Saturday, August 24, 2013

Mooi Griekeland! Dag 118.


23 Augustus 2013. Vrydag.


Sarande tot die dorp Corfu (Kerkira)
Vaarwel Albanië! Vandag is dit Griekeland!

Ons vetrek 08:15 vanaf Sarande, na 'n baie warm, sweterige nag. Ons het al geslaap, toe van die ander bootmense ons in die nag wakker roep om te sê hulle het 'n muis naby ons boot gesien en dat ons al ons vensters moet toemaak. Toe slaap ons verder in 'n sauna.

Ons vaar uit die hawe en ek ry oor 'n visserman se merkertou in die water. Natuurlik haak dit vas aan die boot. Dadelik sit ek die motor af en Archie bekyk die besigheid. Jy wil nie 'n tou in jou propeller hê nie. Arch kry toe maar die snorkel en hy kry 'n onverwagse vroegoggend swem toe hy moet kyk wat onder Maja se pens aangaan. Die tou het aan die kiel vasgehaak en toe om die propeller gedraai. Gelukkig was dit 'n dun tou, niks skade nie en Archie onthaak dit.

Ons vaar verder. Die deinings wieg ons heen en weer. Ons vaar deur die kanaal na die dorp Corfu (Kerkira) (39° 37.497 N, 19° 55.687 O), 16 myl. Die Griekse eilande lyk maar net soos enige ander eiland. Niks besonders nie. Ek voel amper effens teleurgesteld. Ek weet nie eintlik wat ek verwag het nie.

Oppad na Corfu (Corfu Eiland in agtergrond)



Ons vaar op heerlike plat water na Mandraki hawe, tuiste van Corfu Sailing Club. Ek hoop ons kan daar plek kry.

Mandraki hawe en die ou fort
Corfu
Nuwe fort (ook baie oud)


Ons kom nader en ek roep op die radio, kanaal 68. En daar is plek! Die man sê ons moet snoet eerste vasmeer. Dit het ons nog nooit gedoen nie. Ek moet inderhaas toue voorberei en vorentoe neem. Die vasmeerman staan gereed met die vasmeertou (agtertou) en ek gooi vir hom die snoettou. Hy maak ons vas en ek vat sy tou agtertoe. Die tou lol en Archie kom help. Hy trek met mening en ons is vas, sonder veel drama.  Dis warm en bedompig en toe word ons dors. Ons geniet dadelik ons "cold beverages" soos altyd.

Mandraki hawe is onder die steil mure van die ou fort geleë.  Ander toeriste betaal €4 om die fort te verken, ons bly daar! Dis ook net 'n kort stappie deur die fort, dan is jy in die middel van die ou dorp.

Mandraki onder die mure van die ou fort
Ons moet deur die fort stap om by Maja uit te kom


Ons moet nou aan Maja se snoetkant (voor) oor die anker klouter om van die boot af te kom. So gesê, so gedaan en ons stap dorp toe om al die formaliteite (doeane, paspoortbeheer en hawemeester) af te handel. Dis 'n lang stap, want hulle is by die kommersiële hawe. Toe is die dorp ons s'n. Ons is in 'n vrolike stemming, veral ek. Dis heerlik in Corfu. 

Klouter by Maja se snoet af



Corfu is ook op UNESCO se lys van wêrelderfenis. Dis pragtig en wemel van toeriste. Die aand gaan ons na 'n opelug musiekuitvoering. Díé plek het atmosfeer!

Ek is gelukkig en tevrede want ...

... dit is ons uitsig van Maja se dek
Published with Blogger-droid v2.0.10

Thursday, August 22, 2013

Geen woorde. Dag116

21 Augustus 2013. Woensdag.

Orikum Marina tot Sarande


Dit is net stil in my. Ek het geen woorde nie, net verligting en dankbaarheid. Ons is hier in Sarande, 61 myl verder en 12h32min later.

Sonop - twee ure na vertrek
Oggendskoot - Visvang
Oppad - Vistrailer
Oppad - Bergagtige kuslyn
Oppad - Berge is tot 2000 m hoog
Aankoms in Sarande


Ek het nou die koesterende teenwoordigheid van my lawaaierige familie nodig.

Maar gelukkig is Archie darem hier...

Published with Blogger-droid v2.0.10

Tuesday, August 20, 2013

Taksi na Berat. Dag 115

20 Augustus 2013. Dinsdag.


So vat ons toe mos 'n taksi die binneland in, Berat toe. Die boek sê Berat se kasteel  is eintlik die hoogtepunt van jou Albaniese vakansie. Ek en Archie is toe stiptelik 09:00 by die hek om ons taksi teen €60 te kry. Die bestuurder lyk betroubaar en sy Mercedes is nie vol duike nie. (Die meeste mense in Albanië ry 'n Mercedes). Hy groet vriendelik en ons klim, Archie voor en ek agter. En hy vat die pad.

As ek sê hy vat die pad, bedoel ek dat hy die pad vat asof dit aan hom behoort. Hoe verder hy ry, hoe meer raak dit vir my duidelik: ons het hier te doen met 'n jaagduiwel! Daai man het geen bang haar op sy kop nie. Hy steek verby, al kom motors van voor af. Hy jaag. Hy toet. Ek voel soos 'n insittende wat in 'n padongeluk betrokke gaan raak.

Dis 'n nagmerrierit van twee en 'n half uur, op smal paaie in besige verkeer. Sekere dele van die pad lyk erger as die pad van Vereeniging na Potchefstroom, na etlike reënstorms! Ek voel amper om te begin sing!

Ons kom nader aan Berat. Dit beter goed wees, na al die moeite en verdriet. Die dorp lyk maar soos 'n doodgewone, vuilerige Albaniese dorp. Ons jaag voort, kasteel toe. Ek maak my klaar vir 'n lang op stap, want die kasteel sit mos gewoonlik op 'n heuwel. Ons ry aan en aan en vir die eerste keer in my lewe, word ek na die poorte van 'n kasteel aangery.

Hoofingang
Hoofingang


Ons klim uit en ons betaal die fooi. Die kasteel van Berat is een van die grootste kastele in die Balkan. Dis indrukwekkend, maar baie verwaarloos. Onkruid groei orals, rommel word gestrooi. Agter sommige van die mure, is groot vullishope.

Uitsig oor vallei
Kerkie net buitekant die mure
'n Ander ingang met kerkie aan regterkant


Die kasteel en oudorp is op UNESCO se lys van wêrelderfenisgebiede. Dis 'n jammerte dat so 'n juweel nie versorg word nie. Die kasteel het 'n baie lang geskiedenis wat voor Christus reeds begin.

Ondergrondse watertenk
Mure


Ons geniet dit tussen die ou mure en stegies. Die klippiesstrate is seepglad en jy moet mooi trap. Oral woon mense.

Ou boogingang


Ons gaan eet tradisionele Albaniese kos. Veral die byrek (deeg wat met kaas gevul is) was heerlik. Ons eet ook kanelloni en okra. Nadat die innerlike verkwik is, begin ons die terugtog.

Die bestuurder is bly om ons te sien. Ons klim en verwag die ergste. Díé keer is daar baie minder verkeer en dis glad nie so erg nie, al jaag hy nog. Ons is 16:00 terug by Maja.

Vanaand gaan ons vroeg slaap, want môre is weer een van daai lang dae ...

Published with Blogger-droid v2.0.10

Monday, August 19, 2013

Dankie tog! Dag 113.

18 Augustus 2013. Sondag.


Durrës tot Orikum


Dis weer sukke tyd! Ons het 'n lang dag vandag. Ons gaan na Marina Orikum, naby Vlore (48º 20.356 N, 19º 28.417 O).

Ons staan 03:45 op, kry alles reg en 04:10 is Maja, vreeslik vuil, los en ons is reg (eintlik nie reg nie) vir die donker uitgang uit die hawe. Dis baie donker en ons moet vir die ligte kyk om te weet waar die skeepswrak en rotsriwwe is. Ons vaar in die kanaal wat met rooi en groen ligte aangedui word. Dis nogal verwarrend, veral met skepe wat op anker staan met ligte aan en die dorp se ligte aan die oorkant van die baai. 

Ons kom deur die kanaal en ons moet kyk vir ander seeverkeer. Dit voel of die nag nooit in dag wil verander nie. Dis vreemd om so te vaar terwyl jy niks sien nie. Maar daar is later tog 'n pienk skynsel wat sê die dag kom. Ons is dankbaar toe ons weer kan sien.

Uiteindelik - ons kan weer sien


Daar is deinings op die see, maar heel hanteerbaar vir my (Archie kan alles hanteer). Dankie tog Gus is moeg, hy lê en dis heerlik. As Gus lê, word die see nie groter nie. Dis net Maja se motor wat hipnoties prrr, vinniger as gewoonlik, want ons het 'n lang pad, 60 myl.

Snaakse kus, die van Albanië. Jy moet omtrent 2 tot 3 myl weg wees van die land, want die water is baie vlak. Die water lyk ook anders. Daar is baie sandbanke onder die watervlak.

Vlak water, diep water
Plat wêreld

Ons vaar rustig, skommel liggies heen en weer. Dis net so nou en dan dat daar 'n ou grote kom en ons baie laat kantel.

Later, teen 13:30 word Gus wakker. Dankie tog, hy waai van agter en ons span die genoa. Archie verminder die motor se rewolusies, maar ons hou ons spoed met Gus se vriendelike hulp.

Hoe anders is vandag nie! Die see is nie so ongemaklik nie. Jy hoef nie heeltyd te konsentreer of sing nie. Jy kan rondbeweeg op Maja, al moet jy vashou. Jy hoef nie aan alles vas te klou nie, jou spiere kan ontspan.

Orikum is in sig


Na amper 12 ure op die see, kom ons by Marina Orikum aan. Die agent wag vir ons, help ons vasmeer en vat die bootpapiere. Archie gaan na die kantoor en alles is gou afgehandel.

Marina Orikum
Vol kaai

Ek sê weer: "Dankie tog!"
Published with Blogger-droid v2.0.10

Tirana. Dag 112

17 Augustus 2013. Saterdag.


WAARSKUWING: Van die foto's is nie vir sensitiewe kykers nie (PG)


Ons gaan vandag Tirana toe, die hoofstad van Albanië. Dis in die binneland. Ons klim die 08:00 bus en daar trek ons. Dis 'n uur se ry, al is dit net 35 km tot daar.

Daar is 'n paar besieningswaardighede wat ons besien. Die Et'hem Bey Mosque is een van die oudste geboue in die stad. Dit is gelukkig nie vernietig in die "atheism compaign" van die laat 1960's nie. Daar is ook baie standbeelde van ooms wat belangrik was.

Et'hem Bey Mosque
Muurskildery in moskee
Standbeeld van die nasionale held, Skanderebeg 
Standbeeld van die "Unknown Partisan"


Maar ons is eintlik oppad na Mt Dajti National Park, berge toe, 1200 m hoog! Ons klim weer 'n bus en ry na Porcelani, die naaste busstop aan die kabelspoorstasie na die park. Ons klim af en 'n baie vriendelike Albaniese meisie wys ons die pad verder na die kabelspoorstasie. Sy praat ook goeie Engels en ons gesels soos wat ons loop.Die kabelkar maak dit maklik om in die hoë berge te kom. Dit is 'n 15 min rit oor plase, heuwels, kranse, bome en bunkers, wat in die oorlogtyd gebou is.

Kabelspoor


Die bunkers is gebou van 1950 tot 1985 tydens Enver Hoxha se regime. Daar word beweer dat dit onmoontlik is om te vernietig, selfs 'n aanval deur 'n tenk sal dit niks maak nie. Om die feit te bewys, het die ingenieur binne-in gestaan, terwyl dit deur 'n tenk gebombardeer was. Die bunker het ongeskonde bly staan en duisende is gebou.

Archie ondersoek Enver Hoxha se "konkreet nalatingskap"


Na die kabelkarrit is ons bo. Dis heerlik in die berge. 'n Gratis taxi neem ons na die Panarama Restaurant, waar ons middagete gaan eet. Ek bestel geroosterde lam en die Engelse Archie bestel skaapkop.

Uitsig oor Tirana
Panorama Restaurant


Terwyl ons nog aan ons rooiwyn teug, kom ons kos. Die oorlede lam kyk en grinnik vir Archie. Maar dié Engelsman doen goed. Hy sê daar is soveel verskillende teksture. Hy verwys natuurlik na die breins (wat hy bedrup met vars suurlemoen), die wange ("dis lekker"), die oog ("come lamb, part with your eye"), verhemelte (hy giggel en ek gril), die tong en al die ander flentertjies vleis. Hy geniet dit vreeslik. Gryp tot later die kop met die hand. Dis iets wat hy nie doen nie, want hy is een van daai Engelse wat bene met 'n mes en vurk afeet.

Skaapkop
Uit met die oog!


My lam is net so lekker en ek het lanklaas so lekker geëet. Na middagete stap ons die 1,2 km terug na die kabelkar en pak die terugtog aan. Ons kom 17:00 by die graandok aan, moeg en tevrede.

Ek hou van die vaste aarde, maar môre is dit weer 61 myl op see...

Published with Blogger-droid v2.0.10

Durrës. Dag 111.

16 Augustus 2013. Vrydag.


Durrës is maar net 'n hawedorp. Ons bly in die hawe, alongside langs die graandok. Daar lê graankorrels rond en dit beteken daar is rotte. En ek wil geen rot op Maja as passasier hê nie, dankie!

Archie bak pannekoek vir ontbyt (wat 'n goeie vangs was hy) en ons eet dit rustig. Later gaan ons dorp toe, nadat al die vensters sorgvuldig toegemaak is. Durrës bied nie veel vir toeriste nie. Ons loop langs die see, 'n snaakse vlak see.

Langs die seefront


Die ure van die dag glip traag verby, maar dit pas ons soos 'n handskoen. Dis ons rusdag na gister. Ons eet middagete by 'n restaurant en gaan later terug hawe toe. Die dokke is nou ons woonplek.

Archie in die strate
Wie is dit (langs my)?
Vryheidsvegter


Die aand is ons weer in die dorp. Dis Vrydagaand en die hele Durrës is op straat. Hulle vermaak hulle met 'n kerkbasaar-tipe tombola, swaanvang, skyfskiet en nog meer. Vir die jongklomp is daar swaaie en die "merry go round", soos wat ons dit as kinders genoem het.

Ons laat die miernes agter en gaan na die rustigheid van Maja langs die graandok. Ons maak weer seker al die vensters en gate is dig toe. Rot se kind is nie welkom nie.

Maja was nog nooit so vuil nie.
Published with Blogger-droid v2.0.10

Friday, August 16, 2013

Lang dag 110

15 Augustus 2013. Donderdag.

Bar tot Durrës


Dit begin so. Ons verslaap. Die selfoon is gestel vir 03:00. Archie vra my hoe laat dit is. Ek kyk en sit penorent. Reeds 03:32! Archie spring op, gryp die papiere en sit af doeane toe om uit te klaar. Hy kom terug met die nuus dat hulle nie daar is nie.

Dit begin reën.

Ons gaan lê weer en 04:45 gaan Archie weer kyk. Hulle is daar en hy klaar uit. Dit reën nie meer nie. Ons vertrek 05:10 vanaf Bar na Durrës (41° 18.326 N , 19º 27.066 O). Dit is in Albanië, waar jy nie mag anker nie a.g.v. die moontlikhede van seemyne.

Ons kan effens sien en kyk met wydgesperde oë na al die ligte en bakens en kom maklik uit die Marina. Die wind waai heeltyd, maar darem nie te erg nie. Die deinings is groot, want Gus het heelnag loeiend gewaai. Maja durf die see dapper aan. Ek sing nog nie. Die wolke lê laag en dik oor land en see. Ek lê op die vloer van die dek, totdat die wolk 'n druppel op my laat neerplons. Ag nee, dit reën. Ek kry die reënbaadjies en panser ons teen die nat.

Dit reën nie meer nie. Gus begin met nuwe ywer waai. Soos wat hy harder blaas, word die see groter. En ek begin maar sing. Ons span die hoofseil, want die wind is half van agter en ons motorseil. Dis as die seil op is en die motor prrrr. Archie laat die motor stadiger loop (om diesel te spaar) en ons spoed verhoog tot 5.5 knope met die seil. Die seil help dat Maja nie so vreeslik kantel nie. Ons seil 'n ruk, totdat Gus plukkerig raak en trek die seile in. Dit begin reën. Ek sing nog steeds, maar ek is baie kalm.

Gus hou nie op nie. Ons vaar volgens die kompas en ons sien net see rondom ons. Dit is "scary". Ek hou daarvan om land te sien. Maja  pak die deinings een vir een aan. Archie sit by die helm. En ek sing, maar bang is weg en dapper is hier.

Na 'n ewigheid kan ons die land sien waarop Durrës is. En na nog 'n ewigheid sien ons vir Durrës. Ek is moeg van sing. Dis gevaarlike terrein, met skeepswrakke en rotsriwwe en vlak plekke. Die see se deinings is groot en Gus waai sy hart uit. Die deinings kom nou uit 'n ander rigting. Ons sukkel om die bakens wat die hawe-ingang aanwys te sien, want die sig is swak.

Durrës se vlak water
Uiteindelik Durrës!


Reuse sagte deinings spoel onder deur Maja. Uiteindelik sien ons die bakens en vaar na die ingang van die hawe. Die einde is in sig. Gus waai en waai.

Archie roep die hawemeester op die radio en hy gee ons toestemming om in die hawe te kom. In Albanië moet jy 'n agent hê om by doeane in te klaar en die agent wat Arch gereël het, wuif op die kaai. Ons stop "alongside" in die sterk wind. Gelukkig help die agent met die toue.

Al ons papiere is reeds ingevul, want Archie het al die inligting vir die agent ge-epos. Die agent sê ons moet ontspan na so 'n moeilike dag op see. Vandag was 'n lang dag. Ons het 57 myl gevaar. Ons was vir twaalf ure op 'n uiters onaangename see. Maar ons het oorleef.

Ek sal liewers 'n blog skryf wat almal laat gaap van verveling. En met hulle koppe op hul rekenaars aan die slaap raak, as om ondervindings soos vandag s'n te skryf.

Ek is nou moeg. Ek wil net slaap...
Published with Blogger-droid v2.0.10

Tuesday, August 13, 2013

Bar. Dag 108

13 Augustus 2013. Dinsdag.

Budva tot Bar


Budva in die oggend is absoluut anders as in die aand. Budva slaap nog vas. Ons vertrek 08:30 na Bar (42º 05.912 N, 19º 05. 200 O), 18 myl.

Bekoorlike Budva


Die kuslyn is mooi en ru. Die see skommel, al lyk hy plat. Gus waai liggies van voor en ons motor heeltyd.

Oggendskoot - Blouskakerings
Oggendskoot - Boomeiland


Ons gaan kyk hoe Sveti Stefan Eiland lyk. Ons vaar maar met ons kleine Maja daar verby. Sveti Stefan is in die 15 de eeu gebou, na 'n suksesvolle aanval op 'n seerowerskip, wat geanker was in Uvala Jar, naby Budva. Die Pastrovic familie het 'n kerk en huise op die eiland gebou, met 'n muur om die dorp te beskerm teen seerowers. In 1952 is al die inwoners van die eiland verwyder, sodat die dorp verander kon word in 'n luukse hotel.

Sveti Stefan
Berge
Eiland hotel


Ons vaar rustig langs die berge en kom 13:00 by Bar aan.

Berge, kranse en see


Bar is 'n hawedorp met min besieningswaardighede en is ook 'n doane-hawe waar ons uitklok om na Albanië te gaan. Ons is eintlik oppad na Griekeland, maar moet deur Albanië om daar te kom. Ons gaan miskien deur die nag vaar na Durrës, waar ons deur die doeane moet gaan. Dit is 'n lang rit, sowat 50 myl (12 ure).
.
Ons is nogal benoud oor die nagseil. Dis 'n eerste vir ons. Ons gaan seker vir die volgende week nie internet hê nie.

Published with Blogger-droid v2.0.10