Monday, May 29, 2017

Keçi Bükü. Hisarönü Körfezi.


28 Mei 2017. Sondag.

Selimiye tot Keçi Bükü

Vandag is dit een van ons gunsteling plekke in hierdie golf, Keçi Bükü, 7 myl. Dis een van daai baaie wat “all round shelter” het. Ons vaar al die pad, want van wind is daar geen sprake nie.

Chrismari aan die werk


Keçi Bükü is een van die mooiste plekke in die golf. Daar is digte dennebome aan die eenkant en groot bome aan die ander kant van die baai. Daar is ’n baie ou fort op die eiland wat omtrent in die middel van die baai lê.

Ons gooi anker en ons is tuis. Chrismari is op haar pos met die koue drankies wat sy moet skink. En ons sit op die dek en teug behaaglik daaraan. Ai, wat ’n voorreg!

"Village bread"

Toe is dit tyd vir die verkenningstog. Ons al drie klim in Dinkie en daar trek ons. Eerste aan die beurt is die koppie met die fort. Die ou mure staan bleekwit in die son, wat besig is om agter die wolke te verdwyn. Archie en Chrismari klim tot bo. Hulle is mos soos ribbokke. Ek gaan sit op ’n klip en luister of ek nie weer die sirenes hoor nie. Maar helaas, geen engelesang is dié jaar vir my beskore nie.

Archie en Chrismari het ’n mooi uitsig van bo af en ondersoek ’n ou watertenk. Hulle kom af en ons vat die pad na die land.

Muur
Uitsig
"Kyk, daar's Maja"
Sandbank en watertenk
Op pad af

Dié ding om hier te doen, is om op die sandbank te loop. Dit strek tot diep in die baai. Busvragte vol toeriste kom hierheen om dié loop te loop. En ons loop saam. Ek het my swemskoene aan, maar Archie en Chrismari se stadsvoetjies kry maar seer. Maar loop loop ons.

Sandbank lopers
Op die sandbank
Nog steeds op die sandbank
Ek en Archie

Na ons besoek aan die klein dorpie, klim ons weer in Dinkie. Archie klim vreeslik eienaardig in en die skare op die land hou hom dop. Daar is selfs diegene wat die klimmery op film vaslê. Ek dink hulle wag net vir die invalslag, wat gelukkig nie gebeur nie.

Ons geniet ons kuier by dié klein juweel baie en Chrismari merk op dat dit groot pret is. Sy sê dit in Engels, want ek dink sy wil vreeslik graag Engels wees.

Ek lê op die dek en word meegevoer deur die visuele veranderings rondom my.



Sunday, May 28, 2017

Selimiye. Hisarönü Körfezi.


27 Mei 2017. Saterdag.

Bozburun tot Selimiye

Weereens is die water ’n bad. Dit roer nie, dit lê net. Ons vertrek na Selimiye, 15.9 myl, in die volgende golf, die Hisarönü Körfezi.

Bozburun badwater

Die eiland wat so eensaam in die see lê, weerkaat tot ’n dofbeeld van homself. Een bokant die water en die ander een onderkant die water. Eenders en tog so anders.

Dofbeeld

Hulle het reën voorspel en dit was nie verkeerd nie. Kort voor lank val die druppels na benede. Ons ou drietjies sit maar met ons reënjasse en Chrismari soek so elke nou en dan die snoesigheid van Maja se saloon op.

Die reën hou darem nie vir lank aan nie en toe is ons daar. Ons vaar eers rondom die geskikte restaurant te soek waar ons wil vasmeer en besluit toe op Aurora. Chrismari laat die fenders sak en ek en Archie maak reg vir die vasmeer. 

Gepantser teen die reën

Archie tru, ek gryp die snoettou, maar hemel, is dié tou swaar. Ek trek en later kom help Archie. Toe is ek terug helm toe en ek moet tru. Archie is nog voor besig. Ek tru en vang toue en gaan soos ’n mal ding daar agter te kere. Toe ons uiteindelik vas is, het ek asemnood.

Selimiye

Ons gaan verken die dorp en stap op na die kasteel. Dit dateer uit die Middeleeue. Dis ’n vêr pad en soms moeilik vir my om die klippe te klim, maar eindelik is die kasteel daar. Archie en Chrismari klim tot heel bo en ek wag op hulle op ’n klip. Dis ’n mooi uitsig op die baai hier van bo af.

Blomme-kinders
Uitsig van kasteel
Kasteel
'n Blommetjie langs die pad (Deon ons soek sy naam!)

Ons pak die terugtog aan en toe is ons natgesweet en moeg. Na ’n bietjie nat oor ons lippe, gaan stort ons en maak gereed vir die aand se uiteet. Chrismari lyk te pragtig in haar nuwe rok en fladder soos pragtige vlinders na Aurora Restaurant.

Nuwe rok
Aurora restaurant

Die kos is ’n feesmaal. Ons bestel twee mezes. En vir hoofgereg bestel ek lamskenkel en die ander twee ’n visbredie. Ons al drie stem saam, dis nog van die lekkerste wat ons al hierdie jaar in Turkye geëet het. Dis net jammer dat hulle 20 lire vasmeerfooi vra. Dis die eerste keer in Turkye waar ons by ’n restaurant kaai vir vasmeer moet betaal. Gewoonlik werk dit so – as jy daar vasmeer, moet jy by hul restaurant eet en vasmeer is gratis!?

Lamskenkel
Visbredie

Bozburun. Yesilova Körfezi.




26 Mei 2017. Vrydag.

Söğüt tot Bozburun

Na ’n nag van bietjie vlak water en anker intrek om in dieper water te kom, is die nuwe oggend vars op ons voorstoep. Blinkoog en blinkglad. Dis weer dieselle ou storie. Anker op en weg is ons na Bozburun, 6 myl, net ’n hanetree vêrder.

Söğüt - Vroegoggend

Die omgewing is baie mooi. Chrismari stamp haar kop en tone ’n paar keer. Ek weet nie of sy skelmpies ’n matrooswoordjie gee nie, maar elke keer na die stampery, lag sy vreeslik lekker vir haarself.

Ons seil vir ’n entjie, maar Gus werk nie saam nie en ons laat sak dit maar weer. En so, al varende, kom ons by Bozburun aan. Ons gaan hawe toe en hoop vir ’n plek. Die haweman blaas die fluitjie en wys ’n plek aan. Archie tru, ek gooi die anker, Chrismari help met die agtertoue en vas is ons.


Bozburun

Voorrade koop is eerste prioriteit en ons kom met swaar gelaaide rugsakke by Maja aan en alles moet ’n bêreplek kry. Toe gaan ek en Chrismari dorp om inkopies te doen. Ek koop vir my ’n mooi armband en Chrismari koop ’n mooi rok. Die kaptein het mos hoeka vir Chrismari aangespreek omdat sy nie ’n rok het nie. Nou ja, as die kaptein praat, moet jy luister.

Ou rok

Ons bring die middag rustig deur. Party slaap, ander lees. Bozburun is ’n pragtige dorpie sonder fieterjasies en pretensie. Veral Archie hou baie van die plekkie. Ons is darem ook nie net lui nie en ek en Chrismari besluit om ons vuil wasgoed in die openbaar te was. Dis net emmers en skuimbolle en shwie-shwie, skoon is die wasgoed. Toe hang ons dit op .En ons kyk trots na ons skoon klere wat op die draad van ons geliefde Maja wapper.

Wasvrouens

Maak "snubber" reg

Die aand is dit Chrismari se beurt om kos te maak en sy tower vir ons ’n heerlike hoenderdis op. Ons smul te heerlik.

Friday, May 26, 2017

Söğüt. Yesilova Korfezi.

25 Meı 2017. Donderdag.

Catal Bükü tot Söğüt

Die oggend is pragtig. So, ek dink dis die regte tyd om ’n fotosessie te hê. Ons drapeer vir Chrismari voor teen die genoa se paal en maak haar glimlag en siedaar. Te pragtig. Ek en die kaptein glimlag ook so ewe vir die kamera, want dis nie elke dag wat ons saam gekiek kan word nie. 

Chrismari
Chrismari
Ek en Archie
Die donkie, Sarel
Haal wasgoed af

Toe vertrek ons na Söğüt, 15.2 myl. Daar is net ’n ligte briesie wat waai en die kaptein dink nie eers aan seile span nie. Ons vaar naby Symi eiland verby en ek dink aan my suster, Elize, wat so lief vir dié eiland is. Maja prrr ritmies voort. Vorentoe, altyd vorentoe.

Ons vaar by die Yesilova Korfezi in en doer voor is Söğüt. Ons wil kyk of daar nie ankerplek is nie. Die baai is meestal diep en ons gee amper moed op. Die kaptein volhard in die soeke na ’n heenkome en jouwaarlik, hy vind ’n geskikte plek en ek gooi die anker op ’n mooi stuk sand en hy byt behoorlik. “Home is where the anchor drops”.

Die water lyk heerlik en sommige van ons kry haar eerste swem van die toer in. Dis maar koud, maar toe ons eers in is, swem ons heerlik.

Meerminne

Dis ’n luilekker middag op Maja waar ons lees en gesels en later, toe die skemer daal,wyn ons drink en geniet aandete. Dis windstil in die baai. Soms sug Gus net liggies. Ek vertel vir Chrismari al die grappies wat ek ken en haar skaterlag vul die baai.

Wednesday, May 24, 2017

Catal Bükü.



24 Mei 2017. Woensdag.

Çiftlik tot Catal Bükü

Behalwe van Chrismari, wat ’n nagmerrie gehad het, het die res van ons heerlik geslaap. Die nagmerrie hou ook nie daar op nie. Toe sy haar wasgoed afhaal, val haar ondergoedjie in die see. Archie is skoon ontstig en wil dit uit die see uitvis, maar hy kry nie Fanie se hengelboks nie. Die Turkse buurman vang toe die ondergoedjie met sy handlyn. Nou hoef Chrismari nie meer kaalstert te loop nie. Haar pantie is gered.

Pantie visserman

Ons vertrek na Catal Bükü. Die boek sê dis ’n fjord tipe baai met kristalhelder water. Dit is 14 myl tot daar. Ons seil nie, want Gus waai liggies van voor.

Daar is geen skets of beskrywing van die plek nie en ons vaar maar versigtig in. Daar is net plek vir een jag in die baai en gelukkig is daar geen jag daar nie. Die baai is ons s’n. Toue word gereed gekry, ketting en als. Dis weer ’n anker met ’n landlyn. Alles verloop baie glad. Archie swem land toe, maar die tou is te kort en Archie se ek moet nog anker gaan uitlaat. Ek was besig om te tru, toe los ek die helm, hardloop anker toe, laat anker uit, hardloop agtertoe om weer te tru, want nou trek Maja vir Archie van die landaf die see-in. Toe tru ek met mening, die anker trek styf en ek weet nie wat alles nog nie, maar toe is ons vas en ek uitasem.

Maak gereed

Maar die mooigeid van die baai vergoed daarvoor. Archie is toe so koud van al die geswem, dat hy nie ’n koue drankie wil hê nie, maar warm koffie. Wat die kaptein toe ook kry.

Ons gaan land toe en stap ’n ent en die baai lyk pragtig. Maja is stewig vasgemaak, sy kan nêrens gaan nie. Die water is uitlokkend blou en kristalhelder. Ai, maar dis mooi hier in ons eie baai!

Land toe
Bult op
Catal Bükü
Chrismari
Ek
Windverwaaid