Thursday, April 18, 2013

Water, water

Eerste op vandag se lys van doendinge, is L'Isle-Sur-La-Sorgue. Ek weet ook nie hoekom het die verdomde dorpies sulke snaakse name, wat ek nie kan uitspreek óf spel nie.
Die dorpie is op 'n groot eiland in die Sorguerivier gebou. Donderdag is markdag. Dis presies waarheen ons oppad is. Die boek sê "kom vroeg", so ons is 09.00 daar. Ja, dis vroeg vir Provence! Ons loop daar rond, kyk na als. Ek proe al die snaakse gerookte worse. Daar is biltongrige goed, wors met olywe, en baie ander lekker worse wat ek nie die name van ken nie. Die entoesiastiese Fransman probeer al die goed aan my afsmeer, en ek proe te gewillig. Die goed is duurder as peper, so die naaste wat ek aan die vleis kom, is die ou flentertjie wat ek gratis kan proe. Archie proe nie eers nie. Hy voel as hy proe, moet hy koop. Hy sê hy is nie so 'n vraat soos ek nie.
Ek besluit ek proe niks meer nie. Ons loop verby die nougat tafel en die volgende Fransman sê: "Proe". Ek swig daar en dan en proe. Dis nougat met lemoen en laventel en haselneute en wie weet wat nog. Heerlik, maar peperduur. EK PROE NIE WEER NIE, want ek kan niks koop nie.
Ons kom by die kaas. Ek het net gekyk, maar die Fransman het my gedwing om te proe. REGTIG! Dis kaas met basil en skaapkaas en bokkaas en koeikaas. Ek smul heerlik aan al die brokkies kaas. Toe koop ons maar 'n stukkie kaas. Peperduur, maar lekker.

Markdag

Ons dwaal heerlik rustig in die dorpie rond, langs die waters van die rivier. Ons kyk na die ou waterwiel. Middagete langs die rivier is salm (dis goedkoop in Europa by supermarkte), Camembert (ons spaar die duur kaas vir later) en vars Franse brood.
Ou waterwiel


Tweede op ons lys is Fontaine-De-Vaucluse. Dis een van die grootste fonteine in die wêreld.

Die bron van die fontein.  Lyk so rustig ...




... maar 20m verder lyk dit so.


Dit word die Sorguerivier.
Sorguerivier

Ons kyk ook hoe word papier op 'n ouwêreldse manier gemaak met n ou waterwiel. Ook 'n heerlike ondervinding.
Waterwiel vir papiermeule
Ratte van papiermeule
Stampers



Vanaand eet ons by ons gastehuis. Ons het vir die Fransmanne gevra om haas gaar te maak (jammer Spaans en Christa). Aperatif is op die stoep bedien. Franse radys met 'n doopsous. Daarna skilferskorspakkies gevul met bokmelkkaas en heuning, op roketblare. Hoofgereg was haas met koljanderblaarsous, boontjies en aartappel. Nagereg, creme brulee met laventel. Geëet soos konings.

1 comment:

  1. Hi Krieks en Arch

    Die hele fam is bymekaar by Basie hulle vir Chenell se see afskeid. Ons het nou gou die blok deurgewerk en almal verlang vreeskil na julle.

    Hi oom Arch en tannie Marietjie. Geniet Croasie en hoop julle kry die boot maklik. Pasop vir Captain Jack Sparrow. Moenie my klippe vergeet nie (asb)!. Dankie, Woen.

    Lekker karjakker, Verlang vreeslik baie. Dankie vir die SMS. Ons sal skryf en die brief saam met Bella stuur. Geniet julle self op die kleine Maja. Liefde. Ma en Pa.

    (nou stry hulle eers oor wie is volgende...)(

    Dit lyk of julle heerlik vakansie hou. Lekker vaar op julle Maja. Ons verlang baie en is baie jaloers. Alles lyk heerlik en vol avontuur. Laaina (die sonskyn suster)

    Baas skryf blykbaar self, so hys nog reg...

    Ek is bly hulle het Frankryk se strate oorleef. Hoop julle kry Maja en ek hoop julle seil baie lekker. Klink of julle julle gate uit geniet. Ons verjang baie. Giddo

    Lief vir julle. Clarize

    Ons het verlang met die lekker braai wat ons gehou het. Ek het spesiaal NIE 'n Jan Elles gemaak nie want julle is nie hier nie. Lekker vaar. Mariette

    ENJOY!!! Gerrie, Ansu en die span.


    ReplyDelete