Wednesday, May 21, 2014

Corfu Eiland. Petriti. Vlieënde Hollanders.

21 Mei 2014. Woensdag.

O. Lakka tot Petriti

Dis roerloos stil. Lakka Baai is n spieël.

Die bestemming is vandag die klein dorpie, Petriti  (39° 27.199 N, 20° 00.179 O), 19 myl, op Corfu Eiland. Dis 'n vlak baai en daar lê mos hoeka 'n jag wat gestrand het. Die hoofland is deinserig ver. Hier en daar is daar seiljagte met 'n hoofseil wat gespan is. Ons s'n ook. Dis eintlik maar net vertoon, want Gus is maar effentjies.

Die hoofland lê doer ver

Ons oefen vir sangaand, maar Archie sing sulke generasiegaping liedjies wat ek glad nie ken nie. Ons het ook verskillende menings oor sangaand. Hy dink mens moet regtig kan sing om sangaand te hou (wat my dan onmiddellik diskwalifiseer) en ek dink jy moet wíl sing, maak nie saak hoe dit klink nie, solank jy dit geniet. Archie kan eintlik baie mooi sing.

So kom ons sing-sing, stry-stry, prrr-prr om die baie vlak draai naby Petriti. Die hawe is eintlik vir die vissersbote bedoel, maar daar is 'n paar
plekke vir jagte. Die res van die hawe is baie vlak. As jy nie plek by die hawe kry nie, moet jy in die baai anker.

Petriti

Ek gryp eers gou die boek om weer te kyk of dit diep genoeg is vir Maja. As jy jou maag intrek en asem ophou,is die diepte reg. Daar staan een
jag vasgemeer langs die kaai en 'n ander jag wat verdag lyk. Ons neem posisie in, Archie tru, ek gooi, die Fransman gryp en maak vas. Maja
piep-piep-piep vir die diepte, maar ons is vas.

Die Franse vrou is uitgehonger vir geselskap en ons praat land en sand. Toe kom ons agter die verdagte boot, met die Hollandse vlag is gestrand.

Die "nie-Vlieënde" Hollanders

Hulle het te diep ingevaar en nou is hulle vas op die sand in die vlak water. Die boek sê dis net 'n meter diep waar hulle staan. Hulle gaan gooi die spaaranker met die dingy uit, katrol die tou in, tru agteruit, gebruik die "bow thrusters" om die snoet te beweeg, dit klink en lyk soos oordeelsdag.

Maar niks, die Hollanders sit. Hulle vat toe die tou na die kaai en maak die vas. Katrol, katrol, maar niks. Die Hollanders sit. Die Fransman was 'n
hawemeester op sy dae in Frankryk en hy sê hulle moet die seile span dat die wind hulle kan help. Op gaan die seile, maar niks. Die Hollanders
sit!

Die seile is gespan en tou is aan die kaai vas

'n Vissersboot besluit om in te gryp. Hy trek laat dit bars, dit sukkel, rookbolle trek en uiteindelik, na 'n gespartel, sien jy net sand en hulle is los.

'n Vissersboot tot die redding

Die klein skare juig en die Vlieënde Hollanders vaar onder volseil uit die hawe uit.

Die skare - Veronica (die Franse vrou) en Archie

Dankie tog dit was nie ons nie.

Ons en die Vlieënde Hollanders

Petriti is 'n baie klein vissersdorpie waar die lewe sy gang gaan. Ons stap in die plekkie rond. Dis lekker hier.

Petriti se besoekerskaai
Skuit

Ons stap na die ander gestrande seiljag en Archie stel ondersoek in. Hy bekyk die besigheid van alle kante. Onverklaarbaar, hoekom die jag
gestrand het. Daar is wel 'n groot stampplek aan die kant van die jag.

Lankal al gestrand
Archie stel ondersoek in

Ons stap terug, sit op die dek, maak aandete en eet rustig aan ons vleislose dis. Die skemer daal en ons kyk na die laaste sonneskyn.

'n Meeu roep.

8 comments:

  1. Corfu! Gerald Durrell se "My Family and other Animals" Vertel staaltjies van sy familie op Corfu in die dertigerjare. Die boek in standerd 6 gelees (Marietjie sal bevestig dis baie lank terug) en onthou dit nou nog! Geniet die eiland. Julle foto's is fenomenaal. Annette se ma wil die een met die fietse teen die huis verf. Vandag se bootjie vra ook om geteken te word.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi Santie.
      Ons is nou baie naby die plek waar Gerald Durrell se storie afspeel. Het toevallig die boek gelees net voor ons kom seil het. Ons voel gevlei dat Annette se ma die foto's wil verf.

      Delete
  2. Hallo!

    Dis soos die man eenkeer gese het: 'Never a dull moment.' Gelukkig kon hulle uitkom. Dis erg vd ander jag wat so gestrand daar le. So heeltemal uit sy plek uit, soos n walvis op die strand.

    Geniet die dorpie
    Liefde
    Exxxx

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi Elize.
      As jy opwinding soek, kom seil saam met ons! Ons wonder ook oor die gestrande jag.

      Delete
  3. ...vasmeer is 'n spectator sport, maar met simpatie, opgewondenheid, meegevoel, blydskap as dit suksesvol was, en veligting dat dit nie julle was nie maar geen skaamte as dit wel julle is nie. Bootmense, snaakse goed...

    ReplyDelete
  4. Hi Gerrie.
    Jy sal sien dat vasmeer ook spansport is. Spectator? Spektakel?

    ReplyDelete
  5. Awesome! Mag ek baie eerlik wees? So 'n gestrand(t)e boot is vir my die toppunt van opwinding. Wanneer ek eendag weer scuba wil ek wrakduike doen - so, daai ou bootjie wat so le het my volle aandag (die simpatie sal later kom). Julle foto's is cool. Xxx

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi.
      Strand is opwindend, solank dit nie jyself is nie. Ons wonder ook oor die stranding.

      Delete