Monday, August 19, 2013

Dankie tog! Dag 113.

18 Augustus 2013. Sondag.


Durrës tot Orikum


Dis weer sukke tyd! Ons het 'n lang dag vandag. Ons gaan na Marina Orikum, naby Vlore (48º 20.356 N, 19º 28.417 O).

Ons staan 03:45 op, kry alles reg en 04:10 is Maja, vreeslik vuil, los en ons is reg (eintlik nie reg nie) vir die donker uitgang uit die hawe. Dis baie donker en ons moet vir die ligte kyk om te weet waar die skeepswrak en rotsriwwe is. Ons vaar in die kanaal wat met rooi en groen ligte aangedui word. Dis nogal verwarrend, veral met skepe wat op anker staan met ligte aan en die dorp se ligte aan die oorkant van die baai. 

Ons kom deur die kanaal en ons moet kyk vir ander seeverkeer. Dit voel of die nag nooit in dag wil verander nie. Dis vreemd om so te vaar terwyl jy niks sien nie. Maar daar is later tog 'n pienk skynsel wat sê die dag kom. Ons is dankbaar toe ons weer kan sien.

Uiteindelik - ons kan weer sien


Daar is deinings op die see, maar heel hanteerbaar vir my (Archie kan alles hanteer). Dankie tog Gus is moeg, hy lê en dis heerlik. As Gus lê, word die see nie groter nie. Dis net Maja se motor wat hipnoties prrr, vinniger as gewoonlik, want ons het 'n lang pad, 60 myl.

Snaakse kus, die van Albanië. Jy moet omtrent 2 tot 3 myl weg wees van die land, want die water is baie vlak. Die water lyk ook anders. Daar is baie sandbanke onder die watervlak.

Vlak water, diep water
Plat wêreld

Ons vaar rustig, skommel liggies heen en weer. Dis net so nou en dan dat daar 'n ou grote kom en ons baie laat kantel.

Later, teen 13:30 word Gus wakker. Dankie tog, hy waai van agter en ons span die genoa. Archie verminder die motor se rewolusies, maar ons hou ons spoed met Gus se vriendelike hulp.

Hoe anders is vandag nie! Die see is nie so ongemaklik nie. Jy hoef nie heeltyd te konsentreer of sing nie. Jy kan rondbeweeg op Maja, al moet jy vashou. Jy hoef nie aan alles vas te klou nie, jou spiere kan ontspan.

Orikum is in sig


Na amper 12 ure op die see, kom ons by Marina Orikum aan. Die agent wag vir ons, help ons vasmeer en vat die bootpapiere. Archie gaan na die kantoor en alles is gou afgehandel.

Marina Orikum
Vol kaai

Ek sê weer: "Dankie tog!"
Published with Blogger-droid v2.0.10

2 comments:

  1. Hi Meraai! Uiteindelik kry ek ook jou blog! Dis ongelooflik!! Het die laaste 2 ure lekker gelag vir jou tipiese skryfstyl, en my vergaap aan al die mooi foto's. Wow!!
    Gaan van nou af nie een dag misloop nie. Hoe ek môre gaan wakker word as die wekker afgaan is 'n ander moeilike vraag!

    Groete
    Zané.

    ReplyDelete
  2. Halo Julle! Ek kan my indink hoe moeilik dit is om in die donker uit die hawe te kom. Ek sien in my gedagtes vir Archie turend in die donker om julle veilig daar uit te kry.Gelukkig is julle maslig reg. Die water lyk seker swart so in die donker. Klink of Albanie moeilike waters het, met die vlak water en sandbanke. En dis skoon snaaks om n plat foto te sien, ons is al so gewoond aan die berge op berge.

    Nou ja, dankie tog julle het veilig daar aangekom.

    Liefde
    Elizexx

    ReplyDelete