Sunday, August 16, 2015

Syros. Foinikas.



15 Augustus 2015. Saterdag.

Ormos Ornos tot Foinikas

Elke dag ’n ander eiland. Elke dag ’n ander ervaring. Vandag is dit Syros Eiland en ons gaan na Foinikas, 37°23.789 N, 24°52.762 O, weer ’n vêr pad, 26 myl. Gus is nêrens nie en ons vaar plat water. Maja prrr ritmies voort en ons kom nader en nader aan ons nuwe bestemming. Dis ’n groot baai en daar is plek vir almal. Die anker byt pragtig en ons is tevrede.


Oggend wolke
Kaptein Arch


Toe gaan ons dorp toe. Ons gaan mos altyd dorp toe. Ons is al vier in die kleine Dinkie en dreig om te sink, maar ons kom darem veilig aan land. Ons wag vir die bus en klim die bus na Ermoupolis. Elize het verlede jaar gesê die dorp is soos fyn kant.

Die busrit is heerlik. Ons ry in landelike Griekeland, tussen die landjies, diere en plaaserige huise. En toe is ons in Ermoupolis. Dis eintlik ’n openbare vakansiedag in Griekeland en die meeste winkels is toe. Dis die fees van die Maagd Maria. Dit is doodstil in die dorp. Elize sal dit nie glo nie. Geen mense. Die plein is verlate. Dit is net ons. 

Ermoupolis


Ons stap boontoe na die kerk op die bult. Dis trappies op en nog trappies op. Dit is warm en ons sweet die pad op. Maar die kerk en die uitsig is absoluut die moeite werd. Die kerk is sowaar oop en ons gaan is. Daar is ’n gewyde stilte in die kerk en ons loop en beskou die kerk waar jy die Roomse invloed nog duidelik kan sien. Ek is vir seker ’n kerkmens, want ek geniet dit ongelooflik baie om in die kerke in te gaan. 

Dors les
Kerk op die berg
Arch en die kerkmens
Kerk in die stad
Uitsig oor die hawe


Die terugtog begin en dit is toe weer af en af en af, terug na die kaai. Ons kyk hoe wip die bote wat vasgemeer is as die groot veerbote inkom en dink terug aan verlede jaar toe Maja so gehop het. Maja het lelike skade opgedoen. Ons moes nuwe vasmeertoue koop en Archie moes die fairlead regmaak wat gebreek het. Dis baie jammer dat die hawe so is, want Ermoupolis is ’n pragtige plek. 


Ermoupolis
Stadsaal


Ons koop ’n paar geskenkies by die oop winkel en stap terug na die bushalte. Chris sou graag oop winkels wou hê, want hy is lus vir koop.

Ons kom tevrede na die dag se wedervaringe by Maja aan en daai water lok ons sweetlywe in. Dis koel in die laataand en ons vervang sweet met sout. Ons spoel darem die soutwater af en toe is ons skoon.

Zane en Chris maak kos en ons eet heerlik aan gebasterde bief stroganoff wat met varkvleis gemaak is. Heerlik.

No comments:

Post a Comment