Wednesday, September 12, 2018

Fethiye.

10 September 2018. Maandag.

Gemiler tot Fethiye Marina

So, alles kom tot 'n einde. Vandag is Yvon en Louise se laaste vaart op Maja. Yvon gaan maak die toue los, ons trek die anker op en weg is ons na Fethiye, 14.9 myl.

Oggendskoot
 
Ons maak beurte om agter die helm te sit en stadig maar seker prrr ons voort. Vorentoe, altyd vorentoe. Ek sit en oordink die laaste paar dae met die Franse Kanadese van Quebec en besef goeie kommunikasie is baie belangrik. Hulle is eintlik Franssprekend en ons het in Engels gekommunikeer. Soms het hulle nie heeltemal verstaan wat ons bedoel en sê nie en ander kere het hulle nie al die woorde geken om hul gedagtes in woorde uit te druk nie. Maar nou ja, alles het tog goed afgeloop.

Hoe nader ons aan Fethiye kom, hoe besiger raak dit. Dis net gulets en toerbote wat van voor kom. Fethiye is 'n baie gewilde dorp om toere te bespreek.
 
"Rush hour"
 
Ons kontak die marina en ek vra spesifiek vir 'n plek binne die marina. In 2015 het hulle mos vir ons aan die buitekantse pier van die marina laat alongside waar ons heeltyd gesit en hop het en ons moes 700 m na die toilet toe loop. Ek onthou nog hoe de moer in ek was.

Ons pomp eers swartwater uit (en dis nie "self service" nie) en gooi diesel in. Ons kry 'n plek omtrent 20 m van die toilet en Carrefour af. So gaaf van hulle!
 
Marina
Maja se mense
 
Ons stap dorp toe en Fethiye is nog net so vriendelike plek soos altyd. By die Chandler kry Archie sy waterpomp se dinges wat gebars het én die houer van die buitestort wat Yvon gebreek het. Nou het hy goeters om oor drie dae by Marmaris reg te maak!
 
Fethi
 
En toe is dit die weelde van 'n lang stort met baie water. Dis net seepbelle en shampoo. Ons ruik omtrent kosmeties toe ons al vier op die boot sit, ewe opgetert en reg vir die dankie-sê ete. Ons geniet eers vir oulaas 'n yskoue wyn op die dek en toe laat spaander ons na die Megri restaurant. Ons het in 2015 saam met Dirk en Leon daar geëet en dit was heerlik.
 
"Preprandial drinks"
"All dressed up"
 
Megri is sommer so onder 'n rankplant onder 'n boom. Heerlike atmosfeer. Ek en Archie bestel dadelik 'n lamskenkel met roosmarynsous. Groot was my verbasing toe Louise dit ook bestel! Yvon bestel köfte. Archie, Yvon en Louise gesels heerlik oor Nepal en ek verkyk my aan alles en almal rondom my. Yvon breek een van die groot rooiwynglase en voel vreeslik sleg daaroor.
 
Laaste aandete
Hartseer
 
"Dankie julle vir 'n heerlike ete!"

No comments:

Post a Comment