Friday, August 16, 2019

Lesvos Eiland. Tsonia. Lang kruising.

15 Augustus 2019. Donderdag.

Freshwater Bay tot Tsonia
 
Vandag is die dag van die lang kruising van Limnos na Molivos, op Lesvos Eiland, 51 myl.

Ons staan 3:30 op en kry alles reg. Dis nog nag! Anker word opgetrek en 4:00, is ons weg. Ek is maar benoud vir die genagseil.  Die eerste twee ure gaan ons in die donker seil, wat nogal scary is. Maar dit is vandag amper soos in die Bybelse tyd - die son sal vir julle in die dag 'n lig wees en die maan in die nag. Dis volmaan en die helder maan skyn tot 6:01, terwyl die son 6:25 opkom. Ons kan redelik goed in die maanskyn sien. Hy is 'n ronde silwer bal wat aan die hemelruim vashou en 'n silwer straal van sy kosbare lig op die dondergrys see stort.
 
Maanligpad
 
Ek hou dop vir vissersbote, wat 'n groot gevaar is omdat hulle soms sonder ligte in die nag visvang, terwyl die kaptein noukeurig volgens die instrumente bestuur. 'n Groot skip staan in die donker op anker. Haar ligte skyn helder in die donker. Die maan raak geler en flouer en die gloed van die belofte dat die son binnekort gaan opkom, neem die plek van die maan in.
 
Skip op anker
 
En so vaar ons vorentoe, altyd vorentoe. Eers in die maanskyn, toe in die oggendgloed en daarna in die volson. Dis koud, die kaptein trek tot 'n sweetpakbroek aan. Die see raak op 'n stadium effe rof. Dis nog die nadraai van die sterk winde wat in die stuk see gewaai het. Ons span die genoa en motorseil. Later is die wind reg vir die hoofseil en ons twee wit seile bol in die wind.  Myl vir myl, uur vir uur vorder ons. Kwartpad, halfpad, driekwartpad en toe besluit ons ons gaan nie Molivos toe nie, maar na Tsonia, 10 myl verder, (totaal van 61.0 myl), waar ons gaan anker.
 
Verstekeling
 
Die lang  pad word korter soos die dag vorder en uiteindelik kom ons by die bekende Tsonia Baai en ons gooi anker. Toe oorval 'n moegheid vir my en die kaptein. Ons moet in die heerlike yskoue water swem om wakker te bly.
 
Tsonia
Tsonia

Na 'n eenvoudige ete van pasta en pesto gaan kruip ons vroeg in die vere en geniet 'n diepe droomlose slaap.

No comments:

Post a Comment