17 Julie 2017. Maandag.
![]() |
Pighadi Baai tot Glifa |
Archie staan op, kyk vir die weervoorspelling en besluit ons moet onmiddellik ry. Koffie, met Ryna se beskuit, is haastig gedrink, die “sprayhood” word gelig en weg is ons in die reën. Gelukkig is die winde (tot 28 knope) van agter en ons maak goeie spoed om binne 2 ure by Orei (10 myl) te kom.
Ryna, gepantser teen die reën, wind en koue |
Lourens ook! |
Die hawe is propvol, maar iemand help ons om "alongside" teen die ou staal kaai vas te maak. Dit is ’n verskriklike aaklige plek met groot ysters wat
uitsteek, die tipe wat fenders vreet. ’n Hollander sê ons moet liewers anker
gooi en agteruit inkom, want die vorige nag was daar groot golwe in die hawe en baie skade is aan van die bote aangerig. Dit terwyl ons snoesig in Pigadhi Baai op anker gelê het. Al die booteienaars daar is besig om reg te maak vir nog so 'n nag, want nog groter storms is voorspel.
Terwyl ons besig is om vasmaaktoue aan die kaai te voorberei, kom ’n omie van die Hawe Oewerheid aangestap en sê die kaai is honderd jaar oud en ons moet skuif. Die pier is blykbaar te vrot
(hy het verseker nog nooit ’n restaurant kaai in Turkye gesien nie). So wat nou? Slegte weer is voorspel en daar is nie plek vir ons nie?
Archie gaan koukus met die Pilot Book terwyl Ryna
en Lourens dorp toe loop. Op pad stap hulle verby 'n glas vertoonkas waar 'n groot marmer bul uitgestal word. Dié is in 1965 deur vissermanne
uit die see uitgehaal. Hulle koop vleis, brood, perskes
en worsies. Die slagter noem dat Suid-Afrikaners uit Kaapstad op die
eiland Aryironisis woon.
Archie besluit ons ry toe vêrder na Glifa, 6 myl, en ons kry ’n goeie
ankerplek voor die strand. Elke nou en dan breek die son deur. Gelukkig reën
dit nie en die wind is stil.
Na ’n siësta klim ons in Dinkie en gaan verken die
dorp. Lourens koop vir hom nuwe skoene, want Grietjie se ou sloffies het baie
beter dae gesien. Dié word seremonieel weggegooi.
Ryna kry 'n vriend op die kaai |
Interessante kennisgewingbord by die strand |
Die see is stil … vir nou! |
Ons eet weer vark stamppot (met die laaste oorskiet
hoender en noedels) saam met ’n bottel Roodeberg. Te lekker!
Die weer is swaar met donker wolke, maar nog nie
reën of wind nie. Daar word wel vir môreoggend reën voorspel, maar vanaand gaan ons
droog en warm in koel weer slaap. Ons wonder hoe gaan dit in Orei?
Maja staan reg vir die storm weer |