Sunday, August 16, 2015

Kythnos Eiland. St. Stefano.

16 Augustus 2015. Sondag.

Foinikas tot St Stefano

Weer ’n dag van 21 myl. Ons gaan na Kythnos Eiland, na Foinikas, 37°23.751 N, 24°27.492 O. Die see is ’n spieël en Gus lê êrens en slaap. Maja prrr weer ritmies en ons kom myl vir myl stadig maar seker nader aan Kythnos. Dis deinserig en die eiland kruip weg in die mistigheid. 

Foinikas vroegoggend
Bespreek die roete


Zane is lus vir swem. En daar stop ons en swem in 230m water. Zane maak eers seker dat daar nie haaie is nie en toe waai haar rok en in is sy. Ons almal volg haar voorbeeld. Hemel, maar dit is lekker. Die water is blou en diep. Ons swem en lag van plesier. Dis so verdomp lekker om in die diepsee te swem. Elize sou vreeslik daarvan gehou het.

Toe begin die pret. Chris en Zane speel soos kinders met die Dinkie. Hulle hou aan haar vas en Archie sleep hulle agter aan Maja. Ek hou aan die leer vas, maar my bikini broekie wil verloor en ek laat los. Dis nou behoorlik diepsee kaskenades op hulle beste. Na die heerlike swem is dit weer die ritmiese geprrr van Maja.

Baljaar in die water
Neptinus en sy kinders


’n Veerboot kom op ons afgepyl en gaan agter ons verby. Bietjies te naby, maar heel veilig. Ons vaar in sy golwe en Maja gaan op en af en op. 

Kerkie by ingang


Voor ons lê St Stefano. Ons vaar in en Chris gooi anker. Die bodem is vol seegras en die anker sleep. Ons gooi weer en die keer byt die anker stewig en ons is vas. Almal, behalwe die hardwerkende kaptein, knip eers ’n uiltjie op die Griekse manier. Later word die een na die ander lui-lui wakker. Ons wil ons darem ook nie ooreis nie.

Zane en Chris gaan land toe en ek en ou Arch werk. Ons doen die blog. Dit is ’n voltydse werk. So tussen deur die gewerk koel ons eers af in die see. Dan werk ons weer. Zane en Chris kom terug en ons drink ons skemerkelkies op die dek en later eet ons calamari, aartappels en slaai.

Nog ’n dag kom tot ’n end en word in ons geheue weggebêre vir latere onthou.

No comments:

Post a Comment