Sunday, August 11, 2019

Pierre en Annatjie. Tot siens.

10 Augustus 2019. Saterdag.
En so kom Pierre en Annatjie se vakansie op Limnos tot 'n einde. Vandag klim hulle die veerboot na Lesvos en daarna begin hulle Turkse vakansie. Hulle staan sak en pak vir oulaas voor die té kleine Maja.

Sak en pak
Ons stap saam met hulle na die nuwe hawe, waar hulle die veerboot gaan kry. Later gaan ons na ons kant van die hawe en waai vir hulle. Toe is hulle weg. Op pad na nuwe horisonne. Nuwe ervarings. 
Koebaai
Daar gaan hulle

Pierre en Annatjie

Pierre hou van koffie drink. Voor ete, na ete, in die nag en ook in die dag. Enige tyd is koffie tyd. Maja is bietjies te klein en warm vir hom. Maar hy het darem Maja se passarelle baie sorgsaam opgetel en laat sak.

Vir Pierre was die beste plek sonder twyfel Limnos. Pragtige interessante eiland met vriendelike mense, mooi strate en ou geboue. Die Kastro het ook 'n groot indruk op hom gemaak. (Hy het iets oor die kasteel geskryf wat ons nie kan ontsyfer nie. Skryf te lelik.) Maar hy vind die geskiedenis van die kasteel baie interessant.
Kastro
Die ervaring wat hy baie geniet het, was die kruising van Porto Koufo tot Limnos, onder vol seile en met boonop 'n nuwe rekort seilspoed van 7.6 knope.
Lang kruising
Annatjie hou ook baie van koffie drink en saam met Pierre het hulle die konsep van koffie drink tot nuwe hoogtes gevat. 

Annatjie het ook die meeste van Limnos gehou. Vir haar was dit heerlik en baie pragtig. Annatjie het die lang staptogte baie geniet. Dit was ook baie leersaam.
Limnos
Die beste ervaring was ook die 55.4 myl kruising tussen Porto Koufo tot by Limnos. Sy het nie gedink sy sal so iets oorleef nie.
Sy het die kuier saam met ons en ook die kos op Maja geniet.
Seile
Baie dankie dat julle saam met ons op die kleine Maja kom kuier het. Dis jammer dat ons nie by die toerprogram kon bly nie, maar Gus het ander planne gehad. Die lekkerste deel van julle vakansie kom nou eers. Geniet julle toer in die pragtige Turkye.

No comments:

Post a Comment