Friday, May 30, 2014

Corfu Eiland. Griekse verrassing.

29 Mei 2014. Donderdag.


Hulle voorspel reën vir vandag. Dis nie eintlik wat ek en Archie wou hê nie.  Dis vandag die dag van die verrassing vir dir manne, wat ons met die geheime sending verlede Donderdag al gaan reël het. Dit was veronderstel om 'n pragtige dag te wees.

Ons verlaat Mandraki 13:30 en dis koud en mislik. Ons vaar 'n ent toe raak die wolke te swaar en gooi hul druppels na benede. Wat van die verrassing!?

Koud en mislik

Ons nader Agni Baai na twee ure, 7.8 myl. Dit reën en ek gooi anker en die manne maak vas aan die pier (jetty). Dis 'n snaakse besigheid, die gevasmeerdery teen die pier. Ons maak windskeef vas, so aan die hoek van die pier en moet ook 'n tou aan die buurboot se snoet vasmaak.

Windskeef vasgemeer

Ons sit maar in die saloon, want dis te koud buite en knibbel aan droëwors wat Dirk en Louria Luus saamgestuur het.

Ek is benoud dat die hele verrassing deur die mat gaan val, omdat dit so reën. Gaan die ander mense opdaag? Die manne weet nog van niks.
Teen 19:30 kom die eerste watertaxi daar aangejaag. Ons wip op en af in Maja en die mense klim uit en stap vinnig in die koue na die Taverna Nikolas. Ek skep moed. Net daarna kom nog 'n watertaxi aangejaag met die volgende opgewonde gaste. Ek gee die bevel: "Gaan trek aan".

First Mate en Skipper ...
... saam met die bemanning

Die een na die ander watertaxi laai nog mense af en almal is klappertand-uitbundig en opgewonde. Maja wip meer en meer van al die golwe wat die taxi's agterlaat. Met 'n groot gesukkel gaan ons aan wal, want die plank is te kort, en alles beweeg.

Die geheim is uit. Ons het plek bespreek in Nikolas Taverna vir 'n tradisionele Griekse aand, met Griekse kos, musiek en danse. Dis so duur, ons begroting is nou in sy moer.

Toe begin dit. Die musikante speel, die sangeres sing en die wynkraffies word tafels toe gebring. Mense babbel jolig en die voorgereg (meze, brood en tzatziki) word aangedra. Dis heerlik. Alle koue word verdryf deur warm, vrolike harte en monde wat lag en eet en drink.

Skinkborde vol kos

Die Grieke is 'n jolige spul en ons is nog joliger. Ons klap hande, die sangeres sing, die man speel sy bazouki uitstekend. Nog kos kom, slaai, hoender, vark en aartappels en dit raak uitbundiger. Sowat van genot het ek lanklaas gesien.

Die dansers kom te voorskyn en doen Griekse danse. Hulle bring nog wyn (dis ingesluit in die prys). Nikolas, die eienaar, doen 'n spesiale dans en jy hoor net borde breek.

Danseres saam met Leon en Dirk
Nikolas, die eienaar

Hoe later, hoe kwater en die gaste dans saam in 'n lang ry. Die tyd stap aan en nagereg word bedien.

Almal dans ...
... en geniet hulle gate uit

Ek en Dirk dans uitspattig saam met die res van die gaste op die ritmiese maat van die musiek.

Uitgelate

Dit word 'n aand om nooit te vergeet nie!

Thursday, May 29, 2014

Corfu. Corfu loop deur.

28 Mei 2014. Woensdag.

Leon drink tee, Dirk flou koffie en ek en Archie kapteinskoffie. Die kaptein moet kophou met elke bemanningslid se bestelling.

En toe tref ons die dorp. Hulle is dadelik verlief op Corfu. Dirk neem amper meer foto's as Elize. Dis kliek-kliek hier en kliek-kliek daar. As ons net draai, word ons gekliek. Dis foto's van ons wat stap, van ons wat rondkyk, van ons wat poseer, van ons wat ...

Ou Fort toneel
Oppad dorp toe
By die Ou Fort se uitgang
Liston lampe
Archie voor nuwe fort
Ou Paleisboog

Ek wens later sy batterye word pap dat ons kan ontspan, want ons pense moet op 'n permanente basis ingetrek wees, want ons kan enige oomblik gekliek word.

Museum van Asiatiese Kuns
Bizantyse Kerk

Ons loop die dorp plat, eet 'n gyros by 'n straatkafee en loop die dorp nog platter. My beseerde knië roep later halt, maar die manne stap met hulle lang bene en groot pote en ek moet maar byhou.

Etenstyd

Maja se dek lyk baie verleidelik en ons laat ons uitguputte liggame rus. Die atmosfeer van Mandraki is ouwêrelds, die omgewings is besonders mooi, die see is blou en die manne dink hulle is in die paradys.

Die manne en Mandraki


Wednesday, May 28, 2014

Corfu. Kuiermense

27 Mei 2014. Dinsdag.

Ek en Archie Corfu heerlik. Ons is mos lief vir die plek.

"Underneath the arches"

Ons klim die bus na Kanoni en kyk na die klein kerkie op Panagia Vlachemon, sowel as Pontikonnissi Eiland (Mouse Eiland).

Kerkie met Pontikonnissi Eiland (Mouse Eiland) in agtergrond
Eiland kerkie

Toe loop ons die 5 km terug verby die Paleopolis argeologiese terrein en die Mon Repose Landgoed met sy Doric Tempel.

Paleopolis argeologiese terrein
Doric Tempel

Ons maak vir Maja skoon en sy lyk soos 'n nuwe sikspens. Spesiaal net vir die manne. Ek maak vir hulle choumi, oftewel hummus, en braai frikkadelle en ons wag die tyd af.

Toe is dit skielik 19:30 en ons stap busstop toe om bus nr. 15 na die lughawe te kry. Na 'n ewigheid en 'n half kom hy om die draai en ons klim die bus en daar trek ons. Reguit na die lughawe toe om vir Leon en Dirk te gaan ontmoet.

En daar is hulle, wagtend op hulle bagasie. Ons wuif soos windmeulens deur die venster om hulle aandag te trek en Dirk sien ons. Sy gesig breek oop in 'n glimlag. Hulle kom deur die glasdeur en ek groet hulle soos die vader die verlore seun van ouds gegroet het. Ek verswelg hulle met my omhelsing.

Welkom Leon
Dirk word verswelg

Ons kry 'n taxi en ons vier, twee groot rugsakke en handbagasie sit toe daardie motor kant aan wal. Hy laai ons voor die ingang van ons fort af. Magtig, was hulle beïndruk! Om in 'n wêrelderfenisgebied tuis te gaan en nogal in 'n seiljag. Sowat van "oo" en "aa" het ek lanklaas gehoor.

Binne enkele oomblikke krap hulle vir Maja so om dat dit lyk of die Meltimi (dis die Aegean see se gevreesde wind) haar getref het. Maar ek is so bly om hulle te sien, ek vergewe hulle daar en dan. Ons klink 'n glasie Ouzo en hy val waar hy wil. Ons eet heerlik aan taramasalata, hummus, frikkadelle en olywe en aarbeie.

Die Mandraki Manne

Na 'n gebabbel en geskerts en gelag is die manne moeg, want dis al amper die volgende dag en ons gaan slaap. Maja sus hulle aan die slaap en hulle slaap deur.

Dis so lekker om kuiermense te hê.

Sunday, May 25, 2014

Corfu Eiland. Corfu.


25 Mei 2014. Sondag.

St Stefano tot Corfu (Mandraki Marina)
Oggendskoot - Albanië
Nuwe Fort

Ek is tuis. By my eie fort in die Mandraki Marina in Corfu. Die fort staan nog steeds en wag hou oor al die seiljagte en hul maste wat ritmies heen en weer wieg.

Mandraki Marina onder die Ou Fort

Ons gaan hier bly vir vier nagte. Dis nou boot skoonmaak se dinge. Alles moet piekfyn wees vir Leon en Dirk wat Dinsdag kom.

Corfu 
Corfu

Ons is besig om die hele Maja, van bo tot onder, skoon te maak. Ons moet ook die kosvoorrade ruim aanvul, want dié manne kan eet!

As julle nie van my hoor nie, moenie vrees nie, niks het gebeur nie.


Saturday, May 24, 2014

Corfu Eiland. St. Stefano Baai.

24 Mei 2014. Saterdag.

Gialiskari Baai tot St Stefano Baai

Gister was dit somer. Vandag skyn die son nie.

Ons gaan later vandag net om die draai na St Stefano Baai (39° 45.982 N, 19° 56.957 O), 'n hele 2.4 myl. Ons is eintlik net besig om die tyd af te wag vir Leon en Dirk om ons Dinsdag in Corfu te ontmoet. Ons "kill time" soos Archie altyd sê. Ons het vandag geen haas nie.

Eers neem ons Dinkie en ons gaan op 'n geheime sending wat later openbaar gemaak sal word. Toe ons terug is, besluit ons om die vloerplanke op te lig om skoon te maak. Wat 'n verrassing wag daar toe nie vir ons nie. Dis vol water! Die kombuis se "bilge" en ook onder die trappe. Dit het op 'n stadium ingereën, dis miskien waar al die water vandaan kom. Ons maak skoon en droog. Die planke word afgevee, die "bilges" word uitgewas.

Skoon en droog

Leon en Dirk hoef nou nie vir sinking te vrees nie, sy is droog. Daar is ook geen muise of enige kruipende insekte op Maja nie. Na die skoonmaakaksie, is ons veeslik tevrede met onsself. Dis verbasend hoe sindelikheid jou met genoegdoening kan vervul.

Ons vertrek 13:30 en vaar rustig, verby Kalami Baai waar ek en Archie 'n villa wil koop.

Hier wil ons 'n villa koop

Na 'n halfuur is ons daar, soek 'n geskikte plek in die baai en gooi anker. Verlede jaar hierdie tyd was ek met elke ankergooi en vasmeersessie 'n senuweewrak. Hierdie jaar is dit so anders. Laerskool Risiville, waar ek skoolgegaan het, se leuse is: "Kennis is krag". Dis wraggies die waarheid.

Die seiljagte kom een vir een grasieus, soos kameelperde ingevaar, soek 'n plekkie, gooi anker en ontspan.

St. Stefano Baai

Al die jagte draai in harmonie met mekaar in die riging waar Gus hulle wil laat rus vir die aand.




Friday, May 23, 2014

Corfu Eiland. O. Gialiskari.

22  Mei 2014. Donderdag.

Petriti tot O. Gialiskari

Ons vertrek en toe Veronica hoor die anker word opgetrek, is sy dadelik op die dek om te groet, die tradisionele vaarwel-wuif met die hand.

Gialiskari Baai (39° 44.308 N, 19° 55.932 O) lê noord van Corfu Dorp. Die 18 myl is lank en vervelig.

Corfu Dorp
Hoofland
Corfu Eiland

Ons motor, want Gus is weg. Die water is kalm en ek dink aan die Aegean See, die rowwe Aegean See. En toe komponeer ek. Ja, met note en al. Dit sal nou wel vir Mozart in sy graf laat omdraai en Beethoven weer laat hoor van skok, maar ek komponeer. Dis meer 'n Gr-6 leierskamp spanbouliedjie vir die eerste aand se konsert, 'n saamsingliedjie vir ons twee stelle besoekers wat saam met ons die rowwe waters gaan aanpak.

Gus steek op en ons seil heerlik en vinnig. Dis toe ons die seile moet intrek wat dit gebeur. Die detail sal verswyg word, want anders dink julle ons huwelik is op die rotse, dis nou figuurlik gesproke. Ek kan net noem dat ek nie 'n "natural sailor" is nie.

Ons anker maklik in die baai en die aand hou die taverna 'n Griekse lewendige musiekaand. Ek sou so graag wou gaan ...



O. Gialiskari.
23 Mei 2014. Vrydag.


Op die loom-lui Vrydagoggend word ek weer eens wakker gemaak met my kapteinskoffie en die woorde:"Is jy reg vir pannekoek?" Ek dog eers dit reën saggies buite of dis dalk mistig of iets, maar nee, die son skyn somershelder en dis 'n pragtige dag in die mooi baai. Miskien soek hy dalk witvoetjie na gister ...

Esther, ons eet pannekoek!

Ons gaan stap. Eers na Kalami. Dis die plek waar Gerald Durrel, die skrywer van "My family and other animals"  se broer, Lawrence gebly het. Dis 'n groot wit huis. Sy verhaal speel in die omgewing af.

Kalami Baai
Lawrence Durrel se huis

Daarna stap ons na Kouloura, die volgende baai. Die een plek wil mooier wees as die ander.

Kouloura Baai

En ek besluit - ek wil op Corfu Eiland bly. Archie moet vir ons 'n villa hier koop. Dan kan my hele familie vir ons kom kuier. (Hy het klaar nee gesê).

Maja in Gialiskari Baai
Die water en die weer is gemaak vir swem


Die somer is hier.

Wednesday, May 21, 2014

Corfu Eiland. Petriti. Vlieënde Hollanders.

21 Mei 2014. Woensdag.

O. Lakka tot Petriti

Dis roerloos stil. Lakka Baai is n spieël.

Die bestemming is vandag die klein dorpie, Petriti  (39° 27.199 N, 20° 00.179 O), 19 myl, op Corfu Eiland. Dis 'n vlak baai en daar lê mos hoeka 'n jag wat gestrand het. Die hoofland is deinserig ver. Hier en daar is daar seiljagte met 'n hoofseil wat gespan is. Ons s'n ook. Dis eintlik maar net vertoon, want Gus is maar effentjies.

Die hoofland lê doer ver

Ons oefen vir sangaand, maar Archie sing sulke generasiegaping liedjies wat ek glad nie ken nie. Ons het ook verskillende menings oor sangaand. Hy dink mens moet regtig kan sing om sangaand te hou (wat my dan onmiddellik diskwalifiseer) en ek dink jy moet wíl sing, maak nie saak hoe dit klink nie, solank jy dit geniet. Archie kan eintlik baie mooi sing.

So kom ons sing-sing, stry-stry, prrr-prr om die baie vlak draai naby Petriti. Die hawe is eintlik vir die vissersbote bedoel, maar daar is 'n paar
plekke vir jagte. Die res van die hawe is baie vlak. As jy nie plek by die hawe kry nie, moet jy in die baai anker.

Petriti

Ek gryp eers gou die boek om weer te kyk of dit diep genoeg is vir Maja. As jy jou maag intrek en asem ophou,is die diepte reg. Daar staan een
jag vasgemeer langs die kaai en 'n ander jag wat verdag lyk. Ons neem posisie in, Archie tru, ek gooi, die Fransman gryp en maak vas. Maja
piep-piep-piep vir die diepte, maar ons is vas.

Die Franse vrou is uitgehonger vir geselskap en ons praat land en sand. Toe kom ons agter die verdagte boot, met die Hollandse vlag is gestrand.

Die "nie-Vlieënde" Hollanders

Hulle het te diep ingevaar en nou is hulle vas op die sand in die vlak water. Die boek sê dis net 'n meter diep waar hulle staan. Hulle gaan gooi die spaaranker met die dingy uit, katrol die tou in, tru agteruit, gebruik die "bow thrusters" om die snoet te beweeg, dit klink en lyk soos oordeelsdag.

Maar niks, die Hollanders sit. Hulle vat toe die tou na die kaai en maak die vas. Katrol, katrol, maar niks. Die Hollanders sit. Die Fransman was 'n
hawemeester op sy dae in Frankryk en hy sê hulle moet die seile span dat die wind hulle kan help. Op gaan die seile, maar niks. Die Hollanders
sit!

Die seile is gespan en tou is aan die kaai vas

'n Vissersboot besluit om in te gryp. Hy trek laat dit bars, dit sukkel, rookbolle trek en uiteindelik, na 'n gespartel, sien jy net sand en hulle is los.

'n Vissersboot tot die redding

Die klein skare juig en die Vlieënde Hollanders vaar onder volseil uit die hawe uit.

Die skare - Veronica (die Franse vrou) en Archie

Dankie tog dit was nie ons nie.

Ons en die Vlieënde Hollanders

Petriti is 'n baie klein vissersdorpie waar die lewe sy gang gaan. Ons stap in die plekkie rond. Dis lekker hier.

Petriti se besoekerskaai
Skuit

Ons stap na die ander gestrande seiljag en Archie stel ondersoek in. Hy bekyk die besigheid van alle kante. Onverklaarbaar, hoekom die jag
gestrand het. Daar is wel 'n groot stampplek aan die kant van die jag.

Lankal al gestrand
Archie stel ondersoek in

Ons stap terug, sit op die dek, maak aandete en eet rustig aan ons vleislose dis. Die skemer daal en ons kyk na die laaste sonneskyn.

'n Meeu roep.