19 Augustus 2016. Vrydag.
![]() |
Kuyulu Bükü tot Keçi Bükü |
Ons is soos vlinders. Ons dartel van die een bükü na die ander. Die een so mooi soos die ander. En vandag is dit Keci Bükü, 36°45.532 N, 28°07.560 O, 4 myl, net aan die oorkant van die baai.
Ons gaan eers na Marti
Marina om diesel in te gooi en ons swart water te laat uitpomp. Toe gaan ons na
die baai waar ons wil anker. Dis hier waar ek verlede jaar die sirenes gehoor
het. Ons kry ’n geskikte plek en gooi sonder sukkel of stry. Dit byt pragtig en
ons is tuis.
Keçi Baai met sy beroemde sandbank |
Die pragtige baai is bekend vir die sandbank wat die baai in twee deel. Toeriste van heinde en verre kom om op die sandbank te loop. Dan loop jy tot vêr in die baai in enkeldiepte water. Heeldag loop die toeriste heen en weer.
Sandbank lopers |
"Star Walk" |
Wel, as dit is wat mens hier moet doen, wie is ons om te stry! So, ons saal vir Dinkie op met haar motor en daar trek ons. Ons loop saam met die res op die sandbank, soos ware toeriste.
Archie |
Ekke |
Die aand is die baai soos ’n bad water. Daar is nie ’n windrimpel nie. Die aand glim in die glans van die maan. Die ligte weerkaats in die water.
Weerkaatsing |
Ek leef in ’n borrel van windlose geluk.
No comments:
Post a Comment