nodig het om veilig te seil).

Kyllini

Die boek sê dis vlak, maar noem dit nie as 'n gevaar nie, so ons vaar nader. Daar's 'n groot oranje boei in die water wat die boek nie eers noem nie. Watter kant moet ons gaan? Links of regs? Ons besluit links.

Die  #%@&#  drom!

Archie ry baie stadig en versigtig. Die dieptemeter begin te piep-piep-piep. Dit beteken daar is nog 'n meter water onder die kiel. Wel, die volgende oomblik steek Maja in haar spore vas en ons strand, vier voet vas in die sand. Ek gee 'n gil dat die kranse antwoord gee. Archie sit vir Maja dadelik in tru en gee vet. En genade op genade, ons beweeg agteruit! Jy sien net 'n groot bruin kol in die water soos arme Maja stof opskop. Ek kyk mooi  met my polarized bril en sien al die kolle sand onder die water.  'n Seiler en sy vrou op die kaai  beduie vir ons die regte pad (regs van die boei) en ons vaar die hawe binne met broeke wat bewe en wit gesigte en klem in die kaak.

Ons gooi anker en tru en hulle vang die toue en vas is ons.

Ek en Archie was altwee 'n bietjie stomgeslaan, woordeloos en baie moeg. Ons het groot geskrik en dis glad nie lekker om te strand nie!

Na 'n 7h42min, 'n lang dag, 'n groot skrik het alles tog goed afgeloop en ons is veilig in die hawe.  Met 'n bietjie skande, maar sonder skade word ons wys. Al julle outjies wat kom saam seil - moenie kom sonder julle polarized brille nie! "You will be put upfront, to con the way in..."

Die drol in die drinkwater is dat ons selfoon se hart met die stranding gaan staan het en nou het ons geen internet nie.











Monday, May 5, 2014

Patra. Uiteindelik gereed

5 Mei 2014. Maandag.

Jammer, geen foto's vir vandag nie. Hier is niks meer in Patra om af te neem nie. Ek het al begin dink ons gaan op Patra aftree. Ons is nou al 'n
week hier!

Ons het vandag 'n nuwe Dinkie gekoop. Dis nou vir al ons uitgelese gaste wat vanjaar by ons kom kuier. Hulle moet darem in styl vervoer word!

Al die papierwerk is nou uitgesorteer, so môre kies ons die hasepad. Ek en Archie is ewe benoud, want ons het die tyd in Suid-Afrika, op droë
grond, verleer om te seil.

Hulle voorspel gelukkig mooi weer vir môre, want "The road is long...", omtrent 38 km. Maar nou moet ons gaan inkruip, want môre wil ons
06:00 vertrek.

Sunday, May 4, 2014

Patra. Ancient Olympia.

4 Mei 2014. Sondag.

UNESCO Wêrelderfenisgebied, Ancient Olympia,  is net twee busritte vanaf Patra, so dis niks minder as reg dat ons die 6:45 bus klim na Pyrgos toe nie. Dis twee ure se ry tot daar en ons wag toe tot 10:30 om die volgende bus te klim na Ancient Olympia. Na 45 minute is ons daar.

Ons gaan dadelik na die Argeologiese terrein.

Die toevlugsoord by Olympia het floreer vanaf die 10de eeu v.C. tot 426 n.C., die jaar waarin Keiser Theodosius II al die antieke toevlugsoorde gesluit het. Dit was 'n belangrike godsdienstige, kulturele en sport sentrum.

Die eerste geboue is reeds in die 7de-6de eeu v.C. opgerig en is opgedra aan die god, Zeus.

Die eerste Olimpiese spele is so vroeg as die 8ste eeu al gehou en daarna elke vier jaar. Die deelnemers moes egte, vrygebore Grieke wees. Die wenners is gekroon met 'n krans bestaande uit takke van die wilde olyfboom wat naby die tempel van Zeus gegroei het.

Nadat die "heidense" godsdienste onderdruk is, het die Olimpiese Spele, wat vir twaalf eeue floreer het, in onbruik geval.

Dis ondenkbaar dat die kolomme en reste van die ou geboue so oud kan wees. Ons staan verstom oor die wonder daarvan.

Ek by die Werkswinkel van Pheidias
Antieke kolomvoetstukke
Die Leonidaion, gebou in 330 v.C., as gastehuis
Die Tempel van Zeus, gebou tussen 470 en 456 v.C. Die standbeeld van Zeus, een van die sewe wonders van die antieke wêreld, was hier gehuisves

Die Stadion was 212.54 m lank en 28.50 m wyd. Daar was geen sitplekke nie en die skare het om die stadion op die gras gesit. Daar was plek vir 45 000 mense.

Ingang tot die Stadion
Die Olimpiese Stadion - atletiekbaan  

Die Tempel van Hera. Die moderne Olimpiese fakkel word hier aangesteek
Die Philippeion
Die Philippeion
Die Palaestra, waar die atlete geoefen het

Dit voel vir my of ek nou 'n skooltaak gedoen het!