Tuesday, August 6, 2019

Limnos Eiland. Stap.

6 Augustus 2019. Dinsdag.

Vandag gaan ons vier die dorp te voet verken. Gewapen met stapstokke is ons gereed en daar trek ons.
Reg om te stap

Hier is ons staptog in 'n fotobeeld. Met Archie as die gids en ek en Pierre en Annatjie as meelopers geniet ons die verkenningstog.

Ons eerste besoek is die fontein wat deur die dorpsbesoekers gebruik is om hulle dors te les. Dit het ook in die Ottoman periode water aan die dorp se huishoudings te voorsien. In die snikhete somer is dit baie welkom om dorstige kele nat te maak sodat jy verder kan stap. Ons maak toe sommer so. Drink die nektar uit die fontein se kraan.

Annatjie by fontein

Church of the Dormition of Holy Mary
Uitsig vanaf die Dapia Fort, wat deur die Russe in 1770 gebou is om die kasteel te bombardeer
Archie in die Dapia Fort
Ek en Archie in die fort met die kasteel in die agtergrond
Annatjie en Pierre
Myrina, met sy hawe en kasteel
Die staptog af
Wasdag
Metropolitan Church of the Holy Trinity
Brug naby kerk waar die waar die Ottomans 300 kerkmense doodgemaak het en twee priesters opgehang het
Einde van die staptog en ons drink koffie en sommige lede van die geselskap is lomerig en knip 'n vinnige uiltjie


Monday, August 5, 2019

Limnos Eiland. Eilandtoer.

5 Augustus 2019. Maandag.

Pierre en Annatjie gaan vandag op 'n toer om die eiland van Limnos beter te leer ken. 08:50 stap hulle gestewel en gespoor na die bus. Dit is soos hulle dit ervaar het. 

Pierre skryf so. 
"Ons het besluit om die "Antiquities" toer te doen, want dit het heel interessant geklink en boon-op in 'n lugversorgde toerbus plaasvind. Die oggend het maar deurmekaar begin, want die agent se "here" en die busbestuurder se optelplek was so 'n 500m uitmekaar. Nietemin, ons is toe op die bus en begin die toer, nadat die res van die geselskap by baie mooi oorde in die omgewing opgepik is. 


Die toer self was nogal soos die spreekwoordelike “curate’s egg” met OK-erige gedeeltes, gevolg met werklik aangrypende dele.


Die eerste stop was by Kotsinas waar ons 'n ou kerkie met 'n lang geskiedenis kon besoek, asook die beeld van 'n plaaslike heldin wie haar pa met 'n sabel teen die invallende Turke verdedig het.

Kotsinas

Die ou dorpies is baie "picturesque" met hierdie drinkplekke vir algemene gebruik redelik beskikbaar. Dis duidelik dat van die geboue horingoud is en steeds in algemene, hoewel vervalle, gebruik is. 

Drinkplek

Die hoogtepunt van die toer was beslis die besoek aan Poliochne. Die stad het 2200 v.C. begin as’n klompie hutte, wat deur die eeue ontwikkel het tot 'n stad van nagenoeg 1500 inwoners met strate,  gemeenskaplike sale, ens. Dit het natuurlik herhaalde kere terugslae ervaar (met 'n groot F), goeters soos aardbewings, Turkse, Roemeinse en ander oornames. Elke keer met grootskaalse verbranding, vernietiging en slawerny. 

Uiteindelik is die stad verlaat omdat dit te gevaarlik naby die kus was vir knaende aanvalle deur Turkse seerowers. Hier is ’n vriendelike groepfoto van twee ou “sites”.

Ou goed

En ons het gedink dat ’n driepootpot is 'n Suid-Afrikaanse uitvindsel, hierdie outjie is so 1000+ jaar oud.

Kleipot

Die verskillende epochs is duidelik sigbaar en in die plaaslike museum is die steen tot brons tot koper artefakte sigbaar.

Poliochne

Ons het middagete by die plek in Moudros genuttig, lekker koel en aangenaam onder die groot bome, terwyl die bries van die die see af instoot.


Die sardyne met vars brood was heel lekker! Ek het proefondervindelik uitgevind dat hul graatjies , alhoewel fyn, redelik taai is en dat mens die vissies maar eerder moet soort van fillet.

Galazio Limani Restaurant

Sardyne



Limnos Eiland. Kastro.

3 Augustus 2019. Saterdag.

Vandag pak ons die kasteel van Myrina aan. Dié indrukwekkende kasteel is toentertyd gebou, maar dit bekoor tot vandag toe die toeriste wat Limnos besoek. Ons spreek af om die drosters 09:00 bo te kry.
Kasteel
Myrina se kasteel is die grootste in die Aegean See. Die kasteel soos dit vandag lyk, dateer uit die 12de eeu. In 1770 het die Russiese vloot die kasteel erg beskadig en tydens die Ottoman periode, het die Turke die kasteel bewoon.  
Myrina lyk pragtig in die oggendlig. Toe stap ons na die kasteel. Op op op lei die paadjie ons na bo. Ons bekyk die barakke. Ek en Archie klouter nou behoorlik orals rond. Ons kyk af na die westekant van die eiland. Doer vêr lê Mourtzeflos, waar ons laas geanker het. Die baaie blou, die berge grou.
Ons klim verder en Pierre en Annatjie is ook daar. Hulle klim tot by die vlag en na 'n ruk verdwyn hulle soos mis voor die son. Ek en Archie ondersoek die kasteel verder. Ons klim en kyk en klim verder en kyk. Die wit kerkie is by die ingang van die hawe. Rotse klim uit die water en staan in die see rond. 
Op pad op
Kasteel
Amper bo
Mourtzeflos in die vêrte
Kleurvolle klippe
Kaspaka Baai
Uitsig op barakke
Kasteelmure
Uitsig oor nuwe hawe
Kerk-alleen
Ai, maar die hele kasteel is vir my mooi. Tot die kaptein geniet dit en hy is mos nie 'n man vir ou goed en bouvalle nie. Dié dat hy 'n jong vrou gevat het. Hy klim en klouter net so lekker rond.

Af af af stap ons en groet weer die Suid-Afrikaanse vriende, Hentie en Diana. Toe gaan ons terug na Maja en ontspan op die dek. Later kom Pierre en Annatjie terug van hulle omswerwinge. Laatmiddag stap ek en Archie weer halfpad op na die kasteel, want ek wil sien hoe lyk Limnos dorp in die sagte lig van die dag wat verbygaan. Die uitsig stel ons nie teleur nie.
Myrina
Gus en sy span is op pad. Hulle gaan in die stuk see tussen Limnos en Lesvos baljaar. Dis presies die stuk see wat ons moet kruis. So is die lewe van skuilende non-seilende sigeuners. Ons moet hiet by Myrina bly tot Donderdag of Vrydag.

Sunday, August 4, 2019

Limnos Eiland. Myrina.

2 en 3 Augustus 2019. Donderdag en Vrydag.
Porto Koufo tot Myrina
Vandag is dit vroeg opstaan, want dit is die lang kruising van 55.4 myl na Myrina, op Limnos Eiland. Ons vertrek 05:00. Dis nog 'n dreigende donker duisternis. Ek en Pierre is op wag. Ons moet kyk vir vissersbote sonder ligte en ook vissersboeie. Twee paar oë tuur stip in die duisternis.
Brandwag
Die ligte van die bote glim spookagtig in die donker. Archie konsentreer agter die helm. Genadiglik word dit darem lig en ons is dankbaar toe daai son uiteindelik te voorskyn kom. Die wonderwêreld van sien.

Die eerste stuk see is nogal rof met die wind van voor. Darem nie te sterk nie. Ons span die genoa en die wind help bietjie, motorseil vir ure. Gus waai soos gewoonlik van die verkeerde kant af.

Twee dolfyne kom swem vir 'n lang tyd saam met Maja en Piere geniet die vertoning. Annatjie slaap heerlik, want sy voel effe seesiek. Slaap vir meer as twee ure. Pierre gaan lê ook skuins en slaap amper twee ure. 

Ek en die kaptein sit maar ewe getrou op die dek om die vort te hou, terwyl die slapende skones skuinlê. Toe Annatjie opstaan, voel sy baie beter. Pierre is toe ook gereed om sy beurt agter die helm te vat. Ons sien gelukkig weer golfyne en dié keer kan Annatjie dit ook geniet. Dis altyd baie spesiaal om die vriendelike bewoners van die blou see te sien.

Gus waai later net reg dat ons die hoofseil ook kan span en die enjin kan afsit. Ons seil heerlik en kry 'n topspoed van 7.6 knope onder seil, nuwe rekord topspoed. Praat van wind in jou seile. Dis ons daai. Trots en bolrond seil ons vorentoe, altyd vorentoe. Pierre sit soos 'n stout seun met sy voete in die water. Annatjie kyk na die horison, daar vêr. Berg Athos bly in sig. Ons kan hom eers baie later agterlaat.
Onder vol seil
Pierre seil
Archie seil
Nuwe rekord seilspoed
Voete in die water
Die eiland kom nader en toe is ons by Myrina, die rusplek vir ons siel. En liggaam. Dit was 'n uitstekende kruising. Die 10h52min het glad nie so lank gevoel nie.

Ons kry 'n plek by die kaai. Die gewone prosedure. Pierre en Annatjie sit die fenders uit. Archie tru, ek gooi anker. Pierre staan agter gereed en Annatjie is paraat om af te stoot. Manne en 'n vrou help op die kaai en ons is vas. Myrina se kasteel vertoon pragtig in die agtergrond.

Die kaptein lyk al vir my soos 'n seerower. Ons besluit dis tyd dat hy na sy voorkoms moet kyk, Annatjie neem hom onder hande en knip sy hare. Nadat die baard ook gesny is, lyk ou Archie weer pragtig. Weer soos 'n kaptein! Dankie Annatjie!
Myrina.
Myrina
Haarsny
Ons kuier heerlik by Hentie en Diana op hulle seiljag en sy bederf met 'n heerlike ligte ete. Sulke goeie gasheer en gasvrou het ek lanklaas beleef. (Eintlik in Thassos, toe ons by hulle was.)
Twee kapteine
Ontbyt
Diana en Hentie
Ons gaste verlaat ons kleine Maja vir groener weivelde en gaan soek ander heenkome in 'n heerlike lugverkoelde hotel. Wel nodeloos om te sê, ek was letterlik sprakeloos van skok! Ek en die kaptein is toe "home alone" en sit heerlik langbeen op die dek en geniet die aand wat voor ons afloop. 






Saturday, August 3, 2019

Singithikos Skiereiland. Porto Koufo.

1 Augustus 2019. Donderdag.

Nikiti tot Porto Koufo
Ai, maar ek het weereens dit op Nikiti geniet. Vandag is ons op pad na nog 'n bekende plek, Porto Koufo, 21.6 myl.
Almal kry 'n beurt agter die helm. Sommige is net meer ontspanne as ander agter die helm. Dis nou behoorlik drink en bestuur hierdie! Pierre vaar nog so lekker toe Maja se ritme verander. Ons kom dit dadelik agter. Ek sê vir Archie ons moet dadelik stop, want iets is verkeerd. Die kaptein vat die snorkel en gaan stel ondersoek in. Die sondebok is 'n stuk plastiese tou wat aan die propeller se as vassit. Ek stem saam oor plastiek. Dit besoedel die see.
Pierre
Die sondebok
Die water is glad en Gus lê. Ons vaar vorentoe, altyd vorentoe. Ons vaar by die natuurlike hawe in en gooi anker. Eindig te na aan die boot wat op 'n boei is. Trek maar weer op en gooi weer. Gelukkig byt dit en ons is vas.
Porto Koufo ingang
Dit is vreeslik warm en die water lyk aanloklik. Annatjie is maar skrikkerig vir die blou see, maar durf dit dapper aan. Ou Pierre swem self nie te lank nie. Ek kry darem 'n paar foto's in, na 'n bietjie soebat. Die water is heerlik en ek swem sommer lekker lank.
Maak moed bymekaar
Pierre
Lyf natmaak
Later gaan ons land toe, en ek en Archie koop lekker garnale vir aandete. Vanaand is die aand. Ek kan nie wag om my tande in daai garnale te slaan nie. En al die koppe en doppe uit te suig nie.

Pierre en Annatjie drink soos gewoonlik koffie en daarna ons gaan terug na Maja. Sjoe, maar dis warm hier en daai water roep my. Om jou oorverhitte lyf in die effe koel water te lawe, is heerlik.

Toe is dit tyd vir die garnale. Met peri-peri, saam met rys. En dis koningskos.
Koningskos