Thursday, June 22, 2017

Mytilini.


20 en 21 Junie 2017. Dinsdag en Woensdag.

Çamlik Köyü tot Mytilini, Lesvos

Archie het gister al die nodige draaie geloop van die hawemeester, hawepolisie en die doeane en nou is ons amptelik uitgeklaar, vry om te gaan. Klaar met Turkye, miskien vir lank. Ons het gister na nêrens gevaar en êrens in Niemandsland geanker.

Tot siens Turkye

En vandag gaan ons Griekeland toe. Lesvos Eiland na die hawe waar ons gaan inklok, Mytilini, 18.8 myl. Hulle het sterk winde oorspel vir vandag, maar gelukkig van skuins agter. Ons pak die stuk see tussen Turkye en Lesvos aan en ons seil vir twee ure, net met die genoa. Die wind waai tussen 18 en 23 knope en ons laat waai behoorlik.

Mytilini kom nader en sy groot kasteel staan trots oor die see en uitkyk. Ons kry alles reg, want ons moet alongside by die hawepolisie vasmeer om in te klok.

Archie roep die polisie op kanaal 12 en hy wag ons in op die kaai. Hy blaas sy fluitjie ongeduldig. Ons is nie vinnig genoeg na sy smaak nie. Archie vaar langs die kaai in, ek gooi die toue en die polisieman maak vas. Hy sê daar kom oor 20 minute ’n veerboot en dan moet ons weg wees. En ek dink: ”In your dreams.”

Archie gryp sy lêer en daar trek hy. Ek moet op die boot bly want as die reuse veerboot wat in die baai lê, wil vertrek en iets loop skeef, moet ek vir Maja wegvat. Ek sit op Maja en ek sien Archie wink vir hy. Hy lyk amper soos ’n windmeule soos hy wink. Ek klim af en stap na hom toe. Die polisieman spring op en kom vinnig na my toe en vra waarheen gaan ek. Ek moet moes op die boot bly. Die doeane polisie soek my. Hy sê ek moet dan maar gaan en hy gaan staan by Maja. Hy sê ek moet hardloop. Ek loop toe op my vinnigste.

Hulle wil toe my vingerafdrukke neem en toe hulle klaar is, gaan ek weer terug na Maja en Archie gaan na die Doeane vir ons "transitlog". Die polisieman staan ewe gertou nog by Maja. Ek klim op en sit op Maja.

Na ’n tyd kom daar ’n veerboot en meer baie na aan ons vas. Dis toe die veerboot wat oor twintig minute sou gekom het. Daar is gelukkig genoeg plek vir hom en ons is veilig. Maar daai Archie bly lank weg. Dis later ’n uur, nog later, amper na twee ure kom hy terug en sê sy kapteinslisensie het verval. Dis die eerste keer in die vier, nou ons vyfde jaar, wat ons seil dat iemand daarvoor vra. En die blerrie ding het 21 Mei 2017 verval.

Nou moet ons die SA Sailing in Durban, waar ons ons lisensies gekry het, kontak en hulle moet die ding hernu. Ons kry nie die "transitlog" voordat ons nie die nuwe lisensie kan toon nie. Ons mag Mytilini nie verlaat nie.

Ons gaan maak toe maar "alongside" by die kaai vas. Maar dis omtrent 'n lawaai-kaai. Erger as Johannesburg se middestad. Dis motors en busse en motorfietse wat op en af voor ons verby ry.  Archie gaan dadelik dorp toe om internet te gaan koop sodat hy die mense in Durban kan kontak. Die vrou in Durban pos toe vir hom ’n vorm om in te vul en hy doen dit en betaal die R465.00 vir die nuwe lisensie. En nou wag ons al vir twee dae en nog niks. Miskien sal Zané en Pieter hulle vakansie op Mytilini moet deurbring …

"Alongside" Mytilini dorpskaai
Gaan stap
St. Therapon se kerk

Ons gaan besoek die kasteel, maar dit is gesluit na die aardbewing, om veiligheid redes. Ons moet maar tevrede wees met beperkte uitsigte op die kasteel. Dis ’n reuse kasteel en moes baie indrukwekkend gewees het in sy gloriedae. 

Kasteelmuur
Noord hawe met ou breekwater
Ou hek
Seemuur
Fort

Ons stap rond in Mitilini en sien baie min aardbewing skade. Hier is baie meer mense as wat hier verlede jaar was. Die plek lewe en dit raas. Dis nie net Grieke wat hier bly nie. Hier is baie vreemde nasies met vreemde afkoms. Sommige mense lyk baie verwaarloos.

Vryheidsmonument
Stap langs die see

Ons hoop dat ons môre die lisensie kan kry dat ons kan vertrek. Die Hawepolisie kom sê vir ons ons moet skuif en ons beland so wragtig langs ons ou bure van Ayvalik.

Sunday, June 18, 2017

Ayvalik.


18 Junie 2017. Sondag.

Ayvalik Marina

Ons wou vandag na die antieke stad van Pergamon toe gaan. Maar helaas, dis bewolk en hulle voorspel reën. So ons bly maar by die huis. Ons wag dat dit lyk of dit effens ooptrek en toe gaan ons dorp toe. Zafer het gesê ons moet by Paşa gaan eet, want hulle olive oil cooking is uit die boonste rakke. Dis mos Turkse familie kos.

Ons stap al die pad dorp toe, terwyl die lae wolke dreigend in die lug hang. Dit kan enige tyd reën. Ons kry die Paşa restaurant, maar hy is toe op ’n Sondag. Dooiemansdeur. Net soos baie ander winkels en restaurante. Ons dwaal rond op soek na nog olyfolie kookkuns. Maar puur verniet. Die meeste is toe. 

Vars groente

Ons vind weer vir Violetta, die pers winkel waar ek verlede jaar vir my vriendin oorkrabbetjies gekoop het, maar sy is ook toe. Dis amper soos Laurika Rauch se liedjie “Alles is blou …”, maar dis nou die geval van “Alles is toe …”

Violetta se winkel
Kleurvolle kas
Plaveisel
Tweedehandse winkel

Die honger knaag en die een restaurant se kos sal eers 13:00 gaar wees en dis nou maar eers 11:30. Dis te lank. Dit kom daarvan as mens te vroeg dorp toe gaan. In hierdie geweste begin die lewe baie later as by ons in Suid-Afrika. Ons eet toe maar by so ’n kafee ding aan die gatkant van Ayvalik. Ons was nie lus vir duur betaal nie. En nogal lekker, die kos. Nie wow nie, maar lekker. 

Restaurant

Ons stap terug en koop vir oulaas voorrade voordat ons die land gaan verlaat. Die goed is goedkoper hier in Turkye as wat dit in Griekeland is. Môre gaan Archie die langsame proses van uitklaar doen en as dit nie te laat is nie, gaan ons Lesvos, Griekeland toe. As dit te lank neem, gaan ons maar weer by ’n baai anker en dan Dinsdag die pad na Griekeland toe vat.

Ons eet heerlike vis wat ek self gaarmaak om ons toer in Turkye mee af te sluit.

Ayvalik. Ou vriende.


17 Junie 2017. Saterdag.

Turkye se seilroete
Çamlik Köyü tot Ayvalik Marina

Vandag is ons laaste Turkse been vir die jaar. Ons gaan Ayvalik Marina toe, 3 myl, waar ons uit die land moet klok. Dis met heimwee wat ons die laaste stuk na die marina toe vaar. Ons is baie lief vir Turkye.

Ons kry ons baie duur tuiste in die marina en ons is hier vir twee dae. Dis nou wasgoed was en boot skrop en stofsuig, want ons het nou landkrag wat ons kan gebruik. Ook ’n lang, baie-water stort, waar jy alles skoon kan skrop en afspoel en sommer net vir die lekker daarvan onder die stort staan met die water wat teen jou afstroom. Lekker!

Toe maak ons reg om saam met Zafer en Nuran Türkmen, ons Turkse vriende, te kuier. Hulle bly op Bademli, maar kom vandag vir ons op Maja kuier. Dis heerlik om hulle weer te sien. En met ons beperkte kommunikasie, gesels ons lekker. Dis halwe sinne en handgebare en soms lag ons maar net. Ons drink sap en eet ietsie lig.

Nuran en Archie
Ek en Zafer
Nuran en ek
Zafer en die meisies
Archie en die meisies

Toe neem Zafer ons in sy mobiele huis na Alibey vir aandete. Ons stap rond en Alibey het atmosfeer soos min. Dis soos in Griekeland. Almal loop rond en geniet die pragtige dorpie.

Mobiele huis





Ons gaan eet by ’n familie restaurant, waar hulle “olive oil” kos voorsit

. Dit is wat hulle tuisgemaakte tradisionele Turkse kos noem. Ons eet heerlik en die kos is uiters smaaklik.

By die Adamis Restaurant
Nuran en ek by Adamis se spyskaart

Na ete stap ons in die dorp rond. Nuran soek hoede vir Zafer se suster en koop sommer twee. In Turkye is dit nou Ramazan. Die Moslems mag nie in die dag eet nie en as die son onder gaan, skiet hulle die kanon wat die einde van die dag se vas aankondig. Dan mag hulle eet. 

Alibey se kaai
Turkse bruidspaar

So loop ons te lekker verby ’n besige restaurant toe die kanon afgaan. En ek? Ek gee een van my berugte gille en al die mense rondom my skrik. Toe hulle klaar geskrik het en ek lig my hand op om apologie aan te teken, bars almal uit van die lag. Ons vier lag omtrent die hardste van almal. Wel, ek is bly ek kon bietjie vermaak verskaf!

Baie later klim ons weer in die mobiele huis en ry terug na Ayvalik en hulle laai ons by die marina af. Wat ’n heerlike genotvolle aand het ons saam met baie spesiale vriende deurgebring. Dankie, julle!






















Çamlik Köyü.


16 Junie 2017. Vrydag.
 
Poroselene tot Çamlik Küyü


As jy van watervervoer gebruik maak, moet jy jou watertekens ken. As jy só ’n swart-geel-swart boei in die water sien, met twee driehoeke wat na onder wys, beteken dit dat daar ’n gevaar is en jy moet aan die suidekant van die boei verbyvaar. 

Gaan aan suidekant verby

As daar ’n smal kanaal by ’n hawe is waarin jy moet vaar, word dit met groen en rooi boeie gemerk. Dan “grin” jy – "green right in". Dit beteken dat die groen boei aan jou regterkant moet wees wanneer jy by die hawe ingaan en die teenoorgestelde as jy by die hawe uitgaan. Moet net nie deurmekaar raak nie! So maak ons ook, toe ons deur die smal kanaal op pad na Çamlik Köyü, 9.5 myl, toe vaar.

Groen boei
Rooi boei met Alibey in die agtergrond

Daar is ’n klomp jellievisse in die water wat saam met ons vaar. Ons dink dit is Rhizostoma pulmo, meer bekend as die vaatjie jellievis of asblikdeksel jellievis. Sommige is meer blou-pers as die ander wat wit-pers is. Hulle is effens giftig, maar sy byt-steek is nie erg pynlik of gevaarlik nie.

Rhizostoma pulmo
Rhizostoma pulmo

Ons kom by ons baai en vaar verby Oom Olifant en rus vir my siel daal op my neer. Hier gooi ons anker op ’n modder bodem met uitstekende houkrag en Gus waai baie liggies. Die plasties kom in my na vore, want daar is ’n pad met motors wat verbyry en ek geniet die beskawing vreeslik. Die dreunings pla my nie eers nie. Inteendeel.

Oom Olifant

Ons en al die jellievisse geniet die rustigheid van die baai.