Wednesday, August 19, 2015

Peloponese. Tselevinia - Lang dag

17 Augustus 2015. Dinsdag.

Kolona tot Tselevinia

Vandag is die dag. Die dag van die lang kruising. Ons gaan die Cyclades verlaat en na die Seronic See toe gaan. Dis ’n baie vêr pad, 41 myl.

Ons staan 05:00 op, maar dis nog pikdonker. Kapteinskoffie word deur Archie gebrou en ons is reg vir die dag. Dit word eers ses-uur lig en toe ons kan sien, is dit toue losmaak, anker optrek en laat waai. 

Dou voor dag


Die see is vol deinings wat van voor af op ons aangerol kom. Gus waai reg van voor en ons motor. Ou Chris wens net die heelpad dat die wind net ’n bietjie wil draai dat ons kan seil. En sowaar as padda manel dra, dit gebeur en die seile word gespan. Maja seil en ons seil saam. Chris glimlag van oor tot oor en geniet dit terdeë. 

Ons seil vir ’n baie lang tyd. Ons lê skeef, maar Gus waai ’n konstante spoed en die skuinslê pla nie. Ons lê soms net skuinser as ander kere, maar ons seil vir die vale. Soms motorseil, soms net die seile. Die helm tap ’n man se krag en konsentrasie en Chris vat ’n bietjie oor. En dis vir hom vreeslik lekker om agter die helm te sit, terwyl Maja met haar vol, wit seile, deining vir deining aanpak en agterlaat, vasberade op pad na ons bestemming daar vêr voor in die verskiet.

Die seil word met raki gevier ...
... en nog gevier


Poseidon het voorspel dat die winde 12:00 gaan lê en wraggies, 12:00 gaan lê die wind en ons trek die seile in. Ons motor en Chris gaan lê toe so bietjie om oor sy teleurstelling te kom. Die Jouberts (Van Wyk) maak dit ’n familiepoging, want Zane lê ook al lankal.

Later waai Gus van agter af en die seile word weer gespan en dir help Maja met ’n bietjie spoed en ons motorseil tot by Tselevinia. Na nege ure is ons veilig in die Saronic gebied en die Cyclades lê vêr agter en dis net ’n aangename herinnering in ons geheue.

Anker word gegooi en later swem ek en Zane terwyl die mans kyk na die toiletlig wat geblaas het. Hulle maak ook die stukkende radio/CD-speler reg. Met die grootste toewyding word allerande goedjies getoets en fisies ondersoek. En hulle kry die ding toe speel en nou kan ons musiek luister en die radio sal vreemde Grieke in ons midde bring. 

Foutvinderig


Toe kry daai manne warm en hulle gaan swem.

No comments:

Post a Comment