Friday, May 23, 2014

Corfu Eiland. O. Gialiskari.

22  Mei 2014. Donderdag.

Petriti tot O. Gialiskari

Ons vertrek en toe Veronica hoor die anker word opgetrek, is sy dadelik op die dek om te groet, die tradisionele vaarwel-wuif met die hand.

Gialiskari Baai (39° 44.308 N, 19° 55.932 O) lê noord van Corfu Dorp. Die 18 myl is lank en vervelig.

Corfu Dorp
Hoofland
Corfu Eiland

Ons motor, want Gus is weg. Die water is kalm en ek dink aan die Aegean See, die rowwe Aegean See. En toe komponeer ek. Ja, met note en al. Dit sal nou wel vir Mozart in sy graf laat omdraai en Beethoven weer laat hoor van skok, maar ek komponeer. Dis meer 'n Gr-6 leierskamp spanbouliedjie vir die eerste aand se konsert, 'n saamsingliedjie vir ons twee stelle besoekers wat saam met ons die rowwe waters gaan aanpak.

Gus steek op en ons seil heerlik en vinnig. Dis toe ons die seile moet intrek wat dit gebeur. Die detail sal verswyg word, want anders dink julle ons huwelik is op die rotse, dis nou figuurlik gesproke. Ek kan net noem dat ek nie 'n "natural sailor" is nie.

Ons anker maklik in die baai en die aand hou die taverna 'n Griekse lewendige musiekaand. Ek sou so graag wou gaan ...



O. Gialiskari.
23 Mei 2014. Vrydag.


Op die loom-lui Vrydagoggend word ek weer eens wakker gemaak met my kapteinskoffie en die woorde:"Is jy reg vir pannekoek?" Ek dog eers dit reën saggies buite of dis dalk mistig of iets, maar nee, die son skyn somershelder en dis 'n pragtige dag in die mooi baai. Miskien soek hy dalk witvoetjie na gister ...

Esther, ons eet pannekoek!

Ons gaan stap. Eers na Kalami. Dis die plek waar Gerald Durrel, die skrywer van "My family and other animals"  se broer, Lawrence gebly het. Dis 'n groot wit huis. Sy verhaal speel in die omgewing af.

Kalami Baai
Lawrence Durrel se huis

Daarna stap ons na Kouloura, die volgende baai. Die een plek wil mooier wees as die ander.

Kouloura Baai

En ek besluit - ek wil op Corfu Eiland bly. Archie moet vir ons 'n villa hier koop. Dan kan my hele familie vir ons kom kuier. (Hy het klaar nee gesê).

Maja in Gialiskari Baai
Die water en die weer is gemaak vir swem


Die somer is hier.

5 comments:

  1. Hi Julle.

    Krieks, jy is seker al opgewonde vir jou gunsteling, van ver af sien is seker maar nie dieselfde nie.

    ...darm nie skade aan Maja nie? (en onhou reel 3)...en 'n villa op Korfu? (hmm, onthou, reel 3 tel nie op land nie!)

    Lekker bly
    Gerrie
    Geniet

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi.

      Nie eers sprake van skade nie. Onthou, ek het darem ook my skipperspapiere. Die meeste van die tyd is die Skipper reg.

      Delete
  2. Halo Julle!

    Wat is reel 3?

    Wel, wat ook al gebeur het, eks bly dit klink of alles darem reg is. En ek weet hoe smul mens aan Archie se kapteinspannekoeke.

    Is die rooi hoed nr 4, of is dit een wat jy al gedra het. Ek hou nou nie meer by met al die hoede nie. Wanneer jy nr 4 dra moet jy maar se. Dis die eerste keer wat ek hoor jy swem en dit klink of dit lekker warm was. Swem in daardie mooi blou see bly darem maar iets besonders, heerlik.

    n Villa sou lekker gewees het, vir julle, eintlik vir jou want klink of Arch nie wil byt nie, en vir ons want dan kon ons kom kuier het. Dis baie mooi daar, en ek kan verstaan hoekom jy so mal oor Corfu eiland is. Is dit die skoonheid vd gebied, of die vibe, of altwee?

    Julle moet dit geniet daar
    Liefde xxxE

    ReplyDelete
  3. Dit is darem baie mooi daar!!Ek is bly vir julle dat die weer mooi saam speel en dit lekker warm is vir swem,dit lyk vervrissend.Ek sien die goudbruin lekkerte daar wat kaptein Archie gemaak het ,pannekoeke lyk verleidelik ,kan dit amper proe. Geniet julle week en die gaste wat gaan arriveer Groete Esther

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi.
      Ek kan nie pannekoek eet sonder om aan jou te dink nie!

      Delete