Wednesday, May 24, 2017

Catal Bükü.



24 Mei 2017. Woensdag.

Çiftlik tot Catal Bükü

Behalwe van Chrismari, wat ’n nagmerrie gehad het, het die res van ons heerlik geslaap. Die nagmerrie hou ook nie daar op nie. Toe sy haar wasgoed afhaal, val haar ondergoedjie in die see. Archie is skoon ontstig en wil dit uit die see uitvis, maar hy kry nie Fanie se hengelboks nie. Die Turkse buurman vang toe die ondergoedjie met sy handlyn. Nou hoef Chrismari nie meer kaalstert te loop nie. Haar pantie is gered.

Pantie visserman

Ons vertrek na Catal Bükü. Die boek sê dis ’n fjord tipe baai met kristalhelder water. Dit is 14 myl tot daar. Ons seil nie, want Gus waai liggies van voor.

Daar is geen skets of beskrywing van die plek nie en ons vaar maar versigtig in. Daar is net plek vir een jag in die baai en gelukkig is daar geen jag daar nie. Die baai is ons s’n. Toue word gereed gekry, ketting en als. Dis weer ’n anker met ’n landlyn. Alles verloop baie glad. Archie swem land toe, maar die tou is te kort en Archie se ek moet nog anker gaan uitlaat. Ek was besig om te tru, toe los ek die helm, hardloop anker toe, laat anker uit, hardloop agtertoe om weer te tru, want nou trek Maja vir Archie van die landaf die see-in. Toe tru ek met mening, die anker trek styf en ek weet nie wat alles nog nie, maar toe is ons vas en ek uitasem.

Maak gereed

Maar die mooigeid van die baai vergoed daarvoor. Archie is toe so koud van al die geswem, dat hy nie ’n koue drankie wil hê nie, maar warm koffie. Wat die kaptein toe ook kry.

Ons gaan land toe en stap ’n ent en die baai lyk pragtig. Maja is stewig vasgemaak, sy kan nêrens gaan nie. Die water is uitlokkend blou en kristalhelder. Ai, maar dis mooi hier in ons eie baai!

Land toe
Bult op
Catal Bükü
Chrismari
Ek
Windverwaaid

No comments:

Post a Comment