Thursday, July 27, 2017

Palaio Trikeri Eiland. Pythos Baai.




15 Julie 2017. Saterdag.

Amalioupolis tot Pythos Baai
Ontbyt

Kruis oor die Padasitikos Golf na Pythhos Baai op Palaio Trikeri Eiland, 10.2 myl. Die wind waai van voor en die see is onstuimig. Later begin die wind sagter waai en ons kom om by die beskutte Pythos Baai, gooi anker en tru in (dis ’n “line ashore” ankerplek). Archie swem met die toue tot by die land en maak aan ’n olyfboom en elektrisiteit paal vas. Lourens en Ryna se eerste “line ashore” is suksesvol afgehandel.

"When the going gets tough …"

Lourens merk op dat “kalbassies” langs ons geanker is. Ryna soek oral drywende pampoene op die see, maar sien niks! Die realiteit is nogal skokkend, maar nie verpligtend vir die baai nie. Archie merk op dat die vrou se rokkie nie baie aan die verbeelding oorlaat nie!

Die baai het skole vis, klein en groot. Die sig is minstens 15 meter diep. Dis die meeste vis ooit op ’n Griekse eiland snorkel. Selfs see anemone en korale lyk of dit weer wil vestig. Oral is vullisdromme en die eilandbewoners se sin vir bewaring beïndruk regtig. 

Pythos Baai

Lourens doen die verpligte “snoet-spring” en geniet dit so dat hy vir ’n tweede keer gaan. Later die middag stap ons met ’n pragtige gemesselde paadjie na die oulike dorpie, Palaio Trikeri, 1.2 km. Ryna nooi ons elkeen vir ’n roomys. Die restaurant hou daardie aand 'n Griekse aand, maar ons het genoeg Griekse party in Volos gehad en besluit om dit ’n mis te gee.

Dorp toe
'n Rusplek langs die pad
Palaio Trikeri hawe

Archie maak vingerlek-lekker ouzo hoender met noedels vir aandete en ons smul daaraan saam met ’n paar glasies koue witwyn. Te lekker.

Laat die aand toe dit al donker was, kom twee seilbote in. Die een gooi anker en tru agteruit tussen die bote, maar die ketting is te kort en hulle moet weer intrek. Met dié haak hy aan ons bure se ankerketting vas.

Mense spring uit hulle kajuite en skel hom uit. Alles is in rep en roer in die baai. Die ou kom uiteindelik los en vaar ’n entjie weg waar hy en sy pêl strategie praat. Hulle trek heel links in. Later trek daar ’n seilboot langs ons in, maar sonder enige probleme.

Uiteindelik is daar 21 seiljagte en 2 motorbootjies in die baai en dit lyk soos ’n marina.


No comments:

Post a Comment