Sunday, May 28, 2017

Selimiye. Hisarönü Körfezi.


27 Mei 2017. Saterdag.

Bozburun tot Selimiye

Weereens is die water ’n bad. Dit roer nie, dit lê net. Ons vertrek na Selimiye, 15.9 myl, in die volgende golf, die Hisarönü Körfezi.

Bozburun badwater

Die eiland wat so eensaam in die see lê, weerkaat tot ’n dofbeeld van homself. Een bokant die water en die ander een onderkant die water. Eenders en tog so anders.

Dofbeeld

Hulle het reën voorspel en dit was nie verkeerd nie. Kort voor lank val die druppels na benede. Ons ou drietjies sit maar met ons reënjasse en Chrismari soek so elke nou en dan die snoesigheid van Maja se saloon op.

Die reën hou darem nie vir lank aan nie en toe is ons daar. Ons vaar eers rondom die geskikte restaurant te soek waar ons wil vasmeer en besluit toe op Aurora. Chrismari laat die fenders sak en ek en Archie maak reg vir die vasmeer. 

Gepantser teen die reën

Archie tru, ek gryp die snoettou, maar hemel, is dié tou swaar. Ek trek en later kom help Archie. Toe is ek terug helm toe en ek moet tru. Archie is nog voor besig. Ek tru en vang toue en gaan soos ’n mal ding daar agter te kere. Toe ons uiteindelik vas is, het ek asemnood.

Selimiye

Ons gaan verken die dorp en stap op na die kasteel. Dit dateer uit die Middeleeue. Dis ’n vêr pad en soms moeilik vir my om die klippe te klim, maar eindelik is die kasteel daar. Archie en Chrismari klim tot heel bo en ek wag op hulle op ’n klip. Dis ’n mooi uitsig op die baai hier van bo af.

Blomme-kinders
Uitsig van kasteel
Kasteel
'n Blommetjie langs die pad (Deon ons soek sy naam!)

Ons pak die terugtog aan en toe is ons natgesweet en moeg. Na ’n bietjie nat oor ons lippe, gaan stort ons en maak gereed vir die aand se uiteet. Chrismari lyk te pragtig in haar nuwe rok en fladder soos pragtige vlinders na Aurora Restaurant.

Nuwe rok
Aurora restaurant

Die kos is ’n feesmaal. Ons bestel twee mezes. En vir hoofgereg bestel ek lamskenkel en die ander twee ’n visbredie. Ons al drie stem saam, dis nog van die lekkerste wat ons al hierdie jaar in Turkye geëet het. Dis net jammer dat hulle 20 lire vasmeerfooi vra. Dis die eerste keer in Turkye waar ons by ’n restaurant kaai vir vasmeer moet betaal. Gewoonlik werk dit so – as jy daar vasmeer, moet jy by hul restaurant eet en vasmeer is gratis!?

Lamskenkel
Visbredie

No comments:

Post a Comment