17 Augustus 2013. Saterdag.
WAARSKUWING: Van die foto's is nie vir sensitiewe kykers nie (PG)
Ons gaan vandag Tirana toe, die hoofstad van Albanië. Dis in die binneland. Ons klim die 08:00 bus en daar trek ons. Dis 'n uur se ry, al is dit net 35 km tot daar.
Daar is 'n paar besieningswaardighede wat ons besien. Die Et'hem Bey Mosque is een van die oudste geboue in die stad. Dit is gelukkig nie vernietig in die "atheism compaign" van die laat 1960's nie. Daar is ook baie standbeelde van ooms wat belangrik was.
Et'hem Bey Mosque |
Muurskildery in moskee |
Standbeeld van die nasionale held, Skanderebeg |
Standbeeld van die "Unknown Partisan" |
Maar ons is eintlik oppad na Mt Dajti National Park, berge toe, 1200 m hoog! Ons klim weer 'n bus en ry na Porcelani, die naaste busstop aan die kabelspoorstasie na die park. Ons klim af en 'n baie vriendelike Albaniese meisie wys ons die pad verder na die kabelspoorstasie. Sy praat ook goeie Engels en ons gesels soos wat ons loop.Die kabelkar maak dit maklik om in die hoë berge te kom. Dit is 'n 15 min rit oor plase, heuwels, kranse, bome en bunkers, wat in die oorlogtyd gebou is.
Kabelspoor |
Die bunkers is gebou van 1950 tot 1985 tydens Enver Hoxha se regime. Daar word beweer dat dit onmoontlik is om te vernietig, selfs 'n aanval deur 'n tenk sal dit niks maak nie. Om die feit te bewys, het die ingenieur binne-in gestaan, terwyl dit deur 'n tenk gebombardeer was. Die bunker het ongeskonde bly staan en duisende is gebou.
Archie ondersoek Enver Hoxha se "konkreet nalatingskap" |
Na die kabelkarrit is ons bo. Dis heerlik in die berge. 'n Gratis taxi neem ons na die Panarama Restaurant, waar ons middagete gaan eet. Ek bestel geroosterde lam en die Engelse Archie bestel skaapkop.
Uitsig oor Tirana |
Panorama Restaurant |
Terwyl ons nog aan ons rooiwyn teug, kom ons kos. Die oorlede lam kyk en grinnik vir Archie. Maar dié Engelsman doen goed. Hy sê daar is soveel verskillende teksture. Hy verwys natuurlik na die breins (wat hy bedrup met vars suurlemoen), die wange ("dis lekker"), die oog ("come lamb, part with your eye"), verhemelte (hy giggel en ek gril), die tong en al die ander flentertjies vleis. Hy geniet dit vreeslik. Gryp tot later die kop met die hand. Dis iets wat hy nie doen nie, want hy is een van daai Engelse wat bene met 'n mes en vurk afeet.
Skaapkop |
Uit met die oog! |
My lam is net so lekker en ek het lanklaas so lekker geëet. Na middagete stap ons die 1,2 km terug na die kabelkar en pak die terugtog aan. Ons kom 17:00 by die graandok aan, moeg en tevrede.
Ek hou van die vaste aarde, maar môre is dit weer 61 myl op see...
Published with Blogger-droid v2.0.10
Halo julle! Dit klink lekker in Albanie! IS die mense vriendelik, en kan hulle Engels praat, of is dit net die uitsondering? Die moskees is altyd mooi en so mooi binne. En is die kabelkar nie heerlik nie, en die rit is so lekker lank. Die uitsig daar van bo af is baie mooi, en julle het so n lekker plek in die restaurant - terwyl julle smul aan julle vleis is dit sommer mooi ook om julle. Kan my nou nie Archie indink met die skaapkop in sy hande nie! Dalk verstaan hy nou die lekkerte van bene afeet!
ReplyDeleteSterkte met julle lang vaart more, ons dink aan julle!
Liefde
Elizexx
Halo julle! Ek kyk weer na die fotos van julle daguitstappie. Die kabelkar gaan eintlik verskriklik hoog op, 1,2 km! Geen wonder die uitsig is so asemrowend nie! Mens kan verskriklik ver sien daar van bo af. Dis die lewe: Om 1,2 km bo die grond in n mooi restaurant die heerlikste kos te eet terwyl jy kilometers ver kan sien. Ek weet die wangvleis is lekker, maar het Archie regtig die brein en oe ook geeet? Dit was verseker baie lekker, aangesien hy tot die kop in sy hande gehad het!
ReplyDeleteEk reis deur die blog saam met julle, en die kabelkar en kasteel is regtig hoogtepunte.
Liefde Elizexx