15 Julie 2017. Saterdag.
![]() |
Amalioupolis tot Pythos Baai |
Ontbyt |
Kruis oor die Padasitikos Golf na Pythhos Baai
op Palaio Trikeri Eiland, 10.2 myl. Die wind waai van voor en die see is onstuimig.
Later begin die wind sagter waai en ons kom om by die beskutte Pythos Baai,
gooi anker en tru in (dis ’n “line ashore” ankerplek). Archie swem met die toue
tot by die land en maak aan ’n olyfboom en elektrisiteit paal vas. Lourens en
Ryna se eerste “line ashore” is suksesvol afgehandel.
"When the going gets tough …" |
Lourens merk op dat “kalbassies” langs ons geanker
is. Ryna soek oral drywende pampoene op die see, maar sien niks! Die realiteit
is nogal skokkend, maar nie verpligtend vir die baai nie. Archie merk op dat
die vrou se rokkie nie baie aan die verbeelding oorlaat nie!
Die baai het skole vis, klein en groot. Die sig is
minstens 15 meter diep. Dis die meeste vis ooit op ’n Griekse eiland snorkel.
Selfs see anemone en korale lyk of dit weer wil vestig. Oral is vullisdromme en
die eilandbewoners se sin vir bewaring beïndruk regtig.
Pythos Baai |
Lourens doen die verpligte “snoet-spring” en
geniet dit so dat hy vir ’n tweede keer gaan. Later die middag stap ons met ’n pragtige gemesselde
paadjie na die oulike dorpie, Palaio Trikeri, 1.2 km. Ryna nooi ons elkeen vir
’n roomys. Die restaurant hou daardie aand 'n Griekse aand, maar ons het
genoeg Griekse party in Volos gehad en besluit om dit ’n mis te gee.
Dorp toe |
'n Rusplek langs die pad |
Palaio Trikeri hawe |
Archie maak vingerlek-lekker ouzo hoender met noedels vir aandete en ons smul daaraan
saam met ’n paar glasies koue witwyn. Te lekker.
Laat die aand toe dit al donker was, kom twee seilbote
in. Die een gooi anker en tru agteruit tussen die bote, maar die ketting is te
kort en hulle moet weer intrek. Met dié haak hy aan ons bure se ankerketting
vas.
Mense spring uit hulle kajuite en skel hom uit.
Alles is in rep en roer in die baai. Die ou kom uiteindelik los en vaar ’n
entjie weg waar hy en sy pêl strategie praat. Hulle trek heel links in. Later trek daar ’n seilboot langs ons in, maar
sonder enige probleme.
Uiteindelik is daar 21 seiljagte en 2
motorbootjies in die baai en dit lyk soos ’n marina.