Friday, August 16, 2019

Limnos Eiland. Freshwater Bay.

14 Augustus 2019.

Myrina tot Freshwater Bay

Ons word die oggend wakker van twee bote se ankers wat klakkediklak opgetrek word. Die wind het bedaar en die manne wil begin beweeg. Ek loer deur die luik in ons kajuut en Archie gaan staan by ons anker op Maja se snoet. Die een seiljag het een anker beet en die ander boot het sommer twee ander ankers opgetel. Al die manne staan by hulle ankers. Die laaste ding wat jy wil sien, is dat jou anker wip. Dan weet jy, dis jou anker wat in die spervuur is.

Anker chaos
Hentie en Bill klim in die dingie en gaan help. Dit vat 1h30min om die ankers los te kry. Nog 'n jag vertrek en tel 'n anker op. En nog een. Die Bulgare vertrek en tel ook 'n anker  op en na 'n lang gesukkel kry hulle hom los, maar gooi die anker toe oor ons en ons bure se anker.

Nou is die Grieke se boot los en hulle moet nou versigtig optrek, dat hulle nie ons en ons bure se anker versteur nie. Ons slaak 'n sug van verligting toe sy anker skoon uitkom. Hy gooi toe drie keer weer anker, voordat sy anker byt en veilig by die kaai kan vasmaak.

Bill en Hentie sit hand by
Ons groet vir Hentie en Diana. Ons gaan hulle mis, want dit was heerlik met bekendes wat die kaai saam met jou deel. Hulle kry vreeslik lekker dat ons vir amper twee weke hier op Myrina moes bly. Dié twee is mos van die tipe wat sommer twee weke tot 'n maand by 'n lekker plek bly. Hulle reken die rus van die paar dae het ons net goed gedoen.
Nou is dit tyd om te vertrek (13:00) en die bure aan weerskante hou asem op. Genadiglik kom ons anker skoon uit en ons groet vir die vriendelike Myrina en vertrek na Freshwater Bay, 16 myl. Ons gaan daar anker, dat ons kruising van môre korter moet wees.
Dis sommer net 'n baai. Mense swem en geniet hul vakansie. Ons sien dat ons agterse fender wat in die water gelê het, 'n seetuintjie gegroei het tydens ons lang verblyf in Myrina! Dis totaal 'n teken dat ons te lank op een plek gebly het!
 
Freshwater Bay
Werksaam
Die fender se seetuin
Rimpel dimpel diamant
Môre is dit die lang pad terug na Lesvos.

No comments:

Post a Comment