Saturday, August 20, 2016

Bozburun.



20 Augustus 2016. Saterdag. 

Keçi Bükü tot Bozburun

Rimpelloos het ons gaan slaap en rimpelloos staan ons op. Vandag is dit Bozburun se omgewing. Daar is ’n klomp ankerplekke en ons sal maar besluit waar om te anker as ons daar kom.

Die omgewing is besaai met hoë berge wat minder en meer mistig in die vêrte pryk. Bote kom en gaan. Dis gewilde seil gebied hierdie. Gus waai net liggies en die son skyn helder. ’n Paar wolke hang in die lug, wat later soos mis voor die son verdwyn.

Oggendskoot - Vêrte

Ons kom by die vlak deel tussen die eilande waar ons wil anker. Dis oorvol en geen plek vir ons nie. Ons vaar om die hoek en die baai is te diep. Ons vaar stry-stry verder en na ’n erge stry gooi ons anker in Bozburun, 36°41.247 N, 28°02.136 O, 19.4 myl.

Dis ’n mooi baai met die dorp wat daar anderkant met ’n maswoud vir ons glimlag. Ons is te vêr van die dorp af, so ons gaan stap maar op die droë land. Dis altyd vir ons vreeslik mooi om af te kyk en te sien hoe vreedsaam die bote in die baai lê, sierlik en trots, sonder ’n kwelling.

Maswoud
Bosburun baai

Binneland
Borrel van windlose geluk
Kaptein
Geroeste skeepslee
Laatmiddag berge

Archie swem amper saam met ’n skilpad. Hy probeer hom inswem, maar ek dink skilpaaie kan vinniger swem as wat hulle kan loop. Hy verdwyn onder die water (ek bedoel nou die skilpad) en weg is hy.


Dis nog ’n stil rimpellose nag, in my borrel van windlose geluk.

Keçi Büyü



19 Augustus 2016. Vrydag. 

Kuyulu Bükü tot Keçi Bükü
 
Ons is soos vlinders. Ons dartel van die een bükü na die ander. Die een so mooi soos die ander. En vandag is dit Keci Bükü, 36°45.532 N, 28°07.560 O, 4 myl, net aan die oorkant van die baai.

Ons gaan eers na Marti Marina om diesel in te gooi en ons swart water te laat uitpomp. Toe gaan ons na die baai waar ons wil anker. Dis hier waar ek verlede jaar die sirenes gehoor het. Ons kry ’n geskikte plek en gooi sonder sukkel of stry. Dit byt pragtig en ons is tuis. 

Keçi Baai met sy beroemde sandbank
 
Die pragtige baai is bekend vir die sandbank wat die baai in twee deel. Toeriste van heinde en verre kom om op die sandbank te loop. Dan loop jy tot vêr in die baai in enkeldiepte water. Heeldag loop die toeriste heen en weer.

Sandbank lopers
"Star Walk"
 
Wel, as dit is wat mens hier moet doen, wie is ons om te stry! So, ons saal vir Dinkie op met haar motor en daar trek ons. Ons loop saam met die res op die sandbank, soos ware toeriste.

Archie
Ekke
 
Die aand is die baai soos ’n bad water. Daar is nie ’n windrimpel nie. Die aand glim in die glans van die maan. Die ligte weerkaats in die water.

Weerkaatsing
 
Ek leef in ’n borrel van windlose geluk.


Friday, August 19, 2016

Kuyulu Bükü.



18 Augustus 2016. Donderdag.

Kuruca Bükü tot Kuyulu Bükü
 
’n Bükü is die Turkse woord vir ’n baai. En ’n Küyü is ’n dorpie. Vandag is dit na die volgende baai. Hier in Turkye is daar nie baie dorpskaaie nie, jy anker.

Daai anker klou aan die modder vas. Hy het behoorlik gebyt. Op is die anker en weg is ons na Kuyulu Bükü, 36°47.249 N, 28°04.551 O, 11 myl.

Ligspel
 
Die water is turkoois, die son is warm en Gus lê. Wat meer wil jy hê. Maja prrr voort en sommer gou is ons by die baai. Ons gooi anker en hier is ons. “Home is where the anchor drops.”

Kuyulu Baai
 
Wat kan ek sê, dis net eenvoudig mooi hier. Ons gaan aan land en van bo af is die blou nog blouer, die mooi nog mooier. 

Kuyulu panorama
Turkse berge
Maja

Die maan steek sy kop skaam agter die berge uit en verander die landskap na 'n magiese mooi volmaan aand.

Volmaan





Kuruca Küyü.


17Augustus 2016. Woensdag. 

Datça tot Kuraca Bükü


Ons yskas is weer vol. Ons het groente, vrugte en lamsvleis. Heerlike geelperskes, vars vye, swart druiwe en piesangs. My mond water al klaar. Danksy Datça se supermarkte. Ons trek anker op en laat spaander na Kuruca Küyü, 36°45.324 N, 27°53.804 O, 11.9 myl.

Ons sien weer vir Symi, wat sommer naby is. Ons kan vandag selfs die dorpie sien. Ai, waar is Elize nou!

Oral is seiljagte en gullets op die water. Dis heerlik warm en Gus waai nie. Dis nou my tipe weer. Die berge staan trots regop al langs die kus. Almal met hulle voete in die see. Turkye is pragtig. 


Op pad

Ons vaar die baai binne en dit is vol jagte. Is daar ooit plek vir ons? Ons vaar nader en kry ’n sandkol en ons gooi anker. En hy byt behoorlik. Sommige jagte is naby mekaar, want hierdie is ’n gewilde vakansieplek. 

Kuruca Baai

Ons roei met Dinkie land toe en gaan stap in die hitte rond. Oral is Turke wat piekniek hou, in die see swem en net luilekker langs die see sit. Hierdie mense is lief vir die see. Regte watermense.

Mooi wandelpad
Watermense
Ankerplek
Kuruca Baai

Terug by Maja, verkyk ons aan die prag van die kleurespel van dag wat stelselmatig  aand word. Met ’n bonus – dis volmaan!

Volmaan