![]() |
Mandraki Baai tot Poros |
Dis die laaste vaart. So gou verby. In 'n oogwink. So vertrek ons na Poros, 11.5 myl. Agter ons lê Idhra, Ermioni, Nafplio, Monemvasia. En al die ander mooi plekke wat ons besoek het.
Vroegoggend Mandraki |
En
voor ons lê my pragtige Poros. Ek wil mos hê Archie moet 'n huisie vir
ons hier koop. Maar nou ja. Dis nie vir ons beskore nie. Ons kry 'n plek langs die dorpskaai, Archie tru, ek gooi anker,
Elize en Fanie help met die toue en die tweelingbroers van Oostenryk
help op die kaai. Ons is vas. Dis Elize en Fanie se laaste veilige hawe op hul seiljagvaart op Maja van 2018.
Poros |
Dis warm hier in die pragtige Poros. Somer is hier in al sy glorie, maar die twee ywerige toeriste pak die dorp dadelik aan. Hulle bly lank weg en kom tevrede, stink en natgesweet terug.
Fanie gaan draf (hy draf omtrent elke dag), Archie werk aan die Autopilot wat weer nie gewerk het nie (en hy kry die fout) en ek en Elize gaan winkels toe (en koop die een en ander). Ek moet ook sê dat my oor baie beter is. Ek kan al weer hoor. Dis te wonderlik!
My
ouste suster, Laaina (bynaam), het vir ek en Elize elk 'n Kit Kat vir
ons verjaarsdag gestuur. Ons verjaar altwee mos in Julie. Ons maak dit seremonieel oop en vat 'n hap.
Heerlik! Ons het darem met die mans ook gedeel. "Dankie Laaina, dit was
heerlik. Wens jy was hier saam met ons!"
Laaina se Kit Kat |
Dit smaak vorentoe |
Fanie slaap op die dek en ervaar al die nagpret. Die Engelse wat baklei, mense wat wankelrig is en die kaai musiek. Maar dis ten minste lekker koel op die dek. Hy slaap elke aand op die dek.
En ons elkeen geniet Poros op sy eie manier.
No comments:
Post a Comment