Monday, August 5, 2019

Limnos Eiland. Eilandtoer.

5 Augustus 2019. Maandag.

Pierre en Annatjie gaan vandag op 'n toer om die eiland van Limnos beter te leer ken. 08:50 stap hulle gestewel en gespoor na die bus. Dit is soos hulle dit ervaar het. 

Pierre skryf so. 
"Ons het besluit om die "Antiquities" toer te doen, want dit het heel interessant geklink en boon-op in 'n lugversorgde toerbus plaasvind. Die oggend het maar deurmekaar begin, want die agent se "here" en die busbestuurder se optelplek was so 'n 500m uitmekaar. Nietemin, ons is toe op die bus en begin die toer, nadat die res van die geselskap by baie mooi oorde in die omgewing opgepik is. 


Die toer self was nogal soos die spreekwoordelike “curate’s egg” met OK-erige gedeeltes, gevolg met werklik aangrypende dele.


Die eerste stop was by Kotsinas waar ons 'n ou kerkie met 'n lang geskiedenis kon besoek, asook die beeld van 'n plaaslike heldin wie haar pa met 'n sabel teen die invallende Turke verdedig het.

Kotsinas

Die ou dorpies is baie "picturesque" met hierdie drinkplekke vir algemene gebruik redelik beskikbaar. Dis duidelik dat van die geboue horingoud is en steeds in algemene, hoewel vervalle, gebruik is. 

Drinkplek

Die hoogtepunt van die toer was beslis die besoek aan Poliochne. Die stad het 2200 v.C. begin as’n klompie hutte, wat deur die eeue ontwikkel het tot 'n stad van nagenoeg 1500 inwoners met strate,  gemeenskaplike sale, ens. Dit het natuurlik herhaalde kere terugslae ervaar (met 'n groot F), goeters soos aardbewings, Turkse, Roemeinse en ander oornames. Elke keer met grootskaalse verbranding, vernietiging en slawerny. 

Uiteindelik is die stad verlaat omdat dit te gevaarlik naby die kus was vir knaende aanvalle deur Turkse seerowers. Hier is ’n vriendelike groepfoto van twee ou “sites”.

Ou goed

En ons het gedink dat ’n driepootpot is 'n Suid-Afrikaanse uitvindsel, hierdie outjie is so 1000+ jaar oud.

Kleipot

Die verskillende epochs is duidelik sigbaar en in die plaaslike museum is die steen tot brons tot koper artefakte sigbaar.

Poliochne

Ons het middagete by die plek in Moudros genuttig, lekker koel en aangenaam onder die groot bome, terwyl die bries van die die see af instoot.


Die sardyne met vars brood was heel lekker! Ek het proefondervindelik uitgevind dat hul graatjies , alhoewel fyn, redelik taai is en dat mens die vissies maar eerder moet soort van fillet.

Galazio Limani Restaurant

Sardyne



No comments:

Post a Comment