Sunday, June 18, 2017

Ayvalik. Ou vriende.


17 Junie 2017. Saterdag.

Turkye se seilroete
Çamlik Köyü tot Ayvalik Marina

Vandag is ons laaste Turkse been vir die jaar. Ons gaan Ayvalik Marina toe, 3 myl, waar ons uit die land moet klok. Dis met heimwee wat ons die laaste stuk na die marina toe vaar. Ons is baie lief vir Turkye.

Ons kry ons baie duur tuiste in die marina en ons is hier vir twee dae. Dis nou wasgoed was en boot skrop en stofsuig, want ons het nou landkrag wat ons kan gebruik. Ook ’n lang, baie-water stort, waar jy alles skoon kan skrop en afspoel en sommer net vir die lekker daarvan onder die stort staan met die water wat teen jou afstroom. Lekker!

Toe maak ons reg om saam met Zafer en Nuran Türkmen, ons Turkse vriende, te kuier. Hulle bly op Bademli, maar kom vandag vir ons op Maja kuier. Dis heerlik om hulle weer te sien. En met ons beperkte kommunikasie, gesels ons lekker. Dis halwe sinne en handgebare en soms lag ons maar net. Ons drink sap en eet ietsie lig.

Nuran en Archie
Ek en Zafer
Nuran en ek
Zafer en die meisies
Archie en die meisies

Toe neem Zafer ons in sy mobiele huis na Alibey vir aandete. Ons stap rond en Alibey het atmosfeer soos min. Dis soos in Griekeland. Almal loop rond en geniet die pragtige dorpie.

Mobiele huis





Ons gaan eet by ’n familie restaurant, waar hulle “olive oil” kos voorsit

. Dit is wat hulle tuisgemaakte tradisionele Turkse kos noem. Ons eet heerlik en die kos is uiters smaaklik.

By die Adamis Restaurant
Nuran en ek by Adamis se spyskaart

Na ete stap ons in die dorp rond. Nuran soek hoede vir Zafer se suster en koop sommer twee. In Turkye is dit nou Ramazan. Die Moslems mag nie in die dag eet nie en as die son onder gaan, skiet hulle die kanon wat die einde van die dag se vas aankondig. Dan mag hulle eet. 

Alibey se kaai
Turkse bruidspaar

So loop ons te lekker verby ’n besige restaurant toe die kanon afgaan. En ek? Ek gee een van my berugte gille en al die mense rondom my skrik. Toe hulle klaar geskrik het en ek lig my hand op om apologie aan te teken, bars almal uit van die lag. Ons vier lag omtrent die hardste van almal. Wel, ek is bly ek kon bietjie vermaak verskaf!

Baie later klim ons weer in die mobiele huis en ry terug na Ayvalik en hulle laai ons by die marina af. Wat ’n heerlike genotvolle aand het ons saam met baie spesiale vriende deurgebring. Dankie, julle!






















No comments:

Post a Comment