Friday, May 23, 2014

Corfu Eiland. O. Gialiskari.

22  Mei 2014. Donderdag.

Petriti tot O. Gialiskari

Ons vertrek en toe Veronica hoor die anker word opgetrek, is sy dadelik op die dek om te groet, die tradisionele vaarwel-wuif met die hand.

Gialiskari Baai (39° 44.308 N, 19° 55.932 O) lê noord van Corfu Dorp. Die 18 myl is lank en vervelig.

Corfu Dorp
Hoofland
Corfu Eiland

Ons motor, want Gus is weg. Die water is kalm en ek dink aan die Aegean See, die rowwe Aegean See. En toe komponeer ek. Ja, met note en al. Dit sal nou wel vir Mozart in sy graf laat omdraai en Beethoven weer laat hoor van skok, maar ek komponeer. Dis meer 'n Gr-6 leierskamp spanbouliedjie vir die eerste aand se konsert, 'n saamsingliedjie vir ons twee stelle besoekers wat saam met ons die rowwe waters gaan aanpak.

Gus steek op en ons seil heerlik en vinnig. Dis toe ons die seile moet intrek wat dit gebeur. Die detail sal verswyg word, want anders dink julle ons huwelik is op die rotse, dis nou figuurlik gesproke. Ek kan net noem dat ek nie 'n "natural sailor" is nie.

Ons anker maklik in die baai en die aand hou die taverna 'n Griekse lewendige musiekaand. Ek sou so graag wou gaan ...



O. Gialiskari.
23 Mei 2014. Vrydag.


Op die loom-lui Vrydagoggend word ek weer eens wakker gemaak met my kapteinskoffie en die woorde:"Is jy reg vir pannekoek?" Ek dog eers dit reën saggies buite of dis dalk mistig of iets, maar nee, die son skyn somershelder en dis 'n pragtige dag in die mooi baai. Miskien soek hy dalk witvoetjie na gister ...

Esther, ons eet pannekoek!

Ons gaan stap. Eers na Kalami. Dis die plek waar Gerald Durrel, die skrywer van "My family and other animals"  se broer, Lawrence gebly het. Dis 'n groot wit huis. Sy verhaal speel in die omgewing af.

Kalami Baai
Lawrence Durrel se huis

Daarna stap ons na Kouloura, die volgende baai. Die een plek wil mooier wees as die ander.

Kouloura Baai

En ek besluit - ek wil op Corfu Eiland bly. Archie moet vir ons 'n villa hier koop. Dan kan my hele familie vir ons kom kuier. (Hy het klaar nee gesê).

Maja in Gialiskari Baai
Die water en die weer is gemaak vir swem


Die somer is hier.

Wednesday, May 21, 2014

Corfu Eiland. Petriti. Vlieënde Hollanders.

21 Mei 2014. Woensdag.

O. Lakka tot Petriti

Dis roerloos stil. Lakka Baai is n spieël.

Die bestemming is vandag die klein dorpie, Petriti  (39° 27.199 N, 20° 00.179 O), 19 myl, op Corfu Eiland. Dis 'n vlak baai en daar lê mos hoeka 'n jag wat gestrand het. Die hoofland is deinserig ver. Hier en daar is daar seiljagte met 'n hoofseil wat gespan is. Ons s'n ook. Dis eintlik maar net vertoon, want Gus is maar effentjies.

Die hoofland lê doer ver

Ons oefen vir sangaand, maar Archie sing sulke generasiegaping liedjies wat ek glad nie ken nie. Ons het ook verskillende menings oor sangaand. Hy dink mens moet regtig kan sing om sangaand te hou (wat my dan onmiddellik diskwalifiseer) en ek dink jy moet wíl sing, maak nie saak hoe dit klink nie, solank jy dit geniet. Archie kan eintlik baie mooi sing.

So kom ons sing-sing, stry-stry, prrr-prr om die baie vlak draai naby Petriti. Die hawe is eintlik vir die vissersbote bedoel, maar daar is 'n paar
plekke vir jagte. Die res van die hawe is baie vlak. As jy nie plek by die hawe kry nie, moet jy in die baai anker.

Petriti

Ek gryp eers gou die boek om weer te kyk of dit diep genoeg is vir Maja. As jy jou maag intrek en asem ophou,is die diepte reg. Daar staan een
jag vasgemeer langs die kaai en 'n ander jag wat verdag lyk. Ons neem posisie in, Archie tru, ek gooi, die Fransman gryp en maak vas. Maja
piep-piep-piep vir die diepte, maar ons is vas.

Die Franse vrou is uitgehonger vir geselskap en ons praat land en sand. Toe kom ons agter die verdagte boot, met die Hollandse vlag is gestrand.

Die "nie-Vlieënde" Hollanders

Hulle het te diep ingevaar en nou is hulle vas op die sand in die vlak water. Die boek sê dis net 'n meter diep waar hulle staan. Hulle gaan gooi die spaaranker met die dingy uit, katrol die tou in, tru agteruit, gebruik die "bow thrusters" om die snoet te beweeg, dit klink en lyk soos oordeelsdag.

Maar niks, die Hollanders sit. Hulle vat toe die tou na die kaai en maak die vas. Katrol, katrol, maar niks. Die Hollanders sit. Die Fransman was 'n
hawemeester op sy dae in Frankryk en hy sê hulle moet die seile span dat die wind hulle kan help. Op gaan die seile, maar niks. Die Hollanders
sit!

Die seile is gespan en tou is aan die kaai vas

'n Vissersboot besluit om in te gryp. Hy trek laat dit bars, dit sukkel, rookbolle trek en uiteindelik, na 'n gespartel, sien jy net sand en hulle is los.

'n Vissersboot tot die redding

Die klein skare juig en die Vlieënde Hollanders vaar onder volseil uit die hawe uit.

Die skare - Veronica (die Franse vrou) en Archie

Dankie tog dit was nie ons nie.

Ons en die Vlieënde Hollanders

Petriti is 'n baie klein vissersdorpie waar die lewe sy gang gaan. Ons stap in die plekkie rond. Dis lekker hier.

Petriti se besoekerskaai
Skuit

Ons stap na die ander gestrande seiljag en Archie stel ondersoek in. Hy bekyk die besigheid van alle kante. Onverklaarbaar, hoekom die jag
gestrand het. Daar is wel 'n groot stampplek aan die kant van die jag.

Lankal al gestrand
Archie stel ondersoek in

Ons stap terug, sit op die dek, maak aandete en eet rustig aan ons vleislose dis. Die skemer daal en ons kyk na die laaste sonneskyn.

'n Meeu roep.

Tuesday, May 20, 2014

Paxoi. Lakka Baai.

20 Mei 2014. Dinsdag.

Kalamitsa Baai tot Lakka Baai

Vandag is ek 'n vrou van min woorde. Ons het aan die weste kant van Antipaxoi en Paxoi omgevaar. Dis ru en bekend vir die dramatiese kuslyn
en die talle grotte. Dis asof die see en wind met al hul krag deur die eeue probeer het om die berg op te vreet, maar dit net plek-plek kon regkry.

Al wat kortgekom het, was sonskyn om die water blouer en die rotse gouer te kleur.

Noordelike punt van Antipaxoi
Wind en see erosie
Ortholithos Grot
Ortholithos Rots
Blougrot 1
Blougrot 2
A. Pounta Tonnel
Reuse kranse oppad na Lakka

Ons gaan om die punt en daar is pragtige Lakka Baai, ons ankerplek. Ons klim later in splinternuwe Dinkie en ry in grasie dorp toe en word toe in
die bakkery verlei om burek te koop vir aandete.

Lakka Dorp
Lakka Baai (Nuwe hoed)
Lekka burek en witwyn

Ons weet nog nie waarheen ons môre gaan nie.




Antipaxoi. Kalamitsa Baai.

19 Mei 2014. Maandag.

Preveza tot Kalamitsa Baai

Gisteraand het Archie vir my gewys waar sit die diesel se hoofafsluitklep en hoe om die dieseltoevoer af te sluit in geval van 'n brand. Ek moet allerande veiligheidsmaatreëls op Maja ken.

Ons verlaat Preveza, met Kleopatra Marina se maswoud aan die oorkant.

Kleopatra Marina

Vandag is 'n lang dag na die klein eiland, Antipaxoi, 29 myl om te vaar, na Kalamitsa Baai (39° 08.505 N, 20° 14.269 O). Dis 'n mooiweersbaai, jy kan net daar anker as dit baie goeie weer is. Ons maak eers gou die oggend dubbeld seker dat die weer goed lyk, voordat ons ons finale besluit oor dié baai as ankerplek maak.

Poseidon, YR en die Wind Guru voorspel dat die saak reg is, die wind is nie sterk nie en ons laat waai.  Dis oor die groot seestraat. Dis bewolk en
deinserig, met 'n bietjie wind van skuins agter. Ons span maar die seile om die beste gebruik te maak van die wind en sommer ook diesel te
spaar. So motorseil ons rustig verder. Die see is lekker plat, nes ek daarvan hou.

Archie sit agter die helm, maar hy bestuur nie. Auto bestuur vir Maja, want niemand is op die see nie, ons kanse vir 'n kop-aan-kop botsing is
nul. Ek sit lekker langbeen en gesels met Archie. Dis net ons, so ver as die oog kan sien. Stoksielalleen, op 'n Maandagoggend. Al wat nog kortkom, is die Vlieënde Hollander.

Gus verdwyn en ons trek die seile in. Ons motor rustig verder, Maja se dreunsang in ons ore. Bedrieg hierdie ore van ons ons, of sing Maja nou 'n ander deuntjie? 'n Stadige, eienaardige, onegalige en proesende hikdeuntjie? O flip, haar krag verdwyn en sy gaan staan, kragteloos, willoos. Sy luier, maar het geen spoed selfs al "rev" jy haar. Dan is daar bietjie spoed en dan net niks! Ek kyk benoud na Archie, maar hy lyk net so benoud.

Dis net ons, alleen op die see, sonder 'n engin! Ver agter lê Lefkas, ver voor lê Antipaxoi, ver regs (soos AWB) lê die hoofland en links is net see!

Agter ons is Lefkas
Voor ons is Antipaxoi
Regs is die hoofland
Links is Italië

En ons is in die middel, dobberende. Geen wind om ons te help nie, geen boot in sig nie. Wat nou!?

Archie gaan ondertoe, lig die enginkap op en kyk na binne. Hy sê dit klink of Maja nie diesel kry nie. Daar is 'n wavrag vol oorsake vir die probleem. Hy peuter hier en daar. Archie wil toe die brandstoffilter dreineer vir ingeval daar water in is. Toe Archie die hoofafsluitklep wil toemaak, is dit reeds toe. Ja, lag maar. Ons het ook, net harder as jy, want ons was baie verlig. Niks is stukkend nie. Archie maak die klep oop, ek gee vet en Maja het krag. Sy kan die diesel indrink en ons beweeg vorentoe. Dankie tog!

Nes Daskalia - Klein eiland naby Antipaxoi

Ons motor dankbaar verder. Ons kom naby die baai en vaar in. Vir my lyk die plek glad nie beskut nie. Dis 'n mooi baai, maar eenkant is hy oop
tot daar in Italië. Geen wonder hulle sê die weer moet reg wees. 'n Westewind is taboe.

Ons gooi toe wel anker (ek wou eers teëpraat), maar dis heerlik hier, windstil. Dis 'n broeiplek vir die seemeeue en hulle raas en gesels en
rumoer. Die kuikens is nog bruin en lelik. Ek is nou 'n voëlkyker. Die water en rotse is pragtig. Archie swem tot in die yskoue water.

Broeiplek van seemeeue

Later die middag word nuwe Dinkie te water gelaat.

Ou Arch. Nuwe Dinkie (met roeispane).
Ruwe rotse

Sunday, May 18, 2014

Golf van Amvrakikos. Preveza.

18 Mei 2014. Sondag.

Vonitsa tot Preveza

Die nag word dag en ons vertrek. Ons albei dink aan die anker, maar dit trek op sonder probleme. Ons slaak 'n sug van verligting en toe werk die dieptemeter nie! Archie het die vorige dag weer iets geinstalleer, 'n kragpunt by die boksding waar die instrumente is en die helm aan vas is. Hy maak daar en dan, sommer so op die bewegende Maja, die boksding uitmekaar en fieks die los draad. En daar werk die dieptemeter. Weer slaak ons 'n sug van verligting. Dit lyk my ons slaak net heeltyd!

Dis koud as die wind waai, want daar is jou werklik nog sneeu op die berge.


Sneeu op die berge

Ons sien weer verafgeleë dolfyne wat spring en speel en so kom Preveza (38° 57.465 N, 20° 45.310 O) al nader en nader, net 8.3 myl. Die wind waai net liggies en ons anker en meer maklik vas. Ons sit lekker langbeen en kyk die lewe uit die hoek van die boot en daarna gaan stap ons, word ons deel van die bewegende lewende lywe op die kaai.

Venesiese kloktoring
Klein tuin
Kom aan boord
Terug aan boord