17 Augustus 2013. Saterdag.
WAARSKUWING: Van die foto's is nie vir sensitiewe kykers nie (PG)
Ons gaan vandag Tirana toe, die hoofstad van Albanië. Dis in die binneland. Ons klim die 08:00 bus en daar trek ons. Dis 'n uur se ry, al is dit net 35 km tot daar.
Daar is 'n paar besieningswaardighede wat ons besien. Die Et'hem Bey Mosque is een van die oudste geboue in die stad. Dit is gelukkig nie vernietig in die "atheism compaign" van die laat 1960's nie. Daar is ook baie standbeelde van ooms wat belangrik was.
 |
Et'hem Bey Mosque |
 |
Muurskildery in moskee |
 |
Standbeeld van die nasionale held, Skanderebeg |
 |
Standbeeld van die "Unknown Partisan" |
Maar ons is eintlik oppad na Mt Dajti National Park, berge toe, 1200 m hoog! Ons klim weer 'n bus en ry na Porcelani, die naaste busstop aan die kabelspoorstasie na die park. Ons klim af en 'n baie vriendelike Albaniese meisie wys ons die pad verder na die kabelspoorstasie. Sy praat ook goeie Engels en ons gesels soos wat ons loop.Die kabelkar maak dit maklik om in die hoë berge te kom. Dit is 'n 15 min rit oor plase, heuwels, kranse, bome en bunkers, wat in die oorlogtyd gebou is.
 |
Kabelspoor |
Die bunkers is gebou van 1950 tot 1985 tydens Enver Hoxha se regime. Daar word beweer dat dit onmoontlik is om te vernietig, selfs 'n aanval deur 'n tenk sal dit niks maak nie. Om die feit te bewys, het die ingenieur binne-in gestaan, terwyl dit deur 'n tenk gebombardeer was. Die bunker het ongeskonde bly staan en duisende is gebou.
 |
Archie ondersoek Enver Hoxha se "konkreet nalatingskap" |
Na die kabelkarrit is ons bo. Dis heerlik in die berge. 'n Gratis taxi neem ons na die Panarama Restaurant, waar ons middagete gaan eet. Ek bestel geroosterde lam en die Engelse Archie bestel skaapkop.
 |
Uitsig oor Tirana |
 |
Panorama Restaurant |
Terwyl ons nog aan ons rooiwyn teug, kom ons kos. Die oorlede lam kyk en grinnik vir Archie. Maar dié Engelsman doen goed. Hy sê daar is soveel verskillende teksture. Hy verwys natuurlik na die breins (wat hy bedrup met vars suurlemoen), die wange ("dis lekker"), die oog ("come lamb, part with your eye"), verhemelte (hy giggel en ek gril), die tong en al die ander flentertjies vleis. Hy geniet dit vreeslik. Gryp tot later die kop met die hand. Dis iets wat hy nie doen nie, want hy is een van daai Engelse wat bene met 'n mes en vurk afeet.
 |
Skaapkop |
 |
Uit met die oog! |
My lam is net so lekker en ek het lanklaas so lekker geëet. Na middagete stap ons die 1,2 km terug na die kabelkar en pak die terugtog aan. Ons kom 17:00 by die graandok aan, moeg en tevrede.
Ek hou van die vaste aarde, maar môre is dit weer 61 myl op see...
Published with Blogger-droid v2.0.10