Wednesday, August 19, 2015

Peloponese. Tselevinia - Lang dag

17 Augustus 2015. Dinsdag.

Kolona tot Tselevinia

Vandag is die dag. Die dag van die lang kruising. Ons gaan die Cyclades verlaat en na die Seronic See toe gaan. Dis ’n baie vêr pad, 41 myl.

Ons staan 05:00 op, maar dis nog pikdonker. Kapteinskoffie word deur Archie gebrou en ons is reg vir die dag. Dit word eers ses-uur lig en toe ons kan sien, is dit toue losmaak, anker optrek en laat waai. 

Dou voor dag


Die see is vol deinings wat van voor af op ons aangerol kom. Gus waai reg van voor en ons motor. Ou Chris wens net die heelpad dat die wind net ’n bietjie wil draai dat ons kan seil. En sowaar as padda manel dra, dit gebeur en die seile word gespan. Maja seil en ons seil saam. Chris glimlag van oor tot oor en geniet dit terdeë. 

Ons seil vir ’n baie lang tyd. Ons lê skeef, maar Gus waai ’n konstante spoed en die skuinslê pla nie. Ons lê soms net skuinser as ander kere, maar ons seil vir die vale. Soms motorseil, soms net die seile. Die helm tap ’n man se krag en konsentrasie en Chris vat ’n bietjie oor. En dis vir hom vreeslik lekker om agter die helm te sit, terwyl Maja met haar vol, wit seile, deining vir deining aanpak en agterlaat, vasberade op pad na ons bestemming daar vêr voor in die verskiet.

Die seil word met raki gevier ...
... en nog gevier


Poseidon het voorspel dat die winde 12:00 gaan lê en wraggies, 12:00 gaan lê die wind en ons trek die seile in. Ons motor en Chris gaan lê toe so bietjie om oor sy teleurstelling te kom. Die Jouberts (Van Wyk) maak dit ’n familiepoging, want Zane lê ook al lankal.

Later waai Gus van agter af en die seile word weer gespan en dir help Maja met ’n bietjie spoed en ons motorseil tot by Tselevinia. Na nege ure is ons veilig in die Saronic gebied en die Cyclades lê vêr agter en dis net ’n aangename herinnering in ons geheue.

Anker word gegooi en later swem ek en Zane terwyl die mans kyk na die toiletlig wat geblaas het. Hulle maak ook die stukkende radio/CD-speler reg. Met die grootste toewyding word allerande goedjies getoets en fisies ondersoek. En hulle kry die ding toe speel en nou kan ons musiek luister en die radio sal vreemde Grieke in ons midde bring. 

Foutvinderig


Toe kry daai manne warm en hulle gaan swem.

Kythnos Eiland. Kolona.



17 Augustus 2015. Maandag.

St Stefano tot Kolona

Ons verlaat St Stefano en vaar vandag om die punt van die eiland en gaan dan by Kolona, 37°25.043 N, 24°22.365 O, 20 myl, anker. Ons trek daar weg en Gus lyk nie te sleg nie. Hy waai net hard genoeg om bietjie te seil. Daar en dan word die seile gespan en ons seil. Nogal te lekker, met die topspoed van 7.2 knope. 

St Stefano Baai
Gespande seile
Chris in sy noppies


Ons gaan om die draai, gooi die seile in die ander rigting en seil verder. Te lekker. Gus waai al hoe swakker en ons motorseil verder tot by Merikha, ’n klein dorpie waar Zane ’n yskasmagneet koop. Ons gooi anker by die kaai en Archie tru in die spasie in. Almal help en vas is ons. 

Merikha


 Dis toe dat al die sports begin. Die motorboot langsaan trek sy anker op en trek sy buurman se anker saam op en gooi dit oor ons anker. Die kaptein is nie op sy boot nie, maar kom gelukkig toe net daar aan. Hy moet toe sy anker weer gooi.

Ons gaan dorp toe, Zane kry haar magneet, ons koop ’n paar kruideniersware en eet ’n gyro. Toe is dit terug na Maja, want dit word laat en ons moet nog by ons ankerplek uitkom. Chris trek die anker op, maar later sukkel hy. Die nuweling langsaan Maja het sowaar sy anker bo-oor ons s’n gegooi en Archie moet toe sy gewone toumetode gebruik om ons ankerketting te bevry. Ek sit agter die helm en Zane keer af.  Eindelik is ons vry en ons kan vertek.

Ons vaar na die ankerplek, dis net 3 myl verder. Dis nou ’n nuwe ervaring vir Zane en Chris, want ons gaan anker met ’n long line ashore. Archie trek sy ysterman mondering aan en Chris is agter die helm. Dit beteken nou dat ek my gewone warm woordewisseling met Chris het oor waar ons moet anker. Alles loop na alles baie vlot. Chris bestuur, ek gooi die anker en Archie swem land toe met die oewertou, ons is veilig. 

Kolona Baai

Ysterman
Sierlike boog?


Dit is ’n geweldige warm dag en ons is dadelik in die water. Ons swem land toe, want ons wil die warmwaterbron gaan ondersoek. Ons spoor dit op, dit dis meer ’n vuilerige klein poel as ’n warmwaterbron. Archie sit in die warm water en smeer homself met die snaakse bruinerige water. Effe grillerig en Zane, met haar mediese agtergrond, trek haar neus vreeslik hoog op vir die warmwaterbron.

Ons swem terug na Maja en geniet die water. Plek-plek voel die water baie warm. Ai, maar ons geniet dit hier by Kolona.

Zane en Chris ry met Dinkie na die sandbanke toe en hulle verken die plek. 

Zané en Chris


Ek en Zane swem weer. Dis so lekker, ons kan nie uit die water kom nie. Ons eet die aand oondgebraaide hoender wat na Sondagkos ruik.

Sunday, August 16, 2015

Kythnos Eiland. St. Stefano.

16 Augustus 2015. Sondag.

Foinikas tot St Stefano

Weer ’n dag van 21 myl. Ons gaan na Kythnos Eiland, na Foinikas, 37°23.751 N, 24°27.492 O. Die see is ’n spieël en Gus lê êrens en slaap. Maja prrr weer ritmies en ons kom myl vir myl stadig maar seker nader aan Kythnos. Dis deinserig en die eiland kruip weg in die mistigheid. 

Foinikas vroegoggend
Bespreek die roete


Zane is lus vir swem. En daar stop ons en swem in 230m water. Zane maak eers seker dat daar nie haaie is nie en toe waai haar rok en in is sy. Ons almal volg haar voorbeeld. Hemel, maar dit is lekker. Die water is blou en diep. Ons swem en lag van plesier. Dis so verdomp lekker om in die diepsee te swem. Elize sou vreeslik daarvan gehou het.

Toe begin die pret. Chris en Zane speel soos kinders met die Dinkie. Hulle hou aan haar vas en Archie sleep hulle agter aan Maja. Ek hou aan die leer vas, maar my bikini broekie wil verloor en ek laat los. Dis nou behoorlik diepsee kaskenades op hulle beste. Na die heerlike swem is dit weer die ritmiese geprrr van Maja.

Baljaar in die water
Neptinus en sy kinders


’n Veerboot kom op ons afgepyl en gaan agter ons verby. Bietjies te naby, maar heel veilig. Ons vaar in sy golwe en Maja gaan op en af en op. 

Kerkie by ingang


Voor ons lê St Stefano. Ons vaar in en Chris gooi anker. Die bodem is vol seegras en die anker sleep. Ons gooi weer en die keer byt die anker stewig en ons is vas. Almal, behalwe die hardwerkende kaptein, knip eers ’n uiltjie op die Griekse manier. Later word die een na die ander lui-lui wakker. Ons wil ons darem ook nie ooreis nie.

Zane en Chris gaan land toe en ek en ou Arch werk. Ons doen die blog. Dit is ’n voltydse werk. So tussen deur die gewerk koel ons eers af in die see. Dan werk ons weer. Zane en Chris kom terug en ons drink ons skemerkelkies op die dek en later eet ons calamari, aartappels en slaai.

Nog ’n dag kom tot ’n end en word in ons geheue weggebêre vir latere onthou.

Syros. Foinikas.



15 Augustus 2015. Saterdag.

Ormos Ornos tot Foinikas

Elke dag ’n ander eiland. Elke dag ’n ander ervaring. Vandag is dit Syros Eiland en ons gaan na Foinikas, 37°23.789 N, 24°52.762 O, weer ’n vêr pad, 26 myl. Gus is nêrens nie en ons vaar plat water. Maja prrr ritmies voort en ons kom nader en nader aan ons nuwe bestemming. Dis ’n groot baai en daar is plek vir almal. Die anker byt pragtig en ons is tevrede.


Oggend wolke
Kaptein Arch


Toe gaan ons dorp toe. Ons gaan mos altyd dorp toe. Ons is al vier in die kleine Dinkie en dreig om te sink, maar ons kom darem veilig aan land. Ons wag vir die bus en klim die bus na Ermoupolis. Elize het verlede jaar gesê die dorp is soos fyn kant.

Die busrit is heerlik. Ons ry in landelike Griekeland, tussen die landjies, diere en plaaserige huise. En toe is ons in Ermoupolis. Dis eintlik ’n openbare vakansiedag in Griekeland en die meeste winkels is toe. Dis die fees van die Maagd Maria. Dit is doodstil in die dorp. Elize sal dit nie glo nie. Geen mense. Die plein is verlate. Dit is net ons. 

Ermoupolis


Ons stap boontoe na die kerk op die bult. Dis trappies op en nog trappies op. Dit is warm en ons sweet die pad op. Maar die kerk en die uitsig is absoluut die moeite werd. Die kerk is sowaar oop en ons gaan is. Daar is ’n gewyde stilte in die kerk en ons loop en beskou die kerk waar jy die Roomse invloed nog duidelik kan sien. Ek is vir seker ’n kerkmens, want ek geniet dit ongelooflik baie om in die kerke in te gaan. 

Dors les
Kerk op die berg
Arch en die kerkmens
Kerk in die stad
Uitsig oor die hawe


Die terugtog begin en dit is toe weer af en af en af, terug na die kaai. Ons kyk hoe wip die bote wat vasgemeer is as die groot veerbote inkom en dink terug aan verlede jaar toe Maja so gehop het. Maja het lelike skade opgedoen. Ons moes nuwe vasmeertoue koop en Archie moes die fairlead regmaak wat gebreek het. Dis baie jammer dat die hawe so is, want Ermoupolis is ’n pragtige plek. 


Ermoupolis
Stadsaal


Ons koop ’n paar geskenkies by die oop winkel en stap terug na die bushalte. Chris sou graag oop winkels wou hê, want hy is lus vir koop.

Ons kom tevrede na die dag se wedervaringe by Maja aan en daai water lok ons sweetlywe in. Dis koel in die laataand en ons vervang sweet met sout. Ons spoel darem die soutwater af en toe is ons skoon.

Zane en Chris maak kos en ons eet heerlik aan gebasterde bief stroganoff wat met varkvleis gemaak is. Heerlik.

Saturday, August 15, 2015

Mykonos. Ormos Ornos.



14 Augustus 2015. Vrydag.

Naxos tot Ormos Ornos, Mykonos


Mykonos! O, Myknos! Almal weet van Mykonos. Daarom gaan ons soontoe, want die gaste wil die bekende Mykonos sien en beleef. Dis 20 myl tot by Mykonos en ons gaan in Ormos Ornos, 37°25.195 N, 25°19.445 O, anker gooi.

Dit is ’n groot, besige baai. Baie luukse jagte anker hier en dinghies vol mense word heen en weer gejaag na en van die land. Hier het mens geen rus of duurte vir jou siel nie. Dis ook nie lank nie of ons gaan ook land toe met Dinkie. Zane en Chris stap die stuk pad na Mykonos en ek en Archie klim die bus. Ons ry ’n interessante busroete met ’n paar ompaaie na Mykonos. Dis vreeslik bevolk en Mykonos is nie wat hy moet wees nie. Dis verbasend watter verskil die gebrek aan sonlig aan die dorp maak. 

Op pad na Mykonos


Ons stap na Little Venice. Daar is ’n klomp restaurante langs die see en ons gaan sit om vir my ’n Freddo Expresso te bestel. Die kelnerin sê ons mag nie daar sit as ons elkeen nie €5 spandeer nie. Ons staan maar weer op en bestel vir my ’n wegneem koffie en ek drink dit so in die loop. Die tafel en stoele wat verlede jaar hier gestaan het, is nog steeds hier en ons poseer by die tafeltjie. Ons loop maar voordat hulle ons weer wil wegjaag.

Zané en Chris
Little Venice


Daarna vat ons die pad na die windmeulens toe. Dit staan hoog en trots en spierwit teen die heuwel. Ek weet nie of hulle nog kan draai nie. Maar dit maak nie saak nie, hulle is baie mooi en ’n landmerk van Mykonos. 

Windmeulens
Witgekalkte kerkie


Ek koop vir my ’n goedkoop ring. Zane kyk ook na ’n ring, maar die ou ringetjie kos toe maar net R65 000. Duur smaak wat die vroutjie het. Ons raak toe later moeg vir die bekende Mykonos en stap terug na ons baai. Ons al vier is dit eens – ons hou baie meer van Naxos as van Mykonos.