Friday, August 19, 2016

Kuruca Küyü.


17Augustus 2016. Woensdag. 

Datça tot Kuraca Bükü


Ons yskas is weer vol. Ons het groente, vrugte en lamsvleis. Heerlike geelperskes, vars vye, swart druiwe en piesangs. My mond water al klaar. Danksy Datça se supermarkte. Ons trek anker op en laat spaander na Kuruca Küyü, 36°45.324 N, 27°53.804 O, 11.9 myl.

Ons sien weer vir Symi, wat sommer naby is. Ons kan vandag selfs die dorpie sien. Ai, waar is Elize nou!

Oral is seiljagte en gullets op die water. Dis heerlik warm en Gus waai nie. Dis nou my tipe weer. Die berge staan trots regop al langs die kus. Almal met hulle voete in die see. Turkye is pragtig. 


Op pad

Ons vaar die baai binne en dit is vol jagte. Is daar ooit plek vir ons? Ons vaar nader en kry ’n sandkol en ons gooi anker. En hy byt behoorlik. Sommige jagte is naby mekaar, want hierdie is ’n gewilde vakansieplek. 

Kuruca Baai

Ons roei met Dinkie land toe en gaan stap in die hitte rond. Oral is Turke wat piekniek hou, in die see swem en net luilekker langs die see sit. Hierdie mense is lief vir die see. Regte watermense.

Mooi wandelpad
Watermense
Ankerplek
Kuruca Baai

Terug by Maja, verkyk ons aan die prag van die kleurespel van dag wat stelselmatig  aand word. Met ’n bonus – dis volmaan!

Volmaan


No comments:

Post a Comment