Tuesday, June 26, 2018

Koutala Baai. Serifos Eiland.

25 Junie 2018. Maandag.

Fikiada Baai tot Koutala Baai
Hierdie Cyclades is nie vir my nie. Te veel wind. Te groot see. Te min rus vir my siel. Gus het darem stiller geraak in die nag.

Vandag gaan ons nie vêr nie. Ons wil eers kyk hoe lyk Merika se ankerplek en dan gaan ons na Ag. Dimitrios Baai, 7 myl. Ons ry eers 10:00. Merika se ankerplek lyk nie te waffers nie en ons gaan na Ag. Dimitrios. Gooi anker, dit byt pragtig, maar dit wieg in die baai. Ons trek toe maar anker op en seil 15 myl verder na Koutala Baai op Serifos eiland. Ons kort dag word 'n lang dag!

Hoe later hoe kwater en die wind waai sterker, gelukkig van skuins agter en daai see rol en wieg ons rond. Ek is nou al gatvol vir reuse golwe. Tot Archie se oë rek soms as die drie groot golwe na mekaar aangerol kom. Dan gaan dit 'n rukkie beter, tot die volgende drie golwe kom. Ons stem darem oor een ding saam. So groot see is nie lekker nie.

Die wind en see klim in my gemoed. Krap my om. Maak my bedruk. Waar is heerlike Saronic See? En die Ioniese See? En die Peloponnisos? Hier is net wind en wieg. Ek sal weer gewoond moet raak.

Genadiglik gaan ons om die hoek en die see is plat. Daar is wel windvlae, maar die baai bied genoeg beskerming. Hierdie Serifos is een dorre eiland. Vreemde soort mooi. Gekasty deur wind en weer. Ons gooi anker. En hier is ons.

Koutala Baai
 

Monday, June 25, 2018

Fikiada Baai. Kithnos Eiland

24 Junie 2018. Sondag.

Tselevinia tot Fikiada Baai

Dis nog donker toe ons koffie drink. Vandag is die lang pad na Fikiada Baai op Kithnos Eiland, 41 myl. Dis ons seekruising van die Saronic See na die Cyclades. Daar word Fors 5 winde voorspel (so 20 knope).

Ons vertrek 5:15. Dis nog bietjie donker en Maja se ligte is aan. Die winde is so 10 tot 15 knope. Toe dit lig word, span ons die genoa en die hoofseil. Die wind is van die kant en ons seil heerlik gemaklik.
 
Vroeg uit die vere
 
Ons vaar verby die windplaas (eintlik 'n eiland vol windturbines). Dis seker daai turbines wat die towerwoord gespreek het, want toe ons verby die windplaas is, begin Gus in sy volle glorie te waai. Stadig maar seker styg daai knope. Ons trek later die hoofseil in en nog later seil ons net met 'n klein stukkie genoa. Ons seil teen 5 tot 6 knope. 

Wind eiland
 
Die see is groot. Reuse golwe spoeg ons telkens in die gesig. Maja word behoorlik geskommel. Die golwe rol van skuins van af voor onder Maja deur ander kant uit. En ons rol saam. Jy kan nie vir een oomblik ontspan nie. Jou lyf is gedurig besig om te kompenseer vir die beweging. Archie vat daai helm vas, konsentreer en so vorder ons vorentoe. Altyd vorentoe.
 
Archie by die helm
 
Vir 22 myl seil ons so. So groot see het ons lanklaas beleef. Groot was ons vreugde toe die baai in sig kom, na 9 ure op see. Daar is reeds 'n hele paar jagte op anker, maar daar is plek vir ons. Hier is nou wel windvlae in die baai, maar die see is plat.
 
Fikiada Baai

Fikiada Baai
 
'n Seiljag met 'n klomp Kroasiërs gooi anker net agter ons, maar hulle toets nie die anker vreeslik goed of dit gebyt het nie. Ek sien later hulle jag is baie vêr agter ons en dink hulle het hul anker oorgegooi. Hul dinghie is nie by die jag nie, so hulle is nie aan boord nie.

Toe daai manne terugkom, is hulle in paniek. Hul anker het gesleep, baie na aan die rotse. Hulle trek anker op en dis net seegras. Hulle het mos hoeka nie getoets of dit gebyt het nie. Hulle gooi weer anker, net so voor ons en toets wragtig weer nie of dit behoorlik gebyt het nie! Gelukkig waai Gus baie ligter. Sommige seilers gee net nie om nie. Dis mos maar net 'n charter boot!

Ons bly die hele dag op Maja. Glad nie lus om in dié wind land toe te gaan nie. Ek het genoeg gehad van wind.

Doodmoeg gaan slaap ons lekker vroeg en maak behoorlik daai matras seer. Baie dankbaar ons is veilig hier!

Elize en Fanie

Elize.


Elize

Hierdie was Elize se vierde seilvakansie saam met ons op Maja. Sy het ons verbaas met haar uithouvermoë om al die steil paadjies en straatjies uit te klim. Sy is 'n sien-vraat. Kry doodeenvoudig nie genoeg van die dorpe nie. Sy wil álles sien en ervaar.

Elize het altyd gehelp waar sy kan. Altyd op haar pos met die koue drankies en sy kán goed skottelgoed was. Dankie vir al die hulp. Dit word baie waardeer.

Elize skryf:
"Dis altyd so moeilik om tussen al die pragtige plekke te kies, maar Monemvasia was vir my dié mooiste en lekkerste. Monemvasia, met sy dorpie op die berg. Die mooi strate tussen die ewe mooi huise en al die pad boontoe. Na die mooiste ruïnes van huise van lank gelede. En op dieselfde dag, die rustige anker in Ieraka baai, waar ek net tot ruste kon kom en die stilte van die baai kon indrink.

Monemvasia

Die kasteel met sy 999 trappe by Nafplio was ook ' n hoogtepunt. Dit was die beste kasteel wat ek nóg gesien het.

Navplio Kasteel

Dan was daar ook nog Ermioni, waar die hope bote op die kaai afpeil en die chaos om vir almal 'n plek te kry. Dit was baie opwindend.

My beste ervaring was die heerlikste swem op anker by Zoyioryia Baai, op Spetsai. Die water was so helder, ek kon meters diep in die water sien, met die mooiste turkoois-blou kleur. Ek kon nie ophou swem en my verkyk nie.

Heerlikste swem

Elke berg wat ek uitgebeur het, of dit nou tot by 'n kasteel of  'n kerk was, of tussen huise deur tot bo, met die steilste trappe wat voor jou uittoring, was vir my 'n lekker uitdaging met 'n gevoel van oorwinning as beloning. Sowat van steil opdraandes en berge, het ek lanklaas beleef.

Trappe op
Berg op by Monemvasia

Dankie Marietjie en Archie vir julle gasvryheid en met julle kundigheid met die hantering van die boot. Nadat ek gesien het hoe onhandig sommige seilers met hulle bote omgaan, is ek bly ek kan saam met julle seil. (Dankie vir die kompliment)

Dankie ook vir die heerlike etes wat ons altyd geniet het. Dankie vir die kapteinskoffie met die koekie van elke oggend.

Ons sal die vakansie, die seil en elke wonderlike en mooi dorp of baai altyd onthou.

Lekker verder seil."

Fanie.

Fanie

Fanie het miere.  Hy moet altyd aan die beweeg bly (behalwe as ons vaar en hy sit voor op die snoet). Hy was elke dag sommer vroeg uit die vere en dan gaan draf hy of verken die dorp. Kom dan terug met twéé brode en verorber een dan saam met sy koffie.

Dis vir hom heerlik om op die dek te slaap, waar 'n briesie hom kan afkoel. Hy het gereeld saam met Elize die skottelgoed gewas en was altyd bereid om met alles te help. Hy is net effe sku vir die klein wit monster in die "head". 

Die plek wat hom die meeste beïndruk het, was Idhra. Die besige hawe, die opstap kerk toe, die hele dorp sonder motors. Ook Mandraki waar ons geanker het met 'n "line ashore". Ook die heerlke 4 km stap van Mandraki tot by Idhra se dorp.

Idhra
Elize en Idhra se perde

Fanie het baie werkstres. Hy sê dit was vir hom heerlik om op Maja se snoet te sit en totaal af te skakel. En dan net die ritmiese prrr van Maja te hoor en die sagte kabbeling van die verbygaande water. Hy kon heerlik ontspan.

Ontspan op Maja se snoet

Dankie Elize en Fanie vir julle kuier. Dit was vir ons heerlik om julle aan boord te hê op ons kleine Maja (ma het altyd so gesê). Baie dankie vir die geskenk-geld. Ons sal dit nuttig gebruik. Julle kan gerus weer kom.

Sunday, June 24, 2018

Tot siens en Tselevinia

23 Junie 2018. Saterdag.

Poros tot Tselevinia

Ons is vroeg uit die vere. Elize moet nog 'n paar goedjies pak. Ons stap na die veerboot en dis sukke tyd. Koebaai-sê. Na die nodige oor en weer bedankings en drukkies en groetery, stap hulle aan boord. Dis 'n bloedrooi ou veerboot en Archie merk op "its only the paint that keeps it together". Gelukkige het Elize dit nie gehoor nie, anders sou sy haar vreeslik bekommerd het. Ons waai totdat ons mekaar nie meer kon sien nie. Archie sê: "Komaan, dis nou genoeg!"

Pak
Gereed om te klim
Daar gaan hulle
Koebaai julle
Weg is hulle

Elize en Fanie se seilvakansie is verby. Hulle het van Monemvasia tot by Poros saam met ons geseil. Baie gesien, baie geloop, baie geklim.

Maja voel leeg en eensaam. Ons wag vir die wasgoed van Souzi's wassery. Kwansuis 'n twee-uur diens, maar ons wag vyf ure. Toe die wasgoed kom, vaar ons alleen leen leen na Tselevinia, 6.7 myl. Môre is dit 'n lang kruising met baie wind. Ons gaan slaap vroeg.

Tselevinia Baai




Saturday, June 23, 2018

Poros Dag 2.

22 Junie 2018. Vrydag.

Roete tot op datum

Ons begin sommer vroeg stap. Hierdie plek word baie warm. Archie neem die voortou en hy sien die stapteken en toe weet ons dis die regte pad. Hier in Poros kan mens lekker verdwaal.

Reg vir stap
 
Die uitsigte oor die pragtige dorp raak met elke trappie mooier. Veral Elize stop gereeld om dan af te kyk en die lus vir die oog te waardeer. Mens wil die uitsig inadem en in jou  geheue inbrand om altyd te onthou.

Seiljagte lê stil en vreedsaam op anker in die kanaal. Die ander jagte is saam met Maja teen die kaai vas. Die huise se oranje-rooi dakke is helder in kontras met die wit van die huise. Alles spel 'n rustigheid. Dis heerlik om hier te stap.
 
Pragtige Poros
Poros Kanaal
Archie en ek
 
Ons is al amper op die kruin van die berg en stap heerlik na die kerk. Ek en Elize staan in die boog soos dit susters betaam en Archie vang die oomblik vas en verewig dit vir altyd. Twee susters in bekende vreemde land waar die son ook so heerlik skyn soos in ons sonnige Suid-Afrika. 
 
By die kerk sit ons op die muur en kyk na die roete waarmee ons gekom het. So vleg-vleg tussen die klein eilandjies. Ai, wat 'n voorreg om hier te wees. Ons moet onthou om altyd dankbaar te wees.
 
Die boog
Klein eilandjies
 
Weer dapper en stapper na die westekant toe. Hier is 'n ou fort of iets en dan loop ons verder na 'n kleiner kerkie. Hier sien mens Poros heel anders. Nader en groter. Elize en Fanie lyk pragtig met Poros in die agtergrond.
 
Elize en Fanie
 
Die straatjies in die dorp betower vir Elize. Archie wil na die wagtoring stap en hy klouter op die rots en waai vir sy "ou vrou". Fanie wag geduldig (hoop ek) vir ons. Hy is mos 'n vinnige man wat alles vinnig doen.

Straatkinders
Archie
 
Ons word getrakteer met 'n heerlike  frozen yogurt roomys en eet dit,  met die goedkeuring van die Griekse priester met sy swart gewaad, baard en poniestert, op die kerk se wit  muur. Heerlik. Toe is dit  net af af af en terug na Maja.
 
Eet roomys …
… op kerkmuur
 
Maja se bemanning stort en was hare. Jy ruik net seep en sjampoe. Ons maak gereed vir die groot uiteet. Fanie neem ons vanaand uit vit ete. Die tradisionele dankie-sê ete.  Ons lyk toe te pragtig toe die vierstuks na Platanos stap.

Die mense is vriendelik en ons word goed bedien. Fanie besyel vir hom seekos vir twee (die vraat) en die res van ons is lus vir oond lam. Ons het behoorlik gesmul. "Dankie julle vir 'n heerlike ete!" 

Uitgevat
Spoggerig
Aan tafel …
… by Platanos

Laaina se krale
Dankie julle

 
Ons laaste aand van langbeen sit op Maja kom tot 'n einde.

Friday, June 22, 2018

Poros

21 Junie 2018. Donderdag.

Mandraki Baai tot Poros

Dis die laaste vaart. So gou verby. In 'n oogwink. So vertrek ons na Poros, 11.5 myl. Agter ons lê Idhra, Ermioni, Nafplio, Monemvasia. En al die ander mooi plekke wat ons besoek het.

Vroegoggend Mandraki
En voor ons lê my pragtige Poros. Ek wil mos hê Archie moet 'n huisie vir ons hier koop. Maar nou ja. Dis nie vir ons beskore nie. Ons kry 'n plek langs die dorpskaai, Archie tru, ek gooi anker, Elize en Fanie help met die toue en die tweelingbroers van Oostenryk help op die kaai. Ons is vas. Dis Elize en Fanie se laaste veilige hawe op hul seiljagvaart op Maja van 2018.
Poros
Dis warm hier in die pragtige Poros. Somer is hier in al sy glorie, maar die twee ywerige toeriste pak die dorp dadelik aan. Hulle bly lank weg en kom tevrede, stink en natgesweet terug.
Fanie gaan draf (hy draf omtrent elke dag), Archie werk aan die Autopilot wat weer nie gewerk het nie (en hy kry die fout) en ek en Elize gaan winkels toe (en koop die een en ander). Ek moet ook sê dat my oor baie beter is. Ek kan al weer hoor. Dis te wonderlik! 

My ouste suster, Laaina (bynaam), het vir ek en Elize elk 'n Kit Kat vir ons verjaarsdag gestuur. Ons verjaar altwee mos in Julie. Ons maak dit seremonieel oop en vat 'n hap. Heerlik! Ons het darem met die mans ook gedeel. "Dankie Laaina, dit was heerlik. Wens jy was hier saam met ons!" 
Laaina se Kit Kat
Dit smaak vorentoe
Fanie slaap op die dek en ervaar al die nagpret. Die Engelse wat baklei, mense wat wankelrig is en die kaai musiek. Maar dis ten minste lekker koel op die dek. Hy slaap elke aand op die dek.

En ons elkeen geniet Poros op sy eie manier.

Mandraki Baai. Idhra Eiland.

20 Junie 2018. Woensdag.

Ermioni tot Mandraki Baai

Dit was nou vir my geen lekker nag nie. Ek was naar en skiet 'n katjie. Nou weet jy mos hoe voel mens die volgende  dag. Soos papsak.

Dis weer hierdie snaakse stuk see. Dan waai Gus, dan lê hy. Dan is hy 'n briesie, dan ruk hy hom op. Maar ons seil darem so 'n bietjie. Ons gaan Idhra, myl toe. 

Archie is amper lus om die hawe aan te durf, maar die gevoel gaan gelukkig weg en ons gaan na Mandraki toe om te anker. Dis hier waar ons verlede jaar aan die dik ketting vasgehaak het saam met Michelle en Johan.
Idhra
Hierdie keer maak ons seker dat ons vêr anker gooi. Alles is reg vir die lang tou na die land. Archie tru, ek gooi anker.Toe is dit Archie se tradisionele sierlike boog soos wat hy duik met die tou. Ons maak die toue vas en siedaar! Hier is ons. 
Sierlike boog
Verstel ankerboei
Elize en Fanie stap dorp toe. Ek bly by Archie op Maja. Ek is nog pap na my nag van naarheid. Ek slaap die hele middag soos 'n baba.
Gaan dorp toe
Aksie op Mandraki
Archie help twee uiters onervare seilers om te "line ashore". Eers die Oostenryker wat dit nog nooit gedoen het nie. Hulle alongside vir eers teen Maja, terwyl die onervare man alles reg kry vir sy vasmeer met al die miljoene toue.

Die ander jag is die drie vrolike laggende Engelse. Drie mans. So iets nog nooit gesien nie. Die een ou swem met die hele spul gekoekte tou land toe en sy vasmaakmetode laat ek en Archie se hare rys.
Unieke vasmaakmetode
Archie gee net raad. Toe alles klaar is, kom hulle agter hulle anker het nie gebyt nie nie. Sies tog. Maak weer toue los, vaar uit en gooi weer anker. Archie verduidelik vir hulle stap vir stap wat om te doen. Dis die eerste keer wat hulle dit doen. Hulle lag al die pad. Vreeslik vrolik.

Die aand voel ek baie beter en 21:00 stap ek en Archie die 4 km na Idhra. Die stap in die donker is heerlik. Ons beleef Idhra se naglewe. Ek moet sê, ek hou meer van Idhra in die dag.
*****
Elize en Fanie het Idhra vreeslik geniet. 

Elize vertel: "Idhra hier kom ons!

Ons pak die 4 km na
Idhra met ywer aan en kom na 45 min daar aan. Die pad was maklik met pragtige uitsigte en stewige op en afdraendes. Prentjiemooi.
Mandraki Baai
Op pad Idhra toe
Idhra wag op ons -  'n lieflike gesig met die dorpie en al die bote in die hawe. Op die kant staan 'n hele paar donkies, wat dien as pakdiere om pakkies of bagasie of ander items na die inwoners te vervoer. Ons loop langs die see, langs die mooiste strandjie-swemplekke waar jonk en oud in die mooiste turquooisblou water baljaar.
Prentjiemooi Idhra
Besige hawe
Idhra bakkies
Idhra
'n Maroon kerkie bo-op die berg roep ons. Ons klim stelle en stelle supersteil trappe tot bo, en tot ons verbasing is ons steeds nie heelbo nie. Die huise en trappe gaan aan en aan. Ons besluit om tussen die huise weer na onder te loop, maar steeds gaan ons hoër en hoër. Ons kom later by nog 'n kerkie, maar hy is heeltemal te hoog en soek toe verder na 'n pad ondertoe. In die proses kom ons op murasies van lank gelede af, en 'n ou windmeul. En ... toe ons kyk, is ons weer by die wonderskone strandjies.
Trappe
Swemplek
Daarna dwaal ons nog rond tussen die huise en winkeltjies. Na 'n lekker roomys wat ons op 'n trappie eet, kyk ons vir oulaas terug op die pragtige dorp en hawe voor ons weer die 4 km terug Maja toe aanpak. 
Wat 'n lekker uitstappie!"