Saturday, September 17, 2016

Antalya.



15 September 2016. Donderdag.

Vandag besoek ons Antalya. Ons klim die bus en daar trek ons en ry tussen baie mooi berge.

Antalya was gestig deur Koning Attalus II in 158 v.C. Hy het net vir ’n kort tyd regeer en die stad is oorgeneem deur seerowers. Daarna het die Romeine die stad regeer en dit het ’n belangrike hawe geword.

Die Selçuk Turke het Antalya in 1207 oorgeneem. Die “Fluted Minaret” wat langs die hawe geleë is, is ’n perfekte voorbeeld van die Selçuk argitektuur. 

Archie met "fluted minaret" in agtergrond
Ou Hawe
Ou Hawe

Die Ottomans het in 1387 die stad oorgeneem. Na die Eerste Wêreldoorlog, het Italië dit oorgeneem, maar in 1921 het Atatürk se weermag die stad oorgeneem en dit het die hoofstad van die Antalya Provinsie geword.

Vir die meeste besoekers is dit heerlik om net in die besige strate rond te dwaal en te verdwaal. Die oustad se geboue is meestal gerestoureer en goeie voorbeelde van Griekse en Ottoman argitektuur.

Hawe met ou stad se muur
Sambreel straat
Groot bonsai

Ek en Archie dwaal in die Kaleiçi (ou dorp) rond en geniet die gesellige atmosfeer wat die oustad vir ons bied. Baie gulets en ekskursie bote neem agies op daguitstappies om die mooi Antalya se kus te besoek.

Ekskursie boot
Unieke boumateriaal
Kesik Minare ("Truncated Minaret")
"Hadrian's Gate"
Hıdırlık Kalesi (Ligtoring)
Romeinse tempel

Ons vaar met die seebus terug na Kemer en word beloon deur die mooiste sonsondergang wat ek deur die seebus se vensters verewig. Wat ’n heerlike dag.

Seebus
Sonsondergang

Kemer.



14 September 2016. Woensdag.

2016 roete
Phaselis tot Kemer
 
Die kaptein verras my met pannekoek vir die laaste seil oggend. Dit smaak vorentoe.

Kaptein Pannekoek
 
Vandag is ons laaste dag op see. Ons is op pad na Kemer, 8.2 myl. Ons verlaat die rustigheid van die baai. Die antieke stad sluimer tussen die bome, die gulets is nog lank nie in sig nie.

Dis nou net vir laaste anker van die seisoen optrek en weg is ons. Die wolke hang swaar oor die berg en doer vêr in die oop see lyk dit of ’n lekker reënbui daar uitsak. 

Eerste reënstorm
 
Die kaptein is baie hartseer, want dis sy laaste dag op see en hy kan nie eers seil nie. Gus waai liggies van voor en Maja se enjin prrr geduldig na ons laaste bestemming. 

Seerowerskip en wit kranse
 
Sommer gou lê die marina voor ons en ons roep oor kanaal 73. Ons moet eers die swartwater uitpomp. Ons meer langs die dieselkaai vas en ’n marina skare van vier heet ons welkom. Name word uitgeruil en blad word geskut. Ons voel toe sommer baie welkom.

Daar's die marina
 
Een van die manne kom sommer aan boord om met die vasmeer te help. Ek is totaal oorbodig, want die man doen alles. Sowat van goeie diens! Die beste wat ons nog gehad het.

Toe is alles klaar. Ons is by Maja se oorwinter huis. Dit voel snaaks. So asof nog iets moet gebeur, of nog ’n baai besoek moes word, nog ’n anker, nog ’n kaai. Maar hier is ons in Kemer, tussen die majestueuse berge. 

Kemer Marina
Marina
 
Hier gaan ons vir ’n week bly om alles reg te kry vir Maja se winterslaap.

Friday, September 16, 2016

Phaselis. Antieke stad.



13 September 2016. Dinsdag.

Vandag besoek ons die antieke stad van Phaselis. Die koloniste van Rhodes het dit vroeg in 7de eeu v.C. tot stand gebring. Die gebied se rykdom het gekom van die verskeping van hout, roosolie en parfuum. Die stad is in 333 v.C. deur Alexander die Grote oorgeneem, maar daarna was dit semi-onafhanklik onder Roomse jurisdiksie.

Die stad lê in die skadu’s van dennebome en is omring deur drie klein perfekte baaie. Die fondasies van die gesonke hawe is nog duidelik te sien.

Gesonke hawe
 
Ons stap in deur Hadrian’s Gate. Die agora is geleë naby die suidelike hawe en die straat wat van die noordelike hawe kom, is pragtig. Daar is ook uitgebreide baddens en die oorblyfsels van die stad se akwaduk.

Hadrian's Gate
Ou ingang
Die pad na die hawe
 
Die teater, wat hoog teen die kant van ’n koppie lê, is nog in ’n goeie toestand. Daarvandaan kan jy op die pragtige hoë berge wat trots in die vêrte staan, uitkyk.

Teater met die Tahtalı berg in die agtergrond
 
Ons sien die gesonke breekwater baie duidelik en is vreeslik bly ons het nie daaroor gevaar nie. Maja lê vreedsaam in die baai vir ons en wag.

Marieks by die gesonke breekwater
Suiderlike hawe

Phaselis.



12 September 2016. Maandag.

Cineviz tot Phaselis

Na ’n heerlike nagrus trek ons anker op. Soos gewoonlik het hy goed gebyt. Vandag gaan ons na Phaselis, 9.9 myl.

Weereens kyk en waardeer ek en Archie die pragtige kuslyn. Ek sit agter die helm en voel ’n effense ruk aan die stuurwiel. Die spoed verminder en ek sê vir Archie iets is fout met die enjin. Ons word al twee koud en ek sê vir Archie miskien is dit iets in die propeller.

Dit beteken ’n vroeë swem vir die kaptein en jouwaarlik! ’n Uisak is rondom die propeller gedraai. Ons albei slaak ’n sug van verligting. 

Archie en die sondebok

Ons kom by Phaselis en kyk uit waar is die gesonke breekwater en die ander onderwater rotse. Ons wil nie hê onse Maja moet op die rotse loop nie! Archie omseil dit alles en ons soek ankerplek en gooi.

Phaselis Baai met gesonke breekwater
Maja op anker


Hier is ’n antieke stad en al wat ’n gulet stop hier. Hulle kom ingevaar met luide musiek en vrolike gesigte wat reg staan om in die water te spring. Snaaks, bitter min mense gaan kyk na die antieke stad. Hulle swem net. Dan eet hulle middagete en weg is hulle na die volgende strand. 

'n Gulet is n tradisionele Turkse hout seilboot. Deesdae seil hulle nie eintlik nie. Jy kry hulle in verskillende groottes. Die gulets wat hierheen kom, is besonder groot en oordadig versier.  

Phaselis Baai met gulet
Flambojante gulets

Ek en Archie sit langbeen op die dek en kyk na die fliek wat voor ons afspeel. Later vaar hulle een vir een weg en dan is ons weer amper alleen in die baai. Dis net ons, die maan en die dowwe reuse wat oor ons waghou.