Monday, August 5, 2019

Limnos Eiland. Kastro.

3 Augustus 2019. Saterdag.

Vandag pak ons die kasteel van Myrina aan. Dié indrukwekkende kasteel is toentertyd gebou, maar dit bekoor tot vandag toe die toeriste wat Limnos besoek. Ons spreek af om die drosters 09:00 bo te kry.
Kasteel
Myrina se kasteel is die grootste in die Aegean See. Die kasteel soos dit vandag lyk, dateer uit die 12de eeu. In 1770 het die Russiese vloot die kasteel erg beskadig en tydens die Ottoman periode, het die Turke die kasteel bewoon.  
Myrina lyk pragtig in die oggendlig. Toe stap ons na die kasteel. Op op op lei die paadjie ons na bo. Ons bekyk die barakke. Ek en Archie klouter nou behoorlik orals rond. Ons kyk af na die westekant van die eiland. Doer vêr lê Mourtzeflos, waar ons laas geanker het. Die baaie blou, die berge grou.
Ons klim verder en Pierre en Annatjie is ook daar. Hulle klim tot by die vlag en na 'n ruk verdwyn hulle soos mis voor die son. Ek en Archie ondersoek die kasteel verder. Ons klim en kyk en klim verder en kyk. Die wit kerkie is by die ingang van die hawe. Rotse klim uit die water en staan in die see rond. 
Op pad op
Kasteel
Amper bo
Mourtzeflos in die vêrte
Kleurvolle klippe
Kaspaka Baai
Uitsig op barakke
Kasteelmure
Uitsig oor nuwe hawe
Kerk-alleen
Ai, maar die hele kasteel is vir my mooi. Tot die kaptein geniet dit en hy is mos nie 'n man vir ou goed en bouvalle nie. Dié dat hy 'n jong vrou gevat het. Hy klim en klouter net so lekker rond.

Af af af stap ons en groet weer die Suid-Afrikaanse vriende, Hentie en Diana. Toe gaan ons terug na Maja en ontspan op die dek. Later kom Pierre en Annatjie terug van hulle omswerwinge. Laatmiddag stap ek en Archie weer halfpad op na die kasteel, want ek wil sien hoe lyk Limnos dorp in die sagte lig van die dag wat verbygaan. Die uitsig stel ons nie teleur nie.
Myrina
Gus en sy span is op pad. Hulle gaan in die stuk see tussen Limnos en Lesvos baljaar. Dis presies die stuk see wat ons moet kruis. So is die lewe van skuilende non-seilende sigeuners. Ons moet hiet by Myrina bly tot Donderdag of Vrydag.

No comments:

Post a Comment