Thursday, July 27, 2017

Amalioupolis.



14 Julie 2017. Vrydag.

Volos to Amalioupolis

Ons stap na supermark vir groente en vrugte. Daarna na die Hawe Polisie om die bemannings lys te verander, wat baie lank neem (Griekse burokrasie op sy beste). Koop op pad terug 'n internet bondel by Cosmote wat ook baie lank neem.

Uiteindelik is ons terug op Maja en maak reg om te ry. Dis daar waar ons probleme begin het. Ons vaar uit maar kan nie anker opkry nie, sit rotsvas. Kom terug land toe in ’n sterk kruiswind en maak weer aan kaai vas met behulp van Serbiese buurman. Buurman vaar uit. Sy anker gryp ons ketting. Hy sit ook vas.

Ryna swem uit om te help en vra die vrou wat haar man se plan is, want sy is bang hy trek aan die anker of ry oor haar wanneer sy wil af duik. Die vrou se kommentaar is “rather leave it – he does not talk to anybody, nobody knows his next move!" Archie swem ook uit en uiteindelik kom hulle anker vry en hulle skedaddle.

Ons probeer weer uitry. Die anker is nog steeds vas aan iets, maar met brute krag lig ons dit tot die oppervlak. Dit het ’n dik onderwater permanente mooring tou gegryp, saam met ’n merker boei se tou en ketting. Ons doen die tou-ding en uiteindelik is ons vry. Ek was gestres, maar Lourens en Ryna dink dit was ’n moerse ondervinding!

Ons vaar uit die hawe uit in 24 knope kopwinde en 'n groot see en ons kan teen 2500 opm net 'n spoed van 3 knope behaal. Teen dié opm sou ons normaalweg 6.5 knope kon haal.

Ons plan was eintlik om na Pythou Baai te gaan (dieselde seemeeu baai as met Pieter en Zané), maar verander dit weens die wind en mik na 'n meer wind-vriendelike Almalioupolis, 13.7 myl. Span uiteindelik seil en kry 'n lekker seil vir 2 ure in. Kom daar aan en die anker byt sommer die eerste keer.

Amalioupolis

Ryna maak stamppot vir aandete (kapokaartappels en broccoli met gebraaide vark) en ons eet 'n vroeg aanete. Daarna gaan Ryna en Lourens met Dinkie land toe. Die dorpie is redelik modern, mooi skoon en ’n regte vakansie dorp vir Grieke.

Ryna en Lourens slaap weer op die dek, maar die koue windvlae laat hulle vining inkruip.

No comments:

Post a Comment