Sunday, June 18, 2017

Ayvalik.


18 Junie 2017. Sondag.

Ayvalik Marina

Ons wou vandag na die antieke stad van Pergamon toe gaan. Maar helaas, dis bewolk en hulle voorspel reën. So ons bly maar by die huis. Ons wag dat dit lyk of dit effens ooptrek en toe gaan ons dorp toe. Zafer het gesê ons moet by Paşa gaan eet, want hulle olive oil cooking is uit die boonste rakke. Dis mos Turkse familie kos.

Ons stap al die pad dorp toe, terwyl die lae wolke dreigend in die lug hang. Dit kan enige tyd reën. Ons kry die Paşa restaurant, maar hy is toe op ’n Sondag. Dooiemansdeur. Net soos baie ander winkels en restaurante. Ons dwaal rond op soek na nog olyfolie kookkuns. Maar puur verniet. Die meeste is toe. 

Vars groente

Ons vind weer vir Violetta, die pers winkel waar ek verlede jaar vir my vriendin oorkrabbetjies gekoop het, maar sy is ook toe. Dis amper soos Laurika Rauch se liedjie “Alles is blou …”, maar dis nou die geval van “Alles is toe …”

Violetta se winkel
Kleurvolle kas
Plaveisel
Tweedehandse winkel

Die honger knaag en die een restaurant se kos sal eers 13:00 gaar wees en dis nou maar eers 11:30. Dis te lank. Dit kom daarvan as mens te vroeg dorp toe gaan. In hierdie geweste begin die lewe baie later as by ons in Suid-Afrika. Ons eet toe maar by so ’n kafee ding aan die gatkant van Ayvalik. Ons was nie lus vir duur betaal nie. En nogal lekker, die kos. Nie wow nie, maar lekker. 

Restaurant

Ons stap terug en koop vir oulaas voorrade voordat ons die land gaan verlaat. Die goed is goedkoper hier in Turkye as wat dit in Griekeland is. Môre gaan Archie die langsame proses van uitklaar doen en as dit nie te laat is nie, gaan ons Lesvos, Griekeland toe. As dit te lank neem, gaan ons maar weer by ’n baai anker en dan Dinsdag die pad na Griekeland toe vat.

Ons eet heerlike vis wat ek self gaarmaak om ons toer in Turkye mee af te sluit.

1 comment:

  1. Thanks for the flag explanation - obviously does not apply to our little dinghy! What an experience watching Gus, watching buoys, watching lighthouses, etc. Goodbye Turkey - hallo Greece! Safe sailing!

    ReplyDelete