Sunday, May 28, 2017

Bozburun. Yesilova Körfezi.




26 Mei 2017. Vrydag.

Söğüt tot Bozburun

Na ’n nag van bietjie vlak water en anker intrek om in dieper water te kom, is die nuwe oggend vars op ons voorstoep. Blinkoog en blinkglad. Dis weer dieselle ou storie. Anker op en weg is ons na Bozburun, 6 myl, net ’n hanetree vêrder.

Söğüt - Vroegoggend

Die omgewing is baie mooi. Chrismari stamp haar kop en tone ’n paar keer. Ek weet nie of sy skelmpies ’n matrooswoordjie gee nie, maar elke keer na die stampery, lag sy vreeslik lekker vir haarself.

Ons seil vir ’n entjie, maar Gus werk nie saam nie en ons laat sak dit maar weer. En so, al varende, kom ons by Bozburun aan. Ons gaan hawe toe en hoop vir ’n plek. Die haweman blaas die fluitjie en wys ’n plek aan. Archie tru, ek gooi die anker, Chrismari help met die agtertoue en vas is ons.


Bozburun

Voorrade koop is eerste prioriteit en ons kom met swaar gelaaide rugsakke by Maja aan en alles moet ’n bêreplek kry. Toe gaan ek en Chrismari dorp om inkopies te doen. Ek koop vir my ’n mooi armband en Chrismari koop ’n mooi rok. Die kaptein het mos hoeka vir Chrismari aangespreek omdat sy nie ’n rok het nie. Nou ja, as die kaptein praat, moet jy luister.

Ou rok

Ons bring die middag rustig deur. Party slaap, ander lees. Bozburun is ’n pragtige dorpie sonder fieterjasies en pretensie. Veral Archie hou baie van die plekkie. Ons is darem ook nie net lui nie en ek en Chrismari besluit om ons vuil wasgoed in die openbaar te was. Dis net emmers en skuimbolle en shwie-shwie, skoon is die wasgoed. Toe hang ons dit op .En ons kyk trots na ons skoon klere wat op die draad van ons geliefde Maja wapper.

Wasvrouens

Maak "snubber" reg

Die aand is dit Chrismari se beurt om kos te maak en sy tower vir ons ’n heerlike hoenderdis op. Ons smul te heerlik.

No comments:

Post a Comment