Friday, September 13, 2013

Wolkwoud. Dag 139.

13 September 2013. Vrydag.

O. Andreou tot O. Oxeias


Ons seildae raak min. Vandag is ons tweede laaste dag op die water. Ons is oppad na O. Oxeias (38º 20.150 N, 21º07.105 O). Dis 'n lang dag, 24 myl om te gaan.

Wolkwoud
Lug lyk soos woud
woud vol wolke.
Winde waai
wolke wyd en syd
.

Wolke
Katoen
Sekelwolk




Dit reën elders, want die wolkwoud verras ons met 'n reënboog. Oral is wolke. Sommige lyk soos wol, ander soos katoen. Party is spierwit, ander dreigend grys.

Dit reën elders



In dié omgewing is nie baie ankerplekke nie. Ons nader een van die ankerplekke. En wat sien ons daar? Die ankerplek het verander in 'n visplaas! So, anker is buite die kwessie. Die volgende ankerplek is ook 'n ... visplaas! Nou is daar net een plek oor en dit is so half in die middel van niks en nêrens. Die boek sê darem dit bied genoeg skuiling. En ons anker.

Oxeia Eiland
Ankerplek is nou visplaas
Uitsig van ankerplek




Die lug is nog steeds 'n wolkwoud. Ek hoop nou net nie hier broei iets hier uit nie. Gus waai ons die kant toe en dan daai kant toe. Ons het baie ankerketting uit, so ons is gepanser teen Gus.

Dramatiese aandtoneel



Ek is nie lus vir nagwaak nie.


Published with Blogger-droid v2.0.10

Anker op O. Andreou. Dag 138.

12 September 2013. Donderdag.


Fiskardo tot O. Andreou


Ons neem traag afskeid van Fiskardo. Ons trek anker op sonder probleme. En weg is ons na O. Andreou (38º18.406 N, 20º43.379 O), 13 myl op die suidelike punt van Ithaca Eiland.

Orals is wolke. Orals is berge. Orals is see. Orals is mooi. Ons is orals. Ons geniet die vaart.

Elke berg het sy eie wolk
Cephalonia Eiland



Ons vaar om die hoek en daar is O. Andreou, ons ankerplek. Vreedsaam, stil en mooi. Ons vestig ons weer snoesig en knus in die hoek, met 'n anker voor en twee toue wat ons aan die rotse vasmaak agter ("line ashore")

Ons bure op anker
"Line ashore"
Nog een



Die water is lou en helder en ek swem tot ek krokodilvel het. Ek besef dat my swemtyd min raak. Ek voer die visse en hulle vreet soos aasvoëls. Graanvlokkies is lekker.

Archie besluit dit is tyd vir braai. Waar is ou Bushy nou! Hy beveilig Maja baie goed en maak in Bushy se veilige braai vuur. Ons braai souvlaki (varkkebabs) en braaibrood en dink aan die huis. Ons smul aan die heerlike braaivleis, brood, slaai en plaaslike witwyn.

Dekbraai
Souvlaki - My mond water


Ai, dis so lekker op anker!
Published with Blogger-droid v2.0.10

Fiskardo.Dag 137.

11September 2013. Woensdag.

Frikes tot Fiskardo


Ons trek ons anker op, sonder probleme.

Ons bly by die F's. As dit nie Frikes is nie, is dit Fiskardo. Dis waarheen ons vandag gaan (38º 27.672 N, 20º 34.552 O), 9 myl. Dit is op Cephalonia Eiland.

Fiskardo is 'n gewilde stopplek vir jagte. Jy kry nie altyd daar plek nie, so ons hoop maar vir die beste. Ons span nie seile nie, want Gus lê. Hy is seker nog op Frikes doenig. Besig met manewales in die kaai.

Ons nader Fiskardo



Ons nader Fiskardo en dit lyk propvol. Voor ons is 'n jag, so ons is tweede in lyn vir 'n plek. Ons luier daar rond en die jag voor ons kry 'n plek. Ons luier nog rond en sowaar, 'n ander jag vertrek en ons het 'n plek. Wat 'n geluk! Archie tru, ek gooi anker, 'n man wat nie kan buk nie, help op die kaai en ons is vasgemeer.

Propvol kaai
Uitsig op die dorp
Fiskardo se baai



Wat 'n heerlike plek is Fiskardo nie. Ons is op die dorpskaai en die atmosfeer is goed. Ons gaan natuurlik dorp toe. Ons gesels met die bure weerskante van ons. Veral die Engelse is skreeusnaaks. Dis nou die man sonder 'n oog wat nie kan buk nie en sy vrou. Ons lag so, dat die mense in die cafés oorkant ons, ons aankyk.

Kleurvol
Blommeprag in agterstraat
Nog kleur



So sleg soos wat dit in Frikes was, so lekker is dit in Fiskardo.

Ek lief Griekeland!


Published with Blogger-droid v2.0.10

Wednesday, September 11, 2013

Konsternasie op Frikes. Dag 136.

10 September 2013. Dinsdag.

Syvota tot Frikes

Hier was vandag konsternasie op Frikes (38º 27.556 N, 20º 39.890 O).

Ons vaar na Ithaca Eiland. Op die eiland, sê die boek, is 'n juweel met die naam - Frikes. Ons kan darem nie 'n juweel misloop nie! En daar gaan ons.

Oggendskoot - Vaar
Frikes



Ons kom daar aan voor Gus, en ons doen ons ding sonder hulp en met groot sukses. Archie tru in, ek gooi sekuur anker, Archie spring soos 'n ribbok met die tou af tot op die kaai, maak vas en gooi die tou vir my. Ek vang die tou soos 'n Springbok netbalspeler en maak vas, gooi die ander tou vir Arch en ons is vas. Sonder spanning of sukkel!

Frikes
Visnette in die son



Die ander mense kom saam met Gus hier aan. Toe begin die konsternasie. Ons kry bure. Hulle gooi hulle anker òf langs ons s'n òf oor ons. En hulle ry in die kaai vas, want hulle het nie 'n fender agter nie.

Die Engelse kom aan. Hulle gaan langs die Italianer aan ons port kant in. Gus pluk hulle rond. Hulle tru, maar met te min spoed. Hulle bots met die Italianer. Groot gemors. Hulle ry vorentoe, weer agtertoe. Op die kaai staan die manne gereed om te help. Hulle beduie en gee raad. Die Italianer stamp af, die Engelse vrouens druk oral fenders in. Die ankergooier maak droog. Die man agter die helm raak benoud. Na 'n woeste gesukkel is hulle vas, doodmoeg en vreeslik skaam.

'n Groot catamaran probeer inkom, maar blaas die aftog.

Die Belge gooi drie keer anker. Die eerste keer is hulle al vasgemaak toe hulle besef die anker het nie gebyt nie. Hulle word deur die helpers losgemaak, trek anker op, ry uit, gooi weer. Word weer vasgemaak, besef die anker het weer nie gebyt nie, maak los, en trek op. Besef hulle anker is met die ander Engelse se ankerketting verstrengel. Kry uiteindelik hulle anker vry. Gooi toe vir die derde keer uit en die gooislag is suksesvol. En hulle is vas. (Sê Archie)

Maar nou is die ander Engelse nie seker of hulle hoofanker sekuur is nie en, in plaas daarvan om deur al die pyn te gaan om dit oor te gooi, besluit hulle om hulle kedge anker (spaaranker) langs hulle hoofanker uit te gooi. Die beteken: kry dinghy uit, sit kedge anker (met ketting en 40 m tou) daarin, roei uit tot in die baai, gooi spaaranker oorboord, roei terug, trek tou in en hoop dat die spaaranker byt. As dit deurmekaar klink, dit is 'n deurmekaarspul. (Sê Archie)

Almal wat inkom sukkel, want Gus tuimel van die hoë berg af en plons dan met rukke en plukke in die see.  Gelukkig is die hele kaai vol manne wat gereed is vir aksievolle hulpverlening.

Hulpverleners



Dit gaan rof hier by Frikes. Die boek sê jy moet versigtig wees dat die jagte se maste nie met mekaar verstrengel raak in die windvlae wat van die berge afrol nie. Nou  vra ek jou: hoe de moer pas jy jou mas op!? Gelukkig hou Gus se vlae op 'n stadium toe darem op.

Grieke, Belge, Ander Engelse, Onbekend, Onbekend, Duitsers, Maja, Italianer, Engelse (gedeeltelik)

Van juweel weet ek nie so mooi nie.

Published with Blogger-droid v2.0.10

Tuesday, September 10, 2013

Syvota. Dag 135.

9 September 2013. Maandag.


O. Kalopoulou tot Syvota


Vanaf Meganisi Eiland gaan ons weer na Lefkas Eiland. Ons vaar om die punt van Meganisi deur 'n smal strook see wat Meganisi van Kythros Eiland skei. Die weste kuslyn van Meganisi is pragtig, imposerend, ru en rof.

Tussen Meganisi en Kythros Eiland
Pragtig ...
... imposerend ...
... ru ...
... en rof



Aan die westekant van Meganisi is 'n paar grotte. Sommige is klein, maar die grootste een is Papanikolis. Daar word beweer dat die duikboot, Papanikolis, hier versteek is, na aggressiewe patrollies gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Die oggendlig is nie goed vir die grotte nie en ek is seker dit sal baie mooier in die middag lyk.

Papanikolisgrot
Papanikolisgrot




Ons seil na Syvota (38º 37.320 N, 20º 41.073 O), 12 myl verder op Lefkas Eiland. Ons kom in die baai aan en soek plek. Party plekke is "foul ground", want daar is ou kettings en blokke onder die water wat jy nie kan sien nie. As jy daar anker gooi, kan jou anker aan dit vashaak, dan is dit nag met die wegtrek.

Ons gooi toe maar so knyp-boud-versigtig anker en hoop vir die beste. Soos 'n Italianer toe vir ons sê: "Your anchor is already there, you can worry about it tomorrow morning". Toe worry ek nie meer nie en gaan dorp toe. Die dorp bestaan uit tavernas en "mini markets". Ons koop suikersoet druiwe en nog 'n paar goedjies.

Syvota se kaai



Ons sit langbeen op die dorpskaai, drink iets koel, kyk na die mense, sê vir mekaar hoe lekker is dit om hier te wees.

Ons geniet nog 'n soel laatsomersaand in die mooie Griekekand.


Published with Blogger-droid v2.0.10

Monday, September 9, 2013

Alweer anker. Dag 134.

8 September 2013. Sondag.

O. Elia tot O. Kalopoulou


Vandag is weer 'n ankerdag, net om die draai by O. Svourna, 'n baai wat deur die Aussies aanbeveel is. Hulle moes twee keer probeer voordat hulle anker gebyt het, maar ons is vol ywer na al ons oefening die vorige dag.

Ons kom daar aan en gooi twee keer anker sonder sukses.

Intussen het 'n boot, wat net langsaan in 'n kleiner baaitjie geanker het, weggevaar en ons mik daarheen. Maar teen die tyd is my geduld op met klein baaitjies en ek weier om te gooi! Ons vaar terug na O. Kalopoulou (38° 38.807 N, 20° 45.997 O).

Oppad na Kalopoulou
O. Kalapoulou (ons was in die verste hoekie van die baai, die res was te diep)



Dis weer 'n klein baaitjie, maar ons kry die enigste sandkol tussen al die seegras en gooi dit raak. Die anker byt en ons tru versigtig in tot amper op die rotse. Archie swem uit met twee toue en maak ons aan die rotse aan weerskante vas. Toe voel ons veilig en tevrede. Ons vul letterlik die hele baai, 20m van die kante en 20m van agter. Dis snoesig naby!

Kos is op die tafel!


Ek voer elke dag die visse in die baai met Fanie se graanvlokkies en ou brood. 

Aanhou anker. Dag 133.

7 September 2013.  Saterdag.

Spartachori tot O. Elia (Elia Baai)

Ons het heel nag gewip. Op en af gewip. Daar het deinings in die hawe ingekom, maar dit was darem nie te erg nie. Ek kon nog slaap.

Meganisi is 'n klein, mooi eiland. Die ankerplekke is nie ver van mekaar nie en ons is glad nie haastig nie. O. Elia (38º 39.332 N, 20º 47.947 O) is net 5 myl om te vaar. Ons vertrek eers 10:00.

Die natuur is baie mooi hier. Berge omring die see. Wolke op die berge maak veranderlike figure in die lug. Die weer is heerlik. Almal is in 'n ligte, vrolike luim.

Hooflandberge
Mikro Nisopoulo
See, wolke en berge



Ons kom by O. Elia en daar is reeds drie ander seiljagte en 'n catamaran. Ons soek 'n plek en gooi anker. Die anker sleep. Ons gooi weer anker. Geen sukses. Ons probeer vir 'n derde keer. Die anker sleep. Hierdie storie kan vervelig raak. As ek van elke ankergooipoging moet vertel, sal dit TIEN stories wees. Ek moet bieg, ek het een of twee keer 'n matrooswoord gesê. Na die tiende keer is ons tevrede met die anker en kan ons "cold beverage" geniet. Ek koel my warm gemoed af in die kristalhelder  water. Toe is alles weer reg.

Maja en Scat Cat in Elia Baai
Maja en Scat Cat


Al die ander bote vaar verder en ons en die "Scat Cat" (catamaran) bly alleen om in die baai te oornag.

Ons klim in Dinkie en roei kant toe. Ons stap weer heuwel op dorp toe. Hierdie dorpies is regte eiland "villages". Die lewe gaan hier rustig en stadig sy gang. Weduwees in swart sit en weef. Almal doen hulle dagtaak, stadig, maar met ywer. Middae is siësta tyd. Dan werk jy nie, jy sit net. Of jy gaan slaap. (As die son sak in die weste, is die Grieke op hul beste).

Ons koop 'n gevriesde hoender, vier perskes, een knoffel, vier groot tamaties en 'n liter witwyn in 'n plastiese bottel. Ons loop 'n ander pad huis toe. Tussen die olyfbome, skaapkrale en plaashuise. Hane kraai, hoenders kekkel en die huiskat lê lui en slaap.

Ons stap huis toe



Ons klim in Dinkie en neem foto's van Maja. Sy poseer ydel vir ons. Ons roei verby "Scat Cat" en die mense nooi ons in vir bier. Dis die eerste keer dat ek voet aan wal sit in 'n cat. Dis ruim en gemaklik.

Maja poseer



Hulle sê hulle is al drie dae daar en hulle het elke dag gesit en toekyk hoe mense probeer anker gooi en dan maar handdoek ingooi en weg vaar. Ander gebruik dit net vir 'n middagete stop.Toe voel ons baie beter.

Angela is 'n Ierse Aussie en Stefan is 'n Duitse Aussie. Die mans drink bier en ons meisies yskoue, verfrissende wit wyn. Angela skink net en ons drink net! Hulle basis is in Italië en hulle seil al drie maande.

Ons kuier heerlik, soos ou vriende. Hulle is uitgehonger vir gesels en ons ook. Ons lag en skerts en Stefan gee raad oor seil. Die donker daal neer en alles is swart buite. Waar is die tyd heen? Ons kan nie eers vir Maja sien nie. Hulle lig op Maja met 'n skerp flitslig en ons kom veilig aan boord.

Angela en Stefan - Scat Cat se mense
Waar gaan die tyd heen?



Wat 'n heerlike aand, veral na die aanhou anker.

Published with Blogger-droid v2.0.10