In normale, gunstige, streslose omstandighede in ons Vaderland, waar ons ons Moedertaal praat, weet ek en Archie nie altyd waar links en regs is nie.
So stap ons doelgerig, tog benoud, na die Avis kantoor om die motortjie te kry. Ons gaan die res van ons Franse toer na Provence met wiele aandurf. Na 'n klomp rompslomp, kry Arch die sleutel en ons sit af parkeerplek toe. 'n Astrante rooi motortjie wag vir ons. Ons kyk vir mekaar en klim in. Sit eers 'n ruk doodstil, wonder of ons nie liewers heeldag in die veilige parkeerplek moet bly sit nie.
Na 'n diep sug, sluit Arch die motor aan. Ek sit met die GPS (tablet), vasgeklem in my hande. Ek moet navigeer. Nice is 'n besige stad, met verkeer net waar jy kyk. Ou Archie het nog nooit met 'n regse motor aan die verkeerde kant van die pad gery nie. Alles is verkeerd om. In abnormale, ongunstige, stresvolle omstandighede in 'n vreemde land waar ons nie die taal verstaan nie, weet ons GLAD NIE waar is links of regs nie!
DIS NIKS LEKKER NIE!!!
Archie dryf, ek probeer navigeer met 'n tablet wat nie samewerking gee nie. Ons verdwaal, ry soms drie keer om n sirkel, sweet, vloek (net 'n bietjie). Ek verlang skielik na my stout skoolkinders, na die koue Parys, met sy oorvol metrotreine.
Wel, na baie ontberings, en 'n paar insidente wat ek liewers wil verswyg, kom ons by Castellane aan. Mooi ou dorpie, met 'n kiertsregop kerkie op n hoë heuwel.
Castellane met sy kapel op die klip |
Die ou kerktoring en die kapel |
Die kapel is die fokuspunt van die dorp |
Ons lêplek vir die aand, is 'n " **** idéale residence mobile" met twee slaapkamers, kombuisie, koffiemaker, yskas, mikrogolf, stort en aparte WC. Die hoogtepunt was luuksheid!
Ek maak vanaand fennelsop!
Ons koop wyn. Vanoggend het ek leer vloek, vanaand leer ek "suip".
Ons 4* verblyf |
Hi Krieks en Arch
ReplyDeleteDit lyk darm wragtig mooi. Meng julle met die locals.. hoe is hulle? Van die plekke lyk baie oud-werelds en karraktervol. Hou aan met die fotos, ek sal so elke twee weke die fam byeenbring vir 'n toer deur die blog. Hoe die blog aan die blom!
Lekker toer en groete vir Arch
Hi daar. Ek is mal oor julle foto's van Castellane (was nognie daar nie - volgende op my lysie!!!). Ek hou van die rooi karretjie;)
ReplyDeleteJinne dit lyk darem maar lekker. Het julle lekker geslaap in julle 4* verblyf??
Ek wag in spanning oor jou verdere verslae oor Provence.
Groete daar. Deidre
Genade, daardie karretjie is heeltemal te jonk en windgat vir twee sulke ou mensies op reis! Dirk dink dit is die dat julle so vloek en suip. A nee a. Kerklike Marietjie moes toe seker vreeslik klim om daardie kerkie te besoek. Ons geniet die lekker kossies saam met julle. Mooi reis en lekker proe aan die Franse lewe.
ReplyDeleteGroete. Leon