Friday, September 16, 2016

Phaselis.



12 September 2016. Maandag.

Cineviz tot Phaselis

Na ’n heerlike nagrus trek ons anker op. Soos gewoonlik het hy goed gebyt. Vandag gaan ons na Phaselis, 9.9 myl.

Weereens kyk en waardeer ek en Archie die pragtige kuslyn. Ek sit agter die helm en voel ’n effense ruk aan die stuurwiel. Die spoed verminder en ek sê vir Archie iets is fout met die enjin. Ons word al twee koud en ek sê vir Archie miskien is dit iets in die propeller.

Dit beteken ’n vroeë swem vir die kaptein en jouwaarlik! ’n Uisak is rondom die propeller gedraai. Ons albei slaak ’n sug van verligting. 

Archie en die sondebok

Ons kom by Phaselis en kyk uit waar is die gesonke breekwater en die ander onderwater rotse. Ons wil nie hê onse Maja moet op die rotse loop nie! Archie omseil dit alles en ons soek ankerplek en gooi.

Phaselis Baai met gesonke breekwater
Maja op anker


Hier is ’n antieke stad en al wat ’n gulet stop hier. Hulle kom ingevaar met luide musiek en vrolike gesigte wat reg staan om in die water te spring. Snaaks, bitter min mense gaan kyk na die antieke stad. Hulle swem net. Dan eet hulle middagete en weg is hulle na die volgende strand. 

'n Gulet is n tradisionele Turkse hout seilboot. Deesdae seil hulle nie eintlik nie. Jy kry hulle in verskillende groottes. Die gulets wat hierheen kom, is besonder groot en oordadig versier.  

Phaselis Baai met gulet
Flambojante gulets

Ek en Archie sit langbeen op die dek en kyk na die fliek wat voor ons afspeel. Later vaar hulle een vir een weg en dan is ons weer amper alleen in die baai. Dis net ons, die maan en die dowwe reuse wat oor ons waghou.

No comments:

Post a Comment