Friday, April 19, 2013

Stap in die Franse platteland.

Vandag is stapdag. Dis nie dat ons die ander dae níe stap nie. Nee, ons stap elke dag - trappies op, trappies af. Stegie op, stegie af. Heuweltjie op, heuweltjie af.
Vandag gaan ons rêrig stap, op die grond en in die natuur. Archie kies vir ons 'n roete, "Bois de Saint-Jean". Ons pak kos en water en reënklere. Ons ry tot in Roussillon waar die roete begin. Ek gryp my stapstok, Arch gryp die rugsak en daar trek ons.
As ek stap, word ek deel van die bos, die bome, die grond. Ek beleef die reuk, die voel, die stilte, die sien. Ek word deel van die voel van al die dinge om my. Ek word  natuur.

Franse platteland

Archie het die stapbeskrywing. "Draai hier links, stap hier op, gaan regs, stap hier af ..." Dis te heerlik om rêrig te stap. Ons beleef nou die Franse platteland op sy beste - met dapper en stapper.

"Draai hier links ..."

Die kersiebome pronk in rye met hulle spierwit bloeisel-blomme. Die wingerde wag kaalgestroop vir die nuwe seisoen van groei en drag. Talle voëltjies fladder en flankeer in die boomtakke rond. Wilde roosmaryn en ander bossies geur die lug.

Kersiebloeisels ...
... en wingerdstokke

Die oker in die rotsformasies sorg vir helder rooi, oranje en geel. Ons stap heerlik, so 12km. Toe begin dit liggies reën.

Okerformasies

Roussillon is 'n okergekleurde dorpie. Al die geboue is helder rooi, geel of oranje. Dis net jammer dat die son agter die wolke wegkruip. Ek dink dié dorp sal pragtig wees as die son al die helder kleure verlig.

Roussillon village
Okergekleurde geboue

Thursday, April 18, 2013

Water, water

Eerste op vandag se lys van doendinge, is L'Isle-Sur-La-Sorgue. Ek weet ook nie hoekom het die verdomde dorpies sulke snaakse name, wat ek nie kan uitspreek óf spel nie.
Die dorpie is op 'n groot eiland in die Sorguerivier gebou. Donderdag is markdag. Dis presies waarheen ons oppad is. Die boek sê "kom vroeg", so ons is 09.00 daar. Ja, dis vroeg vir Provence! Ons loop daar rond, kyk na als. Ek proe al die snaakse gerookte worse. Daar is biltongrige goed, wors met olywe, en baie ander lekker worse wat ek nie die name van ken nie. Die entoesiastiese Fransman probeer al die goed aan my afsmeer, en ek proe te gewillig. Die goed is duurder as peper, so die naaste wat ek aan die vleis kom, is die ou flentertjie wat ek gratis kan proe. Archie proe nie eers nie. Hy voel as hy proe, moet hy koop. Hy sê hy is nie so 'n vraat soos ek nie.
Ek besluit ek proe niks meer nie. Ons loop verby die nougat tafel en die volgende Fransman sê: "Proe". Ek swig daar en dan en proe. Dis nougat met lemoen en laventel en haselneute en wie weet wat nog. Heerlik, maar peperduur. EK PROE NIE WEER NIE, want ek kan niks koop nie.
Ons kom by die kaas. Ek het net gekyk, maar die Fransman het my gedwing om te proe. REGTIG! Dis kaas met basil en skaapkaas en bokkaas en koeikaas. Ek smul heerlik aan al die brokkies kaas. Toe koop ons maar 'n stukkie kaas. Peperduur, maar lekker.

Markdag

Ons dwaal heerlik rustig in die dorpie rond, langs die waters van die rivier. Ons kyk na die ou waterwiel. Middagete langs die rivier is salm (dis goedkoop in Europa by supermarkte), Camembert (ons spaar die duur kaas vir later) en vars Franse brood.
Ou waterwiel


Tweede op ons lys is Fontaine-De-Vaucluse. Dis een van die grootste fonteine in die wêreld.

Die bron van die fontein.  Lyk so rustig ...




... maar 20m verder lyk dit so.


Dit word die Sorguerivier.
Sorguerivier

Ons kyk ook hoe word papier op 'n ouwêreldse manier gemaak met n ou waterwiel. Ook 'n heerlike ondervinding.
Waterwiel vir papiermeule
Ratte van papiermeule
Stampers



Vanaand eet ons by ons gastehuis. Ons het vir die Fransmanne gevra om haas gaar te maak (jammer Spaans en Christa). Aperatif is op die stoep bedien. Franse radys met 'n doopsous. Daarna skilferskorspakkies gevul met bokmelkkaas en heuning, op roketblare. Hoofgereg was haas met koljanderblaarsous, boontjies en aartappel. Nagereg, creme brulee met laventel. Geëet soos konings.

Wednesday, April 17, 2013

Ry, ry, ry

Vandag moet ons Roussillon toe. Ons het in 'n gastehuis bespreek vir vier nagte.
Ons pak die wapad aan. Archie agter die stuur (hy weet darem al waar links en regs is) en ek met die GPS vasgeklem in my hande.

Ons eerste ontspan-stopplek is Lurs.  Ek sê "ontspan-stopplek", want die gery in die verkeer op die smal paaie is eintlik vir 'n pensionaris en sy werklose vrou baie stresvol. Ons ontspan net as ons stop.
Lurs is 'n historiese monument. Dis is 'n baie ou dorp, soos die res van die dorpe in Provence.

Lurs


Van Lurs af, is dit Sisterton, met sy interessante rotsformasies. Ons maak 'n draai by die Citadel. Dit is soos 'n fort. 'n Stad met mure om wat Napoleon van ouds verower het.

Mure van die Citadel

Sisteron se rotsformasies


Ons laaste stopplek is Forcalquier. Alweer trappies-trappies op, tot bo!

Trappies, trappies ..
... na die kapel bo-op die koppie agter die dorp ....
.... met sy uitsig oor Provence

Roosvenster in Folcalquier se abdy (eglise)

Roosvenster se kaleideskoop van kleure op kolom



Vandaar na ons nuwe heenkome, Les Huguets, naby Roussillon. Wat 'n aangename verrassing na die lang dag op die pad! Die gastehuis, Les Passiflores, is soos 'n oase in die woestyn. Baie gawe gasheer, en 'n nòg gawer kamer, keurig gedekoreer en boonop ruim.

Vanaand gaan ons daai mooi bed seermaak!


Grand Canyon du Verdon

Lekker geslaap!  Vandag ry ons berge toe. Dit bly maar my eerste liefde om in hoë, groot, growwe berge my siel opnuut weer te vind.

Ons ry kronkel-kronkel deur die draaie van die benoude, nou paadjie oppad na Canyon Du Verdon. Die hoë kranse en besonderse rotsformasies is te groot om op film vas te vang. Foto's doen afbreek aan die Canyon. Ons eerste stopplek  is by die Belvedere du Couloir Samson. Ons klim uit en stap af tot onder in die Canyon. Die paadjie is deel van 'n staproete. Daar is talle belvedere en ons stop dikwels om beter uitsig en vergesigte van die grootsheid van die berge te kry.

Canyon du Verdon

Canyon du Verdon

Canyon du Verdon

Ons durf die Route des Cretes aan. Dit het asemrowende uitsigte wat prentjies in jou geheue vasbrand wat jy nie gou sal kan vergeet nie. Die lug is vars en skoon en verkwik my siel. Die roete klim uit teen die hoogste punte van die noordelike rivierbank. Die bangmaakpad is nou en party keer nouer en soms nouste.
Verdonrivier

Ons eet selfgemaakte broodjies by La Palud-sur-Verdon
Broodjie-uitsig

Daarna volg ons die pad na Moustiers-Sainte-Marie. Dis n pragtige ou dorpie. Natuurlik stap ons op, opper, opste na die Notre-Dame de Beauvoir kapel wat bo-op n heuwel is. (Al die verdomde kapelle is altyd op die hoogste heuwel en jy moet 'n moerse klomp trappe klim om daar te kom). Maar ek is mos eintlik 'n kerkmens, ek klim! Weereens word jy beloon met 'n pragtige uitsig.

Ek klim ....

Moustiers-Sainte-Marie

Moustiers-Sainte-Marie

Ons ry verder, oor die Verdonrivier en verby die Lac de Saint Croix.




Ons ry verby Trigance en kry koers huis toe.
Trigance Village

Met elke uitsig van grootheid  wat ek sien, word al die kopspeldspikkels van doodsheid in my siel, verklein tot die grootheid van die berg...

Uitsig van grootsheid




Monday, April 15, 2013

Vinkelsop a la Castellane


Hierdie "chunky" sop is gemaak met groente wat gekoop is en oorskiet gebraaide heel hoender. Normale bestanddele soos botter, olie, peper en aftreksel was nie beskikbaar nie.





Bestandele
2 Vinkelknolle gesny
2 Preie gesny
1 Ui gekap
Bietjie wit wyn ('n Plaaslike wit wyn - Saint Patrice van Alpes de Haute Provence - is gebruik)
Bietjie melk
Knertsie sout
Hoendervel van oorskiet gaar
hoender
Hoenderkarkas
Klein wiggie ryp coulommiers kaas
Vererige deel van vinkelknol

Metode
Sny vinkel, preie, ui en hoendervel  in stukkies. Gooi in kastrol en braai 'n ruk. Voeg 2 koppies water en hoenderkarkas by. Kook, nie te lank nie, tot groente sag is.  Voeg sout en wit wyn by en kook nog 'n rukkie. Voeg melk en kaas by en bring tot kookpunt. Gooi vererige deel van die vinkelknol by.
Bedien met vars baguette brood en die res van die wyn. 

Bon appetite!


Niks lekker nie.

In normale, gunstige, streslose omstandighede in ons Vaderland, waar ons ons Moedertaal praat, weet ek en Archie nie altyd waar links en regs is nie.
So stap ons doelgerig, tog benoud, na die Avis kantoor om die motortjie te kry. Ons gaan die res van ons Franse toer na Provence met wiele aandurf. Na 'n klomp rompslomp, kry Arch die sleutel en ons sit af parkeerplek toe. 'n Astrante rooi motortjie wag vir ons. Ons kyk vir mekaar en klim in. Sit eers 'n ruk doodstil, wonder of ons nie liewers heeldag in die veilige parkeerplek moet bly sit nie.


Na 'n diep sug, sluit Arch die motor aan. Ek sit met die GPS (tablet), vasgeklem in my  hande. Ek moet navigeer. Nice is 'n  besige stad, met verkeer net waar jy kyk. Ou Archie het nog nooit met 'n regse motor aan die verkeerde kant van die pad gery nie. Alles is verkeerd om. In abnormale, ongunstige, stresvolle omstandighede in 'n vreemde land waar ons nie die taal verstaan nie, weet ons GLAD NIE waar is links of regs nie!
DIS NIKS LEKKER NIE!!!

Archie dryf, ek probeer navigeer met 'n tablet wat nie samewerking gee nie. Ons verdwaal, ry soms drie keer om n sirkel, sweet, vloek (net 'n bietjie). Ek verlang skielik na my stout skoolkinders, na die koue Parys, met sy oorvol metrotreine.
Wel, na baie ontberings, en 'n paar insidente wat ek liewers wil verswyg, kom ons by Castellane aan. Mooi ou dorpie, met 'n kiertsregop kerkie op n hoë heuwel. 

Castellane met sy kapel op die klip
Die ou kerktoring en die kapel
Daar's nog sneeu op die berge ......
.... maar dis lente in die dorp.

Die kapel is die fokuspunt van die dorp

Ons lêplek vir die aand, is 'n " **** idéale residence mobile" met twee slaapkamers, kombuisie, koffiemaker, yskas, mikrogolf, stort en aparte WC. Die hoogtepunt was luuksheid!

Ek maak vanaand fennelsop!


Ons koop wyn. Vanoggend het ek leer vloek, vanaand leer ek "suip". 

Ons 4* verblyf


Sunday, April 14, 2013

Monaco

Ons het vandag met die bus Monaco toe gegaan. Die bus was stampvol. Ons het by die Monte Carlo Casino afgeklim. Dis is pragtige gebou met 'n baie mooi tuin. Oral was swart motors. Dit lyk my ryk mense ry swart motors. Dis net die Ferrari's wat 'n ander kleur is, meestal rooi. Maar dit was die pienk Fiat 500 met die afgesaagde  kappie  wat die meeste aandag getrek het.

Monte Carlo Casino
Monte Carlo Casino
Monaco met sy megajag marina
Monaco is eintlik 'n "concrete jungle"

Ons het 11.55 gaan kyk hoe ruil die paleiswagte hul skof om en was in die katedraal waar die koninklikes trou.
Die see is pragtig en daar is baie mooi en groot jagte. Ou Arch kan maar net daarvan droom. Ons het langs die hawe geëet. Ons het baie in Monaco gestap en gekyk na die speelplek van die rykes.

Archie kan net droom ....

Ons is terug Nice toe en het 'n ander bus gevat na Eze Village. Dis 'n middeleeuse dorpie op 'n heuwel.
Hierdie keer is dit net ons twee op die hele bus.

Eze Village
Eze Village

Eze blomme vir my Ma