17 Augustus 2015. Maandag.
![]() |
St Stefano tot Kolona |
Ons verlaat St Stefano en vaar vandag om die punt van
die eiland en gaan dan by Kolona, 37°25.043 N, 24°22.365 O, 20 myl, anker. Ons
trek daar weg en Gus lyk nie te sleg nie. Hy waai net hard genoeg om bietjie te
seil. Daar en dan word die seile gespan en ons seil. Nogal te lekker, met die
topspoed van 7.2 knope.
St Stefano Baai |
Gespande seile |
Chris in sy noppies |
Ons gaan om die draai, gooi die
seile in die ander rigting en seil verder. Te lekker. Gus waai al hoe swakker
en ons motorseil verder tot by Merikha, ’n klein dorpie waar Zane ’n
yskasmagneet koop. Ons gooi anker by die kaai en Archie tru in die spasie in.
Almal help en vas is ons.
Merikha |
Dis toe dat al die sports begin.
Die motorboot langsaan trek sy anker op en trek sy buurman se anker saam op en
gooi dit oor ons anker. Die kaptein is nie op sy boot nie, maar kom gelukkig toe
net daar aan. Hy moet toe sy anker weer gooi.
Ons gaan dorp toe, Zane kry haar
magneet, ons koop ’n paar kruideniersware en eet ’n gyro. Toe is dit terug na
Maja, want dit word laat en ons moet nog by ons ankerplek uitkom. Chris trek die anker op, maar later
sukkel hy. Die nuweling langsaan Maja het sowaar sy anker bo-oor ons s’n gegooi
en Archie moet toe sy gewone toumetode gebruik om ons ankerketting te bevry. Ek
sit agter die helm en Zane keer af.
Eindelik is ons vry en ons kan vertek.
Ons vaar na die ankerplek, dis
net 3 myl verder. Dis nou ’n nuwe ervaring vir Zane en Chris, want ons gaan
anker met ’n long line ashore. Archie trek sy ysterman mondering aan en Chris
is agter die helm. Dit beteken nou dat ek my gewone warm woordewisseling met Chris
het oor waar ons moet anker. Alles loop na alles baie vlot. Chris bestuur, ek
gooi die anker en Archie swem land toe met die oewertou, ons is veilig.
Kolona Baai |
Ysterman |
Sierlike boog? |
Dit is ’n geweldige warm dag en
ons is dadelik in die water. Ons swem land toe, want ons wil die warmwaterbron
gaan ondersoek. Ons spoor dit op, dit dis meer ’n vuilerige klein poel as ’n
warmwaterbron. Archie sit in die warm water en smeer homself met die snaakse
bruinerige water. Effe grillerig en Zane, met haar mediese agtergrond, trek
haar neus vreeslik hoog op vir die warmwaterbron.
Ons swem terug na Maja en geniet
die water. Plek-plek voel die water baie warm. Ai, maar ons geniet dit hier by
Kolona.
Zane en Chris ry met Dinkie na
die sandbanke toe en hulle verken die plek.
Zané en Chris |
Ek en Zane swem weer. Dis so
lekker, ons kan nie uit die water kom nie. Ons eet die aand oondgebraaide
hoender wat na Sondagkos ruik.
No comments:
Post a Comment