7 September 2013. Saterdag.
Ons het heel nag gewip. Op en af gewip. Daar het deinings in die hawe ingekom, maar dit was darem nie te erg nie. Ek kon nog slaap.
Meganisi is 'n klein, mooi eiland. Die ankerplekke is nie ver van mekaar nie en ons is glad nie haastig nie. O. Elia (38º 39.332 N, 20º 47.947 O) is net 5 myl om te vaar. Ons vertrek eers 10:00.
Die natuur is baie mooi hier. Berge omring die see. Wolke op die berge maak veranderlike figure in die lug. Die weer is heerlik. Almal is in 'n ligte, vrolike luim.
Hooflandberge |
Mikro Nisopoulo |
See, wolke en berge |
Ons kom by O. Elia en daar is reeds drie ander seiljagte en 'n catamaran. Ons soek 'n plek en gooi anker. Die anker sleep. Ons gooi weer anker. Geen sukses. Ons probeer vir 'n derde keer. Die anker sleep. Hierdie storie kan vervelig raak. As ek van elke ankergooipoging moet vertel, sal dit TIEN stories wees. Ek moet bieg, ek het een of twee keer 'n matrooswoord gesê. Na die tiende keer is ons tevrede met die anker en kan ons "cold beverage" geniet. Ek koel my warm gemoed af in die kristalhelder water. Toe is alles weer reg.
Al die ander bote vaar verder en ons en die "Scat Cat" (catamaran) bly alleen om in die baai te oornag.
Ons koop 'n gevriesde hoender, vier perskes, een knoffel, vier groot tamaties en 'n liter witwyn in 'n plastiese bottel. Ons loop 'n ander pad huis toe. Tussen die olyfbome, skaapkrale en plaashuise. Hane kraai, hoenders kekkel en die huiskat lê lui en slaap.
Ons stap huis toe |
Ons klim in Dinkie en neem foto's van Maja. Sy poseer ydel vir ons. Ons roei verby "Scat Cat" en die mense nooi ons in vir bier. Dis die eerste keer dat ek voet aan wal sit in 'n cat. Dis ruim en gemaklik.
Maja poseer |
Hulle sê hulle is al drie dae daar en hulle het elke dag gesit en toekyk hoe mense probeer anker gooi en dan maar handdoek ingooi en weg vaar. Ander gebruik dit net vir 'n middagete stop.Toe voel ons baie beter.
Angela is 'n Ierse Aussie en Stefan is 'n Duitse Aussie. Die mans drink bier en ons meisies yskoue, verfrissende wit wyn. Angela skink net en ons drink net! Hulle basis is in Italië en hulle seil al drie maande.
Ons kuier heerlik, soos ou vriende. Hulle is uitgehonger vir gesels en ons ook. Ons lag en skerts en Stefan gee raad oor seil. Die donker daal neer en alles is swart buite. Waar is die tyd heen? Ons kan nie eers vir Maja sien nie. Hulle lig op Maja met 'n skerp flitslig en ons kom veilig aan boord.
Angela en Stefan - Scat Cat se mense |
Waar gaan die tyd heen? |
Wat 'n heerlike aand, veral na die aanhou anker.
Published with Blogger-droid v2.0.10
Halo julle! Ai maar julle hou so lekker vakansie. Dit klink alles so rustig en ontspanne en die weer wat so heerlik is en die ligte luim waarin almal is. Net die geanker wat so nou en dan lol. Die berge is darem maar pragtig! Dit lyk of daar altyd wolke is, wat baie mooi op die fotos is.
ReplyDeleteDie Maja en Scat Cat in Elia Baai foto is pragtig met die groen bosse, berge, water en wolke in die verskillende skakerings in blou. Wat n pragtige pad stap julle huistoe!
Die dorpie klink so rustig en elkeen is minding his own business. En in die middae is jy net. Die dat hulle in die aand so baie energie het. Hoe laat gaan die son onder, die dae word seker al korter, of kan julle dit nog nie agterkom nie.
Ai, die Maja is darem maar fotogenies. Dis vriendelik van die Cat mense om julle te nooi vir ietsie te drinke. As mens lanklaas met mense gekuier het is so n kuiertjie darem maar lekker. Eks bly julle almal het dit so geniet. Die sonsondergang is pragtig!
Geniet julle reis verder
Liefde Elizexx
Halo Julle! Al die bestanddele! Klink of julle baie lekker gaan eet! Seker weer oondgebakte hoender. Lekker! Is daar baie ou mense in die dorpie , met die dat die weduwees so sit met hulle swart gewade. Soms beny mens die mense oor hulle rustige eenvoudige manier van bestaan.
ReplyDeleteGeniet julle maaltyd!
xxxElize