Saturday, September 15, 2018

Baba Adası

12 September 2018. Woensdag.

Küçük Kuyruk to Baba Adası

Ek wonder of ons weer gaan hop by Baba Adası, 13.8 myl. Ons was al baie daar en elke keer het ons die hele liewe tyd op en af en heen en weer gebons.
 
Vroegoggend Küçük Kuyruk

Vandag is 'n wolkdag. Oraloor, om my heen, is daar 'n wolk. Groot dreigend gryses. Hulle is dié wat jou laat wonder of daar 'n storm gaan losbars. En die veraf gedonder en bliksem, bevestig jou vermoede. Dis gelukkig doer vêr op die oop see. Dan is daar die hoë groot wit toringwolk.  Hy borrel opwaarts, boontoe boontoe tot daar waar my ma in die hemel is. Groot indrukwekkende wit wolk, gelukkig is dit agter ons.
 
Wolktoring

Die hemelruim verskaf genoeg verskeidenheid. Wittes en gryses. Daar is die dun wolkies wat soos 'n "koue front op pad" lyk. Hulle hou die belofte van korter dae en herfs in. Gelukkig is ons dan al weg.

Dun wolkies
Wolke

Baba Adası kom nader en sy ou vuurtoring lyk vaal in die doflig. Die son is nog steeds vasgevang. Kom net so nou en dan uit die greep van die wolke.

Baba Adası

En wat 'n verrassing! Die see is doodstil. Dit hop nie! Ons bons nie! Ons gooi anker en dit byt lekker. Later kom nog 'n jag hier anker en ons het bure. Wat 'n heerlike anker! Ons besef dis eintlik 'n baie mooi ankerplek. Ons geniet ons laaste swem van die seisoen.


Laaste swem
Dit word aand


Wednesday, September 12, 2018

Tot siens en Küçük Kuyruk

11 September 2018. Dinsdag.

Fethiye tot Küçük Kuyruk

Vandag verlaat Yvon en Louise ons. Hulle gaan Turkye verder verken en ons is op pad na Marmaris, waar Maja gaan oorwinter. Dan gaan ons vir twee weke Georgië toe.

Ons eet vir oulaas saam ontbyt op die dek en toe is dit "Skipskop, Skipskop, sit jou goedjies op jou kop ...". En ons groet vir Yvon en Louise.
 
Vroegoggend Fethiye
Tot siens julle
 
Yvon het Phaselis die meeste geniet. Om sommer net anker te gooi en dan is die antieke ou stad sommer op Maja se voorstoep, was vir hom iets baie besonders. Hy het die dag terdeë geniet.
 
Phaselis teater
Phaselis
 
Louise het Kaş die meeste geniet. Hulle het omtrent die dorp platgeloop. Die teater en graftombes en sarkofaag was besonders. En om nie eers te praat van die groot boeremark nie! Dis was vir haar heerlik on sommer twee dae daar te bly. 
 
Graftombes in Kaş
Teater
Uitsig oor Kaş
 
Ons sien hulle af en toe laat ons spaander na  Küçük Kuyruk, 12.4 myl. Dis aan die buitewyke van Göcek.

Ons kry 'n plek en gooi in diep water, 20 m, anker en Archie swem die toue land toe. Toe is ons netjies langs 'n Engelse seiljag vas en veilig. Die baai het kristalhelder water en Archie snorkel al langs die rotse en verwonder hom aan die mooi.
 
Küçük Kuyruk
Küçük Kuyruk
 
Later waai Gus en die Engelse boot waai nader aan ons. Hy is net met een tou aan die land vas en waai teen ons vas. Ons sit inderhaas fenders uit en Archie keer af met die groot balfender. Hy roep hulle, want hulle is binne.

Die bure kom toe deur die slaap uit hul boot. Hulle sê hulle slaap, want hulle het die vorige nag op Gemiler nie 'n oog toegemaak nie, want daar was deinings wat by hul ankerplek ingerol het. Hulle is verbaas om te sien dat hulle teen ons is, maak vreeslik verskoning. Ons stel hulle gerus. Alles is onder beheer. Hulle besluit toe ook sommer hulle vertrek en koebaai, weg is hulle.

Ons geniet die mooigeid van die baai en maak seker ons swem baie. Dis  ons tweede laaste swem van die seisoen.

Die aand wieg ons heen en weer en weer en weer heen en weer. Maar net liggies. Ons kan darem ons oë toemaak en droomland toe gaan.

Fethiye.

10 September 2018. Maandag.

Gemiler tot Fethiye Marina

So, alles kom tot 'n einde. Vandag is Yvon en Louise se laaste vaart op Maja. Yvon gaan maak die toue los, ons trek die anker op en weg is ons na Fethiye, 14.9 myl.

Oggendskoot
 
Ons maak beurte om agter die helm te sit en stadig maar seker prrr ons voort. Vorentoe, altyd vorentoe. Ek sit en oordink die laaste paar dae met die Franse Kanadese van Quebec en besef goeie kommunikasie is baie belangrik. Hulle is eintlik Franssprekend en ons het in Engels gekommunikeer. Soms het hulle nie heeltemal verstaan wat ons bedoel en sê nie en ander kere het hulle nie al die woorde geken om hul gedagtes in woorde uit te druk nie. Maar nou ja, alles het tog goed afgeloop.

Hoe nader ons aan Fethiye kom, hoe besiger raak dit. Dis net gulets en toerbote wat van voor kom. Fethiye is 'n baie gewilde dorp om toere te bespreek.
 
"Rush hour"
 
Ons kontak die marina en ek vra spesifiek vir 'n plek binne die marina. In 2015 het hulle mos vir ons aan die buitekantse pier van die marina laat alongside waar ons heeltyd gesit en hop het en ons moes 700 m na die toilet toe loop. Ek onthou nog hoe de moer in ek was.

Ons pomp eers swartwater uit (en dis nie "self service" nie) en gooi diesel in. Ons kry 'n plek omtrent 20 m van die toilet en Carrefour af. So gaaf van hulle!
 
Marina
Maja se mense
 
Ons stap dorp toe en Fethiye is nog net so vriendelike plek soos altyd. By die Chandler kry Archie sy waterpomp se dinges wat gebars het én die houer van die buitestort wat Yvon gebreek het. Nou het hy goeters om oor drie dae by Marmaris reg te maak!
 
Fethi
 
En toe is dit die weelde van 'n lang stort met baie water. Dis net seepbelle en shampoo. Ons ruik omtrent kosmeties toe ons al vier op die boot sit, ewe opgetert en reg vir die dankie-sê ete. Ons geniet eers vir oulaas 'n yskoue wyn op die dek en toe laat spaander ons na die Megri restaurant. Ons het in 2015 saam met Dirk en Leon daar geëet en dit was heerlik.
 
"Preprandial drinks"
"All dressed up"
 
Megri is sommer so onder 'n rankplant onder 'n boom. Heerlike atmosfeer. Ek en Archie bestel dadelik 'n lamskenkel met roosmarynsous. Groot was my verbasing toe Louise dit ook bestel! Yvon bestel köfte. Archie, Yvon en Louise gesels heerlik oor Nepal en ek verkyk my aan alles en almal rondom my. Yvon breek een van die groot rooiwynglase en voel vreeslik sleg daaroor.
 
Laaste aandete
Hartseer
 
"Dankie julle vir 'n heerlike ete!"

Monday, September 10, 2018

Yesilköy en Gemiler.

8 en 9 September 2018. Saterdag en Sondag.

Kaş Marina tot Yesilköy

Yesilköy tot Gemiler

Ons is nou besig om aan die einde van Yvon en Louise se kuier te kom. Dis nou net na Yeşilköy, naby Kalkan, 14.4 myl waar ons anker.

Kalkan

Daarna na Gemiler, 29.7 myl. Hier is mos die sewe kape wat baie moeilik kan wees. Weereens was die kape goed vir ons en na 'n tweede probeerslag is ons vas by Gemiler. So vol het ons nog nooit die ankerplek beleef nie.

Indrukwekkende sonsopkoms

Vol seile
Kaap 5, 6 en 7 (van wes tot oos)
Kaap 1 en 2
Dolfyn
Oorvol Gemiler ankerplek


Kaş Marina.

6 en 7 September 2018. Donderdag en Vrydag.

Polemös Bükü tot Kaş Marina

Die pad na Kaş is 18.8 myl. Dit voel lank na die heerlike kort dae in Kekova. Naby Kaş begin Gus vreeslk te waai en die golwe is baie groot. In die Kaş marina is daar geen wind nie.

Ons gaan pomp eers swartwater uit. Ons staan "alongside" by die pomp, maar niemand help ons nie. Hulle drink tee. Ons wag maar geduldig. Toe kom een van die teedrinkers vir ons sê uitpomp is "self service". My donder, twee weke terug was ons hier vir uitpomp en hulle het gehelp met uitpomp. Nou is dit kastig "self service". Nog nêrens in Turkye het ons self ons swartwater uitgepomp nie. Maar ek vererg my!

Na ons self uitgepomp het, neem die marinaman ons na ons plek en vas is ons. Toe  hy vra of daar enige vrae is, vra ek toe oor die swartwater. Na 'n hittige gesprek met die arme man, is die gaste grootoog en geskok en Archie vies vir my. Ek is kwansuis aggressief. Hy (die man by die pomp) kan bly wees hy het nie 'n klap gekry nie.  Diplomatiese Archie het toe by die marinakantoor voorgestel dat hulle 'n kennisgewing opsit om te sê uitpomp is "self service".

Gus begin later baie erg te waai en almal praat oor die groot see Kalkan se kant toe. Die kaptein besluit ons gaan twee nagte hier oornag.

Die Kanadese neem ons uit vir aandete en dis 'n aand met heerlike kos. Archie is pragtig uitgevat met sy Maja hemp wat Yvon en Louise spesiaal vir hom gemaak het en ek dra my spesiale Maja handsakkie.
 
Uitgevat
Louise en Yvon
Aandete
 
Die volgende dag is daar 'n boeremark en daai groente en vrugte roep my. Na Archie en Yvon ons aankope by die boot gaan aflaai het, skei ons paaie en ek en die kaptein geniet dit om in Kaş rond te dwaal en die atmosfeer te geniet.   
 
Boeremark
Boeremark
?
Straattoneel
"King's Tomb"

"King's Tomb"
Kaş

Kaş Hawe

Ek maak die aand lamskenkels en groenbone gaar vir aandete.  Dit ruik heerlik met die roosmaryn,
uie en knoffel wat saam met die lam prut-braai. Ek sit die maaltyd met trots voor. Maar o wee! Die gaste eet maar langtand aan die vleis wat ek met soveel sorg stadig gepotbraai het. Soveel dae, soveel dinge.

Friday, September 7, 2018

Pölemos Bükü

5 September 2018. Woensdag.

Üçağız tot Pölemos Bükü

Alweer 'n hanetree na Pölemos, 3.6 myl. Ek het dié baai mos verlede jaar, saam met Till en Andree herdoop na windbaai.

Ons gooi anker en ons is vas. En ons stap dadelik na Aperlae, die antieke Lycian stad. Hier het mense gewoon vanaf 4de eeu v.C. tot die 7de eeu n.C. Die pad is lank en warm en sweet is ons voorland. Hier is baie karobbome. Die blare en die peule word gebruik vir voer vir diere. Die woord "karob" hou verband met die hedendaagse term "karaat" (waarin edelgesteentes gemeet word), omdat elke saad omtrent 0.2 g weeg.  Sommige mense dink dis die waarheid, ander beweer dis 'n mite.
 
Lang warm pad
Karobboom
Karob peul en pitte
 
Dit wemel hier van gesonke fondasies en sarkofae. 'n Ou muur wat rondom die stad was, is nog te sien en ek gaan verken die binnekant van die muur terwyl Archie, Yvon en Louise êrens anders heen loop.
 
Gesonke gedeelte van die stad
Yvon, Louise en Archie
Sarkofaag
Ek op die fondasie
Stadsmure
Archie en ek
Mooi sarkofaag
Sarkofae
Binne-in die muur
 
Ons stap die lang pad terug en skrik nie vir die voëlverskrikker nie, want ons is mos nie voëls nie. Ons drink by die nors man bier en coke, omdat ons vie Dinkie by sy restaurant vasgemaak het.
 
Voëlverskrikker
 
Die herdoop van die baai is nie om dowe neute nie. Gus begin waai en Maja word heen en weer geswaai.  Ek hoop die ander drietjies geniet die blêrrie wind, want ek geniet dit gladnie. Dit raas en irriteer my oë. Kry vir julle! Kaas dit en geniet dit!