Friday, August 16, 2019

Lesvos Eiland. Tsonia. Lang kruising.

15 Augustus 2019. Donderdag.

Freshwater Bay tot Tsonia
 
Vandag is die dag van die lang kruising van Limnos na Molivos, op Lesvos Eiland, 51 myl.

Ons staan 3:30 op en kry alles reg. Dis nog nag! Anker word opgetrek en 4:00, is ons weg. Ek is maar benoud vir die genagseil.  Die eerste twee ure gaan ons in die donker seil, wat nogal scary is. Maar dit is vandag amper soos in die Bybelse tyd - die son sal vir julle in die dag 'n lig wees en die maan in die nag. Dis volmaan en die helder maan skyn tot 6:01, terwyl die son 6:25 opkom. Ons kan redelik goed in die maanskyn sien. Hy is 'n ronde silwer bal wat aan die hemelruim vashou en 'n silwer straal van sy kosbare lig op die dondergrys see stort.
 
Maanligpad
 
Ek hou dop vir vissersbote, wat 'n groot gevaar is omdat hulle soms sonder ligte in die nag visvang, terwyl die kaptein noukeurig volgens die instrumente bestuur. 'n Groot skip staan in die donker op anker. Haar ligte skyn helder in die donker. Die maan raak geler en flouer en die gloed van die belofte dat die son binnekort gaan opkom, neem die plek van die maan in.
 
Skip op anker
 
En so vaar ons vorentoe, altyd vorentoe. Eers in die maanskyn, toe in die oggendgloed en daarna in die volson. Dis koud, die kaptein trek tot 'n sweetpakbroek aan. Die see raak op 'n stadium effe rof. Dis nog die nadraai van die sterk winde wat in die stuk see gewaai het. Ons span die genoa en motorseil. Later is die wind reg vir die hoofseil en ons twee wit seile bol in die wind.  Myl vir myl, uur vir uur vorder ons. Kwartpad, halfpad, driekwartpad en toe besluit ons ons gaan nie Molivos toe nie, maar na Tsonia, 10 myl verder, (totaal van 61.0 myl), waar ons gaan anker.
 
Verstekeling
 
Die lang  pad word korter soos die dag vorder en uiteindelik kom ons by die bekende Tsonia Baai en ons gooi anker. Toe oorval 'n moegheid vir my en die kaptein. Ons moet in die heerlike yskoue water swem om wakker te bly.
 
Tsonia
Tsonia

Na 'n eenvoudige ete van pasta en pesto gaan kruip ons vroeg in die vere en geniet 'n diepe droomlose slaap.

Limnos Eiland. Freshwater Bay.

14 Augustus 2019.

Myrina tot Freshwater Bay

Ons word die oggend wakker van twee bote se ankers wat klakkediklak opgetrek word. Die wind het bedaar en die manne wil begin beweeg. Ek loer deur die luik in ons kajuut en Archie gaan staan by ons anker op Maja se snoet. Die een seiljag het een anker beet en die ander boot het sommer twee ander ankers opgetel. Al die manne staan by hulle ankers. Die laaste ding wat jy wil sien, is dat jou anker wip. Dan weet jy, dis jou anker wat in die spervuur is.

Anker chaos
Hentie en Bill klim in die dingie en gaan help. Dit vat 1h30min om die ankers los te kry. Nog 'n jag vertrek en tel 'n anker op. En nog een. Die Bulgare vertrek en tel ook 'n anker  op en na 'n lang gesukkel kry hulle hom los, maar gooi die anker toe oor ons en ons bure se anker.

Nou is die Grieke se boot los en hulle moet nou versigtig optrek, dat hulle nie ons en ons bure se anker versteur nie. Ons slaak 'n sug van verligting toe sy anker skoon uitkom. Hy gooi toe drie keer weer anker, voordat sy anker byt en veilig by die kaai kan vasmaak.

Bill en Hentie sit hand by
Ons groet vir Hentie en Diana. Ons gaan hulle mis, want dit was heerlik met bekendes wat die kaai saam met jou deel. Hulle kry vreeslik lekker dat ons vir amper twee weke hier op Myrina moes bly. Dié twee is mos van die tipe wat sommer twee weke tot 'n maand by 'n lekker plek bly. Hulle reken die rus van die paar dae het ons net goed gedoen.
Nou is dit tyd om te vertrek (13:00) en die bure aan weerskante hou asem op. Genadiglik kom ons anker skoon uit en ons groet vir die vriendelike Myrina en vertrek na Freshwater Bay, 16 myl. Ons gaan daar anker, dat ons kruising van môre korter moet wees.
Dis sommer net 'n baai. Mense swem en geniet hul vakansie. Ons sien dat ons agterse fender wat in die water gelê het, 'n seetuintjie gegroei het tydens ons lang verblyf in Myrina! Dis totaal 'n teken dat ons te lank op een plek gebly het!
 
Freshwater Bay
Werksaam
Die fender se seetuin
Rimpel dimpel diamant
Môre is dit die lang pad terug na Lesvos.

Tuesday, August 13, 2019

Limnos Eiland. Myrina.

11 tot 13 Augustus 2019. Sondag tot Dinsdag.

Ek het altyd gelees dat die Meltemi twee weke aanmekaar kan waai. Gedink dis darem 'n baie lang tyd. Nou ervaar ek dit. Gus waai een strook deur in die see en vandag begin hy hier ook te waai. Met mening.

Gelukkig is ons stewig vasgemeer en daar is nog een plek langs die kaai oop. Die Russe probeer in die erge wind ankergooi en tru, maar dit eindig in chaos. Hulle pyl eers op ons bure se boot af en haak toe aan die groot boot aan die anderkant se ankerketting en vasmeertou vas. Toe hulle loskom, sit hulle anker vas. Met 'n gesukkel is hulle los en die skare op die kaai kyk onbeskaamd. Hulle vaar weg en gaan anker in die baai.
Hawemeester Hentie
Drama
'n Turkse boot kom in, die kaptein bly kalm, almal help en hy is vas. Nou is hier geen plek meer nie. Almal maak reg vir die sterk winde wat vannag kom.

En Gus stel nie teleur nie. Hy waai met alle mag. Dit loei en suis en bruis en druis hier op die kaai. Die bote dans rond op die maat van Gus se gewaai. Ek gaan slaap eers 3:30, want dit raas te veel.

Ai, hier is ons nog steeds by Myrina. Ons sal hopelik, volgens die voorspelling Woensdag kan vaar. Ons tyd n Griekeland raak min. Ons moet 18 Augustus uit die Griekeland uit wees.
Vandag is Diana se verjaarsdag. Hentie nooi ons om saam met hulle en Bill en Lynn te gaan uiteet. Arme Diana se verjaarsdag is eintlik glad nie so lekker nie. Gus waai laat dit bars én sy was by die dokter, want sy het 'n spier in haar arm geskeur. Nou kan sy die arm nie gebruik nie en Hentie moet haar hare stileer.  Sowat van orders gee met die gekam en vasmaak van die hare het ek lanklaas gehoor! Toe lyk sy pragtig. "Wel gedaan, Hentie!"

Ek en ou Archie is getooi in rooi. Ons almal lyk heel pragtig en ons stap na Kosmos waar ons gaan eet. Die Lynn is maar sku vir die kamera en kyk vir my met 'n houtoog. Daar heers 'n vrolike stemming. Ons geniet die aand saam met vrinne in die verre lande, weg van die gewaai en gewieg van die bote langs die kaai. 

Gus waai nog steeds met mening. Sonder moeg word, sonder ophou!
Ekke
Haarstilis Hentie
Archie en ek
Archie, Ek, Hentie, Diana, Lynn en Bill
Bill en Lynn

Diana en Hentie
Kasteel


Die is ons laaste aand in die pragtige Myrina, wat nou al vir ons soos 'n tuiste geword het. Ons stap om vir oulaas te kyk hoe die son by my geliefde Berg Athos sak. Vir dié ou kasarm van 'n berg, het ek baie lief geword. Dit was baie spesiaal om rondom hom te vaar en na al die kloosters wat hy huisves te kyk. Nou voel dit of dit my eie berg is. Al is hy nou so vêr.

Toe die son in die see beland, stap ek en Archie terug en kom op 'n kinderkonsert af. Ai, die kinderstemme is vir my al te mooi. Hulle staan sommer so voor die gebou en sing, Daar is nog musikante wat verskillende instumente bespeel. Ons luister en kyk te heerlik. Wat 'n heerlike manier om die laaste aand én ons verblyf in Myrina mee af te sluit.

Son sak langs Berg Athos

Kinderkonsert




Sunday, August 11, 2019

Pierre en Annatjie. Tot siens.

10 Augustus 2019. Saterdag.
En so kom Pierre en Annatjie se vakansie op Limnos tot 'n einde. Vandag klim hulle die veerboot na Lesvos en daarna begin hulle Turkse vakansie. Hulle staan sak en pak vir oulaas voor die té kleine Maja.

Sak en pak
Ons stap saam met hulle na die nuwe hawe, waar hulle die veerboot gaan kry. Later gaan ons na ons kant van die hawe en waai vir hulle. Toe is hulle weg. Op pad na nuwe horisonne. Nuwe ervarings. 
Koebaai
Daar gaan hulle

Pierre en Annatjie

Pierre hou van koffie drink. Voor ete, na ete, in die nag en ook in die dag. Enige tyd is koffie tyd. Maja is bietjies te klein en warm vir hom. Maar hy het darem Maja se passarelle baie sorgsaam opgetel en laat sak.

Vir Pierre was die beste plek sonder twyfel Limnos. Pragtige interessante eiland met vriendelike mense, mooi strate en ou geboue. Die Kastro het ook 'n groot indruk op hom gemaak. (Hy het iets oor die kasteel geskryf wat ons nie kan ontsyfer nie. Skryf te lelik.) Maar hy vind die geskiedenis van die kasteel baie interessant.
Kastro
Die ervaring wat hy baie geniet het, was die kruising van Porto Koufo tot Limnos, onder vol seile en met boonop 'n nuwe rekort seilspoed van 7.6 knope.
Lang kruising
Annatjie hou ook baie van koffie drink en saam met Pierre het hulle die konsep van koffie drink tot nuwe hoogtes gevat. 

Annatjie het ook die meeste van Limnos gehou. Vir haar was dit heerlik en baie pragtig. Annatjie het die lang staptogte baie geniet. Dit was ook baie leersaam.
Limnos
Die beste ervaring was ook die 55.4 myl kruising tussen Porto Koufo tot by Limnos. Sy het nie gedink sy sal so iets oorleef nie.
Sy het die kuier saam met ons en ook die kos op Maja geniet.
Seile
Baie dankie dat julle saam met ons op die kleine Maja kom kuier het. Dis jammer dat ons nie by die toerprogram kon bly nie, maar Gus het ander planne gehad. Die lekkerste deel van julle vakansie kom nou eers. Geniet julle toer in die pragtige Turkye.

Limnos Eiland. Die laaste avondmaal.

9 Augustus 2019. Vrydag.

Ai, ons skuil nog steeds in die windstil Myrina. Dis eienaardig om teen die wind te skuil as daar by jou geen wind waai nie. Toe gaan stap ons vier maar na die wit kerkie op die bult.
 
St Nicolas Kerk
 
Die kerkie is eintlik mooi van vêr af, maar vêr van mooi af. Sommer maar net 'n wit  kerkie op 'n bergie op 'n verre eiland in Griekeland. 'n Seilboot vaar in die verte. Hierheen, vir skuiling teen die nóg sterker winde wat gaan kom.
 
Archie
Seilboot
 
Die aand neem Pierre en Annatjie ons uit vir die dankie-sê ete. Hulle het eintlik maar min om voor dankie te sê, want ons is nou al 'n week hier by Myrina. Gewoonlik neem ons ons gaste na plekke waar hulle 'n breë spektrum van Griekeland kan beleef, maar Gus het ander planne met ons gehad. Hy het ons vasgevang in sy waainet en gevange gehou. Gelukkig in die pragtige Myrina, op Limnos Eiland.

Ons is almal uitgevat en stap na die taverna waar Pierre en Annatjie vir ons 'n tafel bespreek het. Die restaurant kyk uit op die see. Ons sien die kasteel wat verlig in die agtergrond staan. 
 
Pierre en Annatjie
Archie en ek
Ons vier
 
Ek bestel geroosterde calamari en die ander drie lam souvlakia. Ons eet heerlik. Daarna gaan eet ons nagereg by 'n ander plek. Sjokolade soufflé, lemoenkoek en 'n amandelkoek. Alles word bedien met 'n skep roomys. Kuppeldik van koningskos! "Baie dankie Pierre en Annatjie. Dit was heerlik!" 
 
Calamari
Souvlakia
Beligte kasteel
 
 


Friday, August 9, 2019

Limnos Eiland. Skemerkelkies.

8 Augustus 2019. Donderdag.
 
Ons skuil en Pierre en Annatjie skuil saam. Ons gaan nie ons kruising doen nie, want die wind tussen Limnos en Lesvos is nog te kwaai. Voel vir my ek is hier vasgevang.

Laatmiddag vat ons die pad kasteel toe. Boontoe. Ons wil die son sien ondegaan met my geliefde berg Athos op die horison. Pierre en Annatjie beur die opdraende uit en toe verken ons weer die een deel van die kasteel. 
 
Beur boontoe
 
Die baai lyk pragtig met Annatjie en Pierre wat ekstra fleur daaraan verleen. Ons bekyk alles. Daar is altyd nóg iets wat mens in die kasteel kan ontdek.
 
Kaspaka Baai
Toring
Kleurvolle rots
 
Die bokke wei daar rond. Hulle is maar skaam en skugter vir vreemdelinge en kies die hasepad. Wat die vierpotiges nie besef nie, is dat hulle nie van my kameralens kan ontsnap nie. Hulle is pragtig.
 
"Fallow deer"
 
Ek en Archie loop deur die ondergrondse tonnel. Gelukkig het ons flitse, wat dit is stikdonker. Pierre en Annatjie dink die aarde het ons ingesluk en waai verlig vir ons toe ons anderkant te voorskyn kom. 
 
Tonneluitgang
Waai verlig
 
Ons kyk nie die amper-ondergrondse bergplekke van ammunisie en na nóg 'n ondergrondse iets. Die kasteel is jou waarlik baie groot.
 
Ammunisiestoor
Skadu's teen die muur
 
Toe is dit sukke tyd. Ons kry 'n plat plek om te sit, onder die wakende oog van Berg Athos. Om te dink ons het reg om hom gevaar om al die kloosters te sien! Archie skink die retsina, terwyl Pierre en Annatjie dorstig toekyk. Toe word die non-wynglase serimonieel geklink in die ryk laatmiddagson. 'n Warm gloed kwas ons gesigte tot 'n glans van vreugde. Die son is die skilder en kleur die lug in sodat ons mensekinders in ekstase kan raak oor die rykdom van moederaarde. Wat 'n spesiale skemerkelkie.
 
Skinker
Ek en Archie
Annatjie en Pierre
Ek en Berg Athos
Sonsondergang
Sela