Thursday, July 27, 2017

Amalioupolis.



14 Julie 2017. Vrydag.

Volos to Amalioupolis

Ons stap na supermark vir groente en vrugte. Daarna na die Hawe Polisie om die bemannings lys te verander, wat baie lank neem (Griekse burokrasie op sy beste). Koop op pad terug 'n internet bondel by Cosmote wat ook baie lank neem.

Uiteindelik is ons terug op Maja en maak reg om te ry. Dis daar waar ons probleme begin het. Ons vaar uit maar kan nie anker opkry nie, sit rotsvas. Kom terug land toe in ’n sterk kruiswind en maak weer aan kaai vas met behulp van Serbiese buurman. Buurman vaar uit. Sy anker gryp ons ketting. Hy sit ook vas.

Ryna swem uit om te help en vra die vrou wat haar man se plan is, want sy is bang hy trek aan die anker of ry oor haar wanneer sy wil af duik. Die vrou se kommentaar is “rather leave it – he does not talk to anybody, nobody knows his next move!" Archie swem ook uit en uiteindelik kom hulle anker vry en hulle skedaddle.

Ons probeer weer uitry. Die anker is nog steeds vas aan iets, maar met brute krag lig ons dit tot die oppervlak. Dit het ’n dik onderwater permanente mooring tou gegryp, saam met ’n merker boei se tou en ketting. Ons doen die tou-ding en uiteindelik is ons vry. Ek was gestres, maar Lourens en Ryna dink dit was ’n moerse ondervinding!

Ons vaar uit die hawe uit in 24 knope kopwinde en 'n groot see en ons kan teen 2500 opm net 'n spoed van 3 knope behaal. Teen dié opm sou ons normaalweg 6.5 knope kon haal.

Ons plan was eintlik om na Pythou Baai te gaan (dieselde seemeeu baai as met Pieter en Zané), maar verander dit weens die wind en mik na 'n meer wind-vriendelike Almalioupolis, 13.7 myl. Span uiteindelik seil en kry 'n lekker seil vir 2 ure in. Kom daar aan en die anker byt sommer die eerste keer.

Amalioupolis

Ryna maak stamppot vir aandete (kapokaartappels en broccoli met gebraaide vark) en ons eet 'n vroeg aanete. Daarna gaan Ryna en Lourens met Dinkie land toe. Die dorpie is redelik modern, mooi skoon en ’n regte vakansie dorp vir Grieke.

Ryna en Lourens slaap weer op die dek, maar die koue windvlae laat hulle vining inkruip.

Lourens an Ryna Arriveer


13 Julie 2017. Donderdag.

Marietjie se Ma is vandag oorlede. Ons innige simpatie vir haar en die familie. 

Die GPS mislei vir Ryna en Lourens en met seer voete kom hulle uiteindelik 20:00 aan by Maja.

Ryna en Lourens kom uiteindelik aan

Lourens stap …

… maar Ryna gallop!

Ons sit op die dek omsingel deur bagasie toe die Griekse stapleier, Thanasis Pantes, daar opdaag. Hy is dié een wat die du Plessis’s op twee staptoere gelei het in 2015 en het net gekom vir ’n hallo-sê. Ons praat land en sand, hy gee goeie raad, maar Maja is nie geskik vir al die baaie wat hy aanbeveel nie.

Die aand eet ons sommer ’n ligte vingerete. Daar is ’n moerse party by die Universiteit net oorkant ons wat eers 06:00 die volgende oggend opgehou het. Dis die verskriklikste musiek ooit, maar Lourens en Ryna slaap deur dit alles en nogal op die dek!


Pieter en Zané


Pieter en Zané kom by Maja aan net om te hoor dat Marietjie moet huis toe gaan om haar Ma te versorg en dat hulle Marietjie se groot skoene op kort kennisgewing en met minimale ervaring moet vul. Hulle het dit uitstekend reggekry al was Zané soms baie angstig.
Dankie, julle vir julle bydrae en ondersteuning. Ons hoop julle het die ervaring geniet.

Zané

Zané
Beste Ervaring:
Die adrenalien van ’n suksesvolle anker! Maak nie saak hoe die anker gebruik is nie. Daardie verligting as die ketting styf trek is uniek! Ek het gevoel elke biershandie is verdien!

'n Baie suksesvolle anker by Pythos Baai

Beste Plek:
Peristera Baai! Dit was onbeskryflik mooi. En die enkele huisies wat daar gebou is, het net die Griekse atmosfeer aangehelp. Dis natuurlik ook die plek waar ons die mooiste skulpskatte kon kry. Ek sal ’n week daar kan bly!

Peristera Baai

Pieter

Pieter

Beste Ervaring: 
Die oomblik toe die vorige, persoonlike seilrekord (’n skamele 6.3 knope), verpletter word met ’n nuwe algehele rekord van 7.5 knope! Nog beter egter, was toe dit vir lank genoeg gehandhaaf kon word, vir die GPS om dit inderdaad te registreer (en die rekord dus op rekord geplaas kon word!)

Kom 7.5 knope! Kom!

Beste Plek: 
Órmos Planitis! Afgeleë, afgesonder en met selfs die potensiaal om jou binne te hou. Die opwinding van ’n redelike nou en vlak ingang; amper asof mens bietjie deur die eiland ingesluk word. Dan natuurlik ook die merkwaardige vermoë vir aanpasbaarheid van die eiland se boerbokke, om met soutwater in hul waterbehoefte te kan voorsien.

Aanpasbare bok


Volos. Pieter en Zané Groet.


13 Julie 2017. Donderdag.

Zané en Pieter neem die 09:00 bus na Athene. Op pad terug van die busstasie gaan ek weer LIDL toe vir nog proviand. Terug op ’n dodelik warm boot is dit verder skrop en polish.

Swaar gelaai
Trek skoene aan
Wag vir bus
 Koebaai julle!


Monday, July 24, 2017

Volos.


12 Julie 2017. Woensdag. 

Pythou Baai tot Volos


Ek gaan vir oulaas land toe om ’n paar foto’s te neem.

Kleurvolle Maja
Pieter en Zané se laaste oggend op anker.
Maja

Volos, 14.9 myl, is ons eindbestemming vir vandag en ook Pieter en Zané se eindbestemming vir hulle Maja ervaring.

Daar is geen wind en ons motor heelpad na Volos. Ons soek plek, maar almal is “permanent moorings” behalwe langs die breekwater waar daar geen krag of water aangelê is nie. Noodgedwonge maak ons daar “alongside” vas. Die tekort aan krag en water is ’n probleem, want Maja moet skoon kom vir môre se nuwe gaste. Na ’n rukkie besluit ek om kans te vat en ons gaan maak vas aan ’n relatiewe oop stuk van die kaai. Hou maar duim vas dis niemand se plek nie.

Eet laaste van die oorskiet vir middagete.

Pieter en Zane gaan koop buskaartjies en ek gaan soek vir ’n krag en water kaart. Almal is suksesvol in hulle pogings. Archie begin vir Maja skoon suig en die laaste wasgoed te was.

Later ontdek ek ’n LIDL op Google Maps, 2.1 km weg, en is onmiddellik soontoe om proviand te koop. Ek kom terug met ’n rugsak vol bier – plus ’n paar ander eetgoedjies. Môre sal ons groot aankope doen met Ryna en Lourens.

Pieter en Zané loop Volos plat agter 'n yskasmagneet aan en is uiteindelik suksesvol. Hulle ontdek ook ook oulike restaurantjie wat net Grieks op die spyskaart het en 'n entjie uit die toeriste area is. Ek is lus vir “mixed grill” en hierdie lyk soos net die plek vir die dankie-sê ete. Toe dit donker raak, stap ons soontoe en eet ’n wonderlike ete. Daar is 5 tipes vleisgeregte en baie skyfies. Ons eet ons knuppeldik. Dankie julle. Net jammer Marietjie kon nie hier wees nie.

Vleis vir Afrika
Zané met ons kelner en 'n vriend